Merc doen intree-vlak met C180 AMG

mercedes,mercedes-benz,c-klas,c-class,manskap,padtoets, road test,review,c180,amg,amg line
Foto: Charlen Raymond

Die Mercedes-Benz C-Klas was nog altyd die steunpilaar van dié Duitse motorvervaardiger se motors. Jaar in en jaar uit word daar ʼn magdom eenhede van die hand gesit en internasionaal kan Merc nie anders as om hierdie motor aan die voorpunt van alles te hou nie. Selfs hier in Suid-Afrika is daar nie enige tekorte aan dit wat die C-Klas bied nie en word ons omtrent bederf wanneer dit by die verskillende modelle kom.

Die opsies waarmee mens jou C-Klas kan verpersoonlik is amper legio, maar as ons nou eerlik moet wees dan betaal jy eintlik ʼn ledemaat of drie om effe anders te wees. Vir daardie gemoedsrus dat jou Mercedes anders as die volgende persoon sʼn is. Die man op die straat sal dit nie sommer sien en weet nie, maar jy doen. En jy het daardie sekerheid dat jou kar anders is.

Daar is niks fout daarmee nie, inteendeel. As mens jou motor kan verpersoonlik moet die geleentheid aangegryp word. Veral as jy hard gewerk het om te kom waar jy is, dan is dit net meer as reg dat jy jouself bederf. Maar hoe gemaak as die C180 AMG Line wat jy jou oog op het, so basies is dat jy letterlik moet diep grawe om enigsins ‘anders’ te wees?

AMG pakkie

Die C-Klas is sonder twyfel een van die beste motors wat jy kan koop. Die manier hoe alles byeen kom laat jou soos ʼn properse besigheidsman voel en juis daarom wil mens mos darem hê dat jou motor dit reflekteer. Hierdie Mercedes C180 AMG Line is aangetrek in Merc se aantreklike AMG Line pakket, wat insluit ʼn lekker aggresiewe voorkoms, effe wyer wielboë met luginlate, en swart 18-duim AMG wiele.

Dis ʼn mooi pakket en binne word dit voortgesit. Die sitplekke is in leer (opsioneel) oorgetrek, die panele is stewig aanmekaar gesit en met duursame materiale oorgetrek. Selfs agter is daar genoeg beenruimte vir insittendes. Saam met die goeie spasie is daar ook ʼn laairuimte van 480L, maar om die agterste sitplekke te laat sak is ʼn opsionele opsie wat mens ekstra voor moet betaal. Dit sal uiteraard die laairuim vergroot.

Ander opsionele ekstras vir die binneruim wat mens met jou C180 AMG Line kan bestel sluit in verhitting en verkoeling vir die voorste sitplekke, sowel as die geheue opsie om sitplek verstellings te stoor en elektriese verstelling. Selfs satelliet navigasie is ook ʼn opsie.

Mens kan verstaan dat om hierdie geriewe standaard op die kar te hê die prys sal opstoot, maar as die beginprys R636 169 is, dan kan dit jou ʼn bietjie laat frons.

mercedes,mercedes-benz,c-klas,c-class,manskap,padtoets, road test,review,c180,amg,amg line
Foto: Charlen Raymond

Enjin & rit

Hierdie C180 AMG Line word deur Mercedes-Benz se turboaangejaagde 1.6-liter petrol enjin aangevuur wat 115kW en 250Nm ontwikkel. Die wringkrag is al van ʼn baie vroeë 1 200rpm beskikbaar en vergemaklik dit enige lang rit wat mens aanpak. ʼn Ligte druk van die versneller en mens skiet vorentoe sonder moeite. ʼn Nege-spoed outomatiese ratkas kanaliseer krag na die agterwiele en kan mens van rat verwissel met die spane wat agter die stuurwiel gemonteer is. Daar is ʼn bietjie van ʼn vertraging wanneer mens met die ratte tokkel, maar vir die meerderheid van die kere word die regte rat gehak.

Mercedes-Benz voer aan dat hierdie enjin ʼn gemiddelde petrolverbruik van 6.5 L/100km het, maar na afloop van die toetsperiode was dit rondom 9.5 L/100km; wat meer van ʼn realistiese weerspiëling is. Op die oop pad het die verbruik darem tot rondom die 8.0 L/100km-merk gedaal, maar in die stad het dit geklim.

Van agter die stuur kry mens daardie versekerde gevoel dat jy nou ʼn Merc ry. Stuurgevoel is sekuur, padgedrag voor in die koor, en die gemak waarmee die kar die kilometers insluk is goed. Maar op hoë snelhede is daar windgeraas wat hul weg tot in die kajuit baan. Dit steur nie te veel nie, maar ek het op ʼn paar geleenthede seker gemaak dat ʼn venster nie op ʼn skrefie oop is nie. Dis nie iets wat mens van Mercedes-Benz verwag nie, en al is dit die intree-vlak C180 beteken dit nié dat dit verskoon kan word nie.

Daar is ʼn sekere verwagting wanneer mens met sommige motorvervaardigers gekonfronteer word. Jy weet wat om te verwag en by ander weet jy wat jy op verwagte kan wees. En té veel windgeraas op ʼn Mercedes is nie iets wat jy verwag nie. Dalk kan dit toegeskryf word aan die lae profiel bande, maar dan moet klankdemping opgeknap word. Ons paaie is mos nie so glad soos Europa sʼn nie, of hoe?

mercedes,mercedes-benz,c-klas,c-class,manskap,padtoets, road test,review,c180,amg,amg line
Foto: Charlen Raymond

Tegnologie

Ons het reeds aan die C180 AMG Line se prys geraak en baie sal daarna kyk as astronomies. En tog, vir sommige sal dit nie ʼn probleem wees nie, maar vir ander, wat eers die kat goed uit die boom bekyk, sal dit nie sin maak nie.

Vir oor die R636k sal mens verwag dat daar ʼn paar elektroniese goedjies tot die pakket gevoeg moet word om jou lewe te vergemaklik, maar sleutellose toegang en –aanskakel is nie standaard nie, ook nie parkeergonsers en ʼn tru-kamera nie. Die kantspieëls vou darem toe wanneer mens die motor sluit, maar dis ʼn opsie wat op dié toetsmodel gevoeg was. Blindekol-gonsers is opsioneel beskikbaar, en die kattebak moet met die hand toegemaak word. Die sitplekke word ook met die hand verstel.

Ander vervaardigers – nie noodwendig ouens wat teen die C-Klas kompeteer nie – sluit van hierdie tegnologieë standaard by hul motors in en betaal mens ook nie die prys van hierdie kar nie. Dis moeilik om die C180 AMG Line te regverdig. Dis ʼn lekker kar en dit ry fantasies; daarmee gaan ek nie stry nie, maar mens betaal net té veel vir ʼn naam.

Slotsom

Die C180 AMG Line is nie noodwendig Mercedes-Benz se beste oomblik nie en is dit bietjie moeilik om die pakket te regverdig. Daar is goeie punte om van te praat, maar dis in die mindere. Veral as mens die motor in die geheel bekyk. As Mercedes-Benz, en ook ʼn paar ander (Duitse) vervaardigers, net wil leer om nie die publiek vir elke sent te tap nie, sal hul motors baie beter waarde vir geld bied.

Want God weet, mens hoef nie so desperaat vir ʼn bietjie individualisme te wees nie.

mercedes,mercedes-benz,c-klas,c-class,manskap,padtoets, road test,review,c180,amg,amg line
Foto: Charlen Raymond