McLaren 570s Spider rek sy bene

mclaren 570s spider,manskap
Foto: Warren Wilson

Daar is min dinge in die lewe wat ʼn blywende indruk op jou laat… Sommige dinge is hartseer, ander bring geluk. Maar die feit dat iets jou bybly sê baie van die grootheid van die geleentheid of ervaring. Goed of sleg, as iets ʼn indruk op jou laat is dit moeilik om die gedagte uit jou sisteem te kry.

Die McLaren 570s Spider is ʼn kar wat ʼn onwrikbare indruk op my gelaat het. Nie omdat dit vinnig is en die ontwerp van ʼn slaapkamer plakkaat het nie, maar omdat die pakket in die geheel saam kom om een van die rouste, mees gehardste karre in Suid-Afrika te vorm. En nog meer, al is hierdie kar die “intree-vlak” McLaren wat mens tans in SA kan koop, bied dit verrigting wat supermotors goed opdraende kan gee.

Die nommers

Wanneer mens na die 570s Spider kyk, is dit maklik om aan te neem dat hierdie kar besonders vinnig is. Dit mag dalk nie as ʼn skok kom nie, maar dit is. Al is dit die kleinste kar in die McLaren reeks, kan die Spider met die beste hardloop wat die motorwêreld te bied het. Krag word aangevuur deur ʼn turbo-aangejaagde 3.8-liter V8 petrol enjin wat – maak jou gereed – 419kW en 600Nm ontwikkel. Dis ʼn klomp krag, maar die toepassing daarvan is verstommend. Én daar is amper geen vertraging wanneer die turbo’s inskop nie.

Die 570s, deel van McLaren se Sport Series, is die opvolger van die 650s, wat, op sy beurt, die opvolger van die legendariese MP4-12C was. So dis dan net gepas dat beide die hardedak 570s én die Spider verrigting bied wat by die ontwerp pas. En dis hiér dat dinge jou oë sal laat rek.

Met twee passasiers aanboord en die petroltenk vol weeg die kar ʼn skamele 1 500kg, wat beteken dat die 0-100km/h lopie in slegs 3.2 sekondes geskied. En ses sekondes later suiker jy verby 200km/h! Dis belaglik hoe maklik dit is om hierdie snelhede te bereik, maar daar was geen manier dat McLaren se bewering dat die motor ʼn topspoed van 328km/h het op die proef gestel sou word nie. Net… nee. Die kar is maar net 1.2 meter hoog, maar dis die grondvryhoogte van 93mm wat jou senuwees aan vlarde sal hê.

Terwyl mens stadig jou weg oor spoedwalle probeer vind, is dit maklik om verkeer op te hou en dan padverbruikers te kry wat soms onrustig kan raak vir jou slakkepas. Maar genadiglik was die Waterfront se inwoners heel verstaanbaar en inskiklik om ʼn paar ekstra sekondes te wag. (Dankie, vriendelike mense van Kaapstad!)

mclaren 570s spider,manskap
Foto: Warren Wilson

Klim bietjie in

Toegang tot die kajuit word verkry deur, wat McLaren noem, die “dihedral doors” oop te maak. In ʼn egalige beweging skiet die deure opwaarts om die binneruim te ontbloot. Maar die deure is nie net vir skou nie, nee. Wanneer dit toe en die kar aan’t beweeg is, kanaliseer dit die lug na die verkoelers deur openinge wat in die deure aangebring is.

Klim in en onmiddellik tel mens op dat die paneelvesel bad wat as tuiste vir die binneruim dien, anders is as die een wat in die 650s en MP4-12C diens gedoen het. Dis omdat dit die tweede-generasie van hierdie MonoCell is; geontwerp om meer doeltreffend te wees en in- en uitklim te vergemaklik. Nie net dit nie, maar die totale gewig van hierdie bad is nét 75kg. Gly die oog oor die binneruim en die instrumente is goed geplaas en die gebruiklikheid daarvan is besonders maklik. Handgesteekte leer omring beide die bestuurder en passasier en in die middel van die sentrale konsole is ʼn sewe-duim raakskerm van waar mens verskeie funskies kan beheer; insluitend satellietnavigasie, jou selfoon se konneksie, en die binneruim se temperatuur.

Die kar het ʼn 12-luidspreker Bowers & Wilkins klankstelsel, maar die musiek was vir die hele bestuurservaring afgeskakel. Nie omdat daar nie iets was om na te luister nie, maar omdat die brullende V8 enjin agter die bestuurder méér as genoeg musiek op sy eie maak.

Op die oop pad, met die dak af en die spoednaald wat op 120km/h te ruste gekom het, kan insittendes maklik gesprek voer sonder om op mekaar te skree. Dit plaas ongetwyfeld lig op die vorderinge van super sportsmotors wat kan dien as alledaagse vervoermiddelle. As mens dit so verkies om die dak op te wou hê, sal dit met die druk van ʼn knop in 14 sekondes in posisie kom. En mens kan dit doen tot en met ʼn spoed van 40km/h.

mclaren 570s spider,manskap
Foto: Warren Wilson

Brullende V8

Alhoewel McLaren se 570s Spider gemaklik in die stad is – of so gemaklik soos ʼn behoorlike sportskar kan wees – sal dit nie tot sy reg in die betonwoud kom nie. Deur stadig aan te trot sal meer belonend vir toeskouers wees, maar op ʼn renbaan sal die kar tot sy reg kom en kan die eienaar/bestuurder dit behoorlik geniet. En as jy nie by ʼn resiesbaan kan uitkom nie, sal stil agterpaaie of ʼn bergpas net so goed wees. Buite die stad en weg van die besige verkeer af was die Spider reg om sy bene te rek. Ek wil ook graag net noem dat ek my woordeskat verbreed het, want dit het baie vinnig duidelik geword dat dit nie sommer ʼn gewone rytjie gaan wees nie…

Mens kan die kar se verstellings vir hantering en kragtoevoer in ʼnormal’, ‘sport’, en ‘track’ modusse sit, maar met hantering in normaal en kragtoevoer in sport bied dit blitsige verrigting sonder dat die vering té hard is. Die motor roer, vlieg deur die sewe-spoed outomatiese ratkas!

Dis aanloklik en opwindend soos die Pirelli P Zero bande om die draaie kleef. Die 570s Spider loots aanslag op aanslag op die horison soos die 3.8-litre enjin hartroerende klanke uitstoot en die klanke teen die heuwels weergalm; jou aanhuts om die kar se limiete te toets. Die vering, in sy sagste verstelling, behou steeds ʼn relatiewe fermheid vir bes moontlike dinamiese verrigting in ʼn reguit lyn en om ʼn draai. Stuurgevoel is lewendig tussen die bestuurder se hande soos kar, pad, en drywer as een kommunikeer. Ten spyte van al daardie krag wat slegs na die agterwiele gestuur word, help die posisionering van die enjin oor die agteras dat die agterkant nie handuit ruk nie.

Daar is nie einde aan hierdie McLaren 570s Spider nie. Dit bou momentum en spoed soos tien en voel dit of alles teen die spoed van lig gebeur. En wanneer die tyd aanbreek om halt aan verrigtinge te roep, bied die koolstof-keramiek remme ʼn magdom stopkrag om jou weer terug aarde toe te bring.

Bliksem! My vinnige hartklop vertel nie die volle storie nie.

Slotsom

Op pad terug na McLaren toe, teen normale snelhede, laat dit ruimte om oor die ervaring te dink. Dit is nie net ʼn kar nie, dis ʼn ondervinding. Dis ʼn simfonie van elemente wat saam kom vir ʼn oomblik se plesier wat ver beter is as dié wat die beste tuimeltrein in die Kaap jou kan bied. Dalk selfs Johannesburg, ook! Dis ʼn kar wat die siel roer met die op-en-wakker enjin wat sy klankvolle geluide by die uitlaatpype uit forseer. Die McLaren 570s Spider is nie net ʼn kar wat vir vinnige pret gebou is nie. Dis ontwerp vir byna ongeëwenaarde rygenot onderwyl dit die bestuurder na Motorhemel neem.

Die ervaring borrel nog in my en dit gaan vir ʼn tydjie so bruis.

mclaren 570s spider,manskap
Foto: Warren Wilson

7 Trackbacks / Pingbacks

  1. Bliksem, wat ʼn kar! | #AfrikaansePaartjie
  2. 2019
  3. cleantalkorg2.ru
  4. #macron #Lassalle
  5. a2019-2020
  6. facebook
  7. javsearch.mobi

Comments are closed.