Merc toets vol-elektriese SUV in SA

Manskap,mercedes-benz,mercedes,eqc,electric vehicle,electric suv,mercedes-benz eqc,testing in south africa,gerotek,
Foto: Mercedes-Benz SA

Mercedes-Benz was vir die laaste paar dae hard besig om sy ‘EQC’ in die land te toets en te sien hoe hierdie SUV in die werklikheid en in werklike weersomstandighede perform. Wag, jammer, ek span nou die kar voor die perde. ‘Skuus tog, mense. Kom ons begin by die begin.

Die wêreld beweeg mos baie vinnig in ʼn elektriese rigting en spring al wat ʼn vervaardiger op die wa om óók ʼn elektriese voertuig in sy stal te hê. Of daardie voertuig nou ʼn luikrûg, sedan, of SUV is, almal pas hulself by die veranderende tye aan. Mercedes-Benz ingesluit.

Dié Duitse vervaardiger was nou onlangs vir ʼn paar dae in die land om sy nuwe EQC te toets. ʼn Vol-elektriese SUV wat die aanslag van die Afrika-son moet weerstaan. Hoekom? Want die SUV gaan amptelik iewers in die tweede helfte van 2019 hier te koop wees.

Manskap,mercedes-benz,mercedes,eqc,electric vehicle,electric suv,mercedes-benz eqc,testing in south africa,gerotek,
Foto: Mercedes-Benz SA

Die toetsprogram

Die EQC was onder andere in Finland, Duitsland, Dubai en China ook getoets en is Suid-Afrika een van die laaste stoppe op die program. Ons land is nie onbekend aan vervaardigers as toetsgrond nie, agv ons warm klimaat en temperature wat maklik tot by 50°C kan styg. Daarom, dan, dat die EQC verskeie toetse op Gerotek ondergaan het om seker te maak dat die voertuig hier kan oorleef.

Mercedes-Benz sê dat hulle veral aandag gegee het aan lugreëling en herlaaïng, sowel as aan hoe die elektriese battery, die dryfstelsel, en ander elektronika in ekstreme hitte afkoel. Hoe dié goed werk is blykbaar baie anders as met jou gewone motor. Die elektriese battery was veral onder oë gebring, want in ekstreme hitte kan die battery beskadig word en Merc wil dit probeer afweer. In die koue verloor die battery krag, daarom dat Mercedes-Benz in Finland gaan toets het om die afloop te probeer beperk.

Na afloop van vier jaar se ontwikkeling tot waar die motor nou is, en blootstelling aan temperature wat wissel tussen -50°C en 50°C, is die EQC amper-amper gereed om in produksie te gaan. Pryse moet nog vasgestel word, maar weet maar dat dit so aan die R2-miljoen sal raak. Jaguar se I-Pace, ook ʼn vol-elektriese SUV, word vandag in SA geloods en hierdie SUV sal vanaf bietjie minder as R1.7m te koop wees. En Audi se E-Tron is óók op pad!

Ons moet maar hoop dat Eskom reg is vir hulle.

Manskap,mercedes-benz,mercedes,eqc,electric vehicle,electric suv,mercedes-benz eqc,testing in south africa,gerotek,
Foto: Mercedes-Benz SA