Merc E43 AMG die logiese keuse

mercedes e43 amg
Foto: Charlen Raymond

AMGs is veronderstel om rof te wees en ʼn gevoel van vrees te ontlok wanneer mens agter die stuur inskuif. Dit mag wel die geval wees, maar nie alle bestuurders is gretig om die vulsels uit hul tande te skud óf dat die brullende V8 enjin hul nekwerwels aan flarde ruk nie.

Mercedes-Benz het dit besef en sedert ʼn paar jaar terug het die vervaardiger AMG modelle begin uitstoot wat glad nie so intens is nie. Modelle wat die 43 naamplaatjie dra. Maar hierdie modelle moet sonder ʼn kragtige V8 enjin klaar kom en word deur ʼn bi-turbo V6 enjin aangevuur. Nietemin, die E-Klas was ook aan die ontvangkant van die 43 behandeling en het die motor ʼn goeie dosis karakter om te verander wat ons van AMG voertuie kom verwag het. Dis nog al die pad ʼn E-Klas, maar die produk is omtrent anders. Nogal baie.

Stu voort

Die aspek van hierdie kar waarop meeste mense ʼn antwoord wil hê is ongetwyfeld hoe dit ry. Ry dit soos ʼn AMG behoort te ry? Skreeu dit blou moord soos jy die toere klim? Kom dit met daardie teenwoordigheid op die pad wat maak dat bystanders staar en fluit? In kort, ja. Maar ook nee.

Krag word na al vier wiele gestuur, wat beteken dat daar is goeie traksie soos mens die kar se limiete beproef. Die balans op hierdie kar is so goed dat daar amper geen stuurtraagheid is nie. Die suspensie is tipies E-Klas en selfs in die fermste ritmodus (Sport+) voel dit nie ongemaklik nie. Dis ʼn plus vir enige AMG. Stuurgevoel is ook nie swaar nie, maar ook nie lig tot op die punt dat dit geen gevoel het nie. En daarop moet mens vir Merc op die skouer klop.

Die V6 enjin is dieselfde eenheid wat in die C43 AMG en GLE43 AMG diens doen, maar kragvlakke is opgestoot tot by 295kW en 520Nm. Dis omtrent baie spiere daai, maar dis glad nie moeilik om al daardie krag te beheer nie. In alle ritmodusse pas die kar die manier hoe krag na die pad gestuur word aan, maar in Sport+ word alles losgelaat. Die vierwiel-stelsel help om die krag beter te beheer, maar in hierdie modus is daar ʼn lewendigheid tot die motor. Alles is meer direk en soms kan die skielike kragtoevoer die onverwagte bestuurder onkant betrap.

Dis ʼn helse ondervinding, maar die lae-profiel bande het ʼn negatiewe impak op ritgehalte. Op ongelyke paaie, en selfs met die ritmodus in Comfort, voel dit of elke hop en skud die binneruim infiltreer. En die klank van die uitlaatpype, alhoewel diep en volwasse, klink net nie so lekker soos, byvoorbeeld, die C43 AMG nie. ʼn AMG moet hard klink om sy aankoms en teenwoordigheid aan te kondig, maar die E43 AMG doen dit nie. Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat jou gemiddelde E-Klas bestuurder nie al die geluide en klappers wil hê nie, so Merc kan op hierdie ene vergewe word.

C-Klas? Waar?

Dis regtig imponerend, hierdie kar. Dit kondig sy aankoms aan sonder om te gil. Bystanders, hetsy voetgangers of ander padverbruikers, almal vestig hul oë op die kar. Vanaf die groot rooster voor op die neus, verby die 20-duim wiele, tot agter waar die uitlaatpype lê en wag; die kar lyk verskriklik lekker. En gooi die feit dat hierdie besigheidsklas op sy beste is ook in die mandjie, en mens sit met ʼn kar wat bykans volledig is.

Maar die kontras is dat die binneruim sterk aan die C-Klas herinner. Spesifiek die C43 AMG. Die middelkonsole word met die genoemde model gedeel en daar is net nie enigiets spesiaals omtrent dit nie. Mens wil mos voel dat jy die knoppies van een van Merc se beste karre druk. Ja, dit is seker vir enigheid onder Mercedes-Benz se 43 modelle, maar die E-Klas moet mos darem spesiaal wees. Maar dan maak die verskille hul opwagting. Die informasie kluster voor die bestuurder kan aangepas word om in sy/haar smaak te val. Maar beste van alles, mens kan maklik deur al die verstellings blaai via die sag-raak knoppies op die stuurwiel.

Ander funksies wat standaard op die E43 AMG is sluit in aanpasbare spoedbeheer, sitplekke met ingeboude ingeheue en verwarmers, outomatiese ruitveërs, en ʼn elektroniese oop en toevou funskie vir die kattebak. ʼn Kwelpunt is wanneer jy die kattebak toemaak, klap dit toe in plaas van saggies toe suig. Dit word regtig nie van ʼn voertuig in hierdie klas en kaliber verwag nie.

Slotsom

Mercedes-Benz het die dobbelstene gerol toe hulle die 43 modelle na die mark gebring het, maar dis ʼn reeks wat dit regkry om die gerief van die standaard modelle met die rowwe natuur van die V8 modelle te vermeng. En dan kom dit saam in ʼn kar, soos die E43, wat mens laat besef dat dit moontlik die beste E-Klas is wat jy kan koop. Afgesien van ʼn paar kwessies met die binneruim en ʼn kattebak wat sy toemaak aankondig, bevat hierdie kar omtrent alles wat jy ooit van ʼn E-Klas kan verwag. Die AMG model met die V8 enjin het ongetwyfeld ʼn imponerende persoonlikheid, maar hierdie kar bring logika na vore.

As ʼn familie kar bied dit meer as genoeg gemak en gerief, en as ʼn masjien om ʼn bergpas op ʼn Sondagoggend mee aan te durf, dan kan die kar dit óók doen. Die E43 AMG ly nie aan middelkind-sindroom nie. Inteendeel, dit is die kind waarom jy die meeste sal kloek.