Merc S500 Cabriolet ‘n geskenk van bo

mercedes-benz s500 cabriolet
Foto: Warren Wilson

Soos meeste mense weet is die S-Klas Mercedes-Benz se beste voertuig. In terme van algehele verfyndheid en luuksheid klop dit die kompetisie loshande. Daar word selfs luidkeels uitbasuin dat dit ‘n beter kar as die BMW 7 Reeks en Audi A8 is.

Maar Mercedes het besluit om die sluise op sy S500 sedan oop te draai deur die twee agterdeure te verwyder en ‘n lapdak op te plak – laasgenoemde vou knus tussen die knap laairuim en agterste sitplekke. By die agterste kopstutte en by die voorruit is twee wind-afweerders gevoeg wat die kajuit so stil as moontlik maak met die lapdak op of af. En net om ‘n bietjie uit te staan is die motor se prys ook verhoog. Dis reg: hierdie kar kos ‘n koel R2.3-miljoen – R500k méér as die sedan-gelyke! Dis baie geld, maar die pakket is so na aan perfek dat mens dit amper kan vergewe. Amper.

Kragtige V8

In die ou dae het die 500 in die S-Klas se naam beteken dat daar ‘n groot 5.0-liter V8 onder die enjinkap skuil, maar deesdae is daardie enjin deur ‘n 4.7-liter V8 vervang. Maar moenie dink omdat dit ‘n kleiner enjin is dat kragvlakke ook nou laer is nie. O nee! Danksy turboaanjaging staan piekkrag op ‘n baie gesonde 335kW en 700Nm (beskikbaar teen so laag as 1500rpm). En ja, al daai krag kan verslawend wees.

Mens sou ook aanneem dat met 335kW/700Nm dit byna onmoontik sal wees om ‘n kalm rit in hierdie kar te kan geniet, maar dis alles behalwe wat mens van só ‘n kragtige wa sal verwag. Dog sterk en vol impak, laat die enjin nooit al sy krag op een slag op die bestuurder los nie. Dit voel eerder of dit in mates toegedien word; afhangend van hoe diep die versneller getrap word. Ongeag hoe goed hierdie S500 Cabriolet is, is die kar se grootste positief die manier hoe dit op die pad hanteer. Hoe dit al daardie krag na die pad stuur, hoe dit insittendes vervoer, en hoe die pakket om die vier passasiers vou. Daar is ‘n elegansie in die manier wat die kar die pad aanvat, maar dit oordonder nie die bestuursondervinding nie. Die voel konstant eerste klas en die kragtoevoer bly seepglad en elegant; as dit so beskryf kan word.

Om die gladde enjin se manier van dinge doen te ondersteun, is die kar toegerus met ‘n suspensie wat dalk geen gelyke het nie. Deur al hul kennis en ondervinding in die mandjie te gooi het Mercedes-Benz dit reggekry om die kar op ‘n manier te laat ry wat alle verstand te bowe gaan. Die kar sweef oor die pad. Dit voel letterlik of mens op ‘n bed van watte ry; ‘n bed van wolke.

Luukse binneruim

Die ondervinding, hetsy van agter die stuur of vanuit een van die ander sitplekke, laat mens byna goddelik voel. Nie omdat jy in een van die wêreld se beste voertuie sit nie, maar omdat die kar se binneruim sy insittendes so spesiaal laat voel. Waar ookal jou oë val is die binneruim besmet met luuksheid en hoë-kwailiteit leer. Dit voel God-gegewe, hierdie kajuit, en die aandag aan detail vertoon dit. Die voorste sitplekke, byvoorbeeld, is toegerus met beide verkoelers en verhitters, sowel as Merc se air-scarf – luginlate in die koprus wat warm lug in jou nek blaas. En wanneer die stuurwiel gedraai word, bied die voorste sitplekke laterale ondersteuning.

Die deure, wanneer dit nie stewig toegemaak is nie, suig vanself toe. Wat wel pla is dat hierdie funksie nie op die kattebak toegepas is nie. Wanneer mens die knoppie druk vir die bak om elektronies te sluit, klap dit toe in plaas van die sagte, geluidlose toe suig van die deure. Nog ‘n bietjie kritiek is die deurskynende, plastiek hefboompie op die deksel wat die voorste bekerhouers bedek. Dit voel soos ‘n nagedagte en onnodig.

Gedurende die toetsperiode het ‘n kollega genoem dat die S500 Cabriolet “God se geskenk aan die mensdom” is. Dis omdat die kar sy ding op so ‘n goeie manier doen. Van die oomblik dat mens een word met die sitplekke tot die oorvloed luuksheid in die binneruim, tot die elegante manier hoe die kar op die horison afpyl… dit is die ideale definisie van wat menslik moontlik is wanneer daar werklik probeer word om een van die wêreld se beste karre te bou.

1 Trackback / Pingback

  1. GERY: Splinternuwe Mercedes A-Klas | Manskap

Comments are closed.