Met wye draaie en passe terug huis toe

suzuki swift,swift,suzuki,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Toe gee Suzuki mos vir my die nuwe Swift 1.2 GL vir ʼn volle week om foto’s van te neem en dit as my primêre wiele te gebruik. Dit was lekker om ʼn nuwe karretjie met skaars 5 000km op die klok éérder as my MK1 te ry. Dit het nog daai nuwe reuk gehad en alles! Oh, en dit was rooi; nes die liefde diep binnekant my.

Oor die naweek wat ek die kar het stel ek my alarm om vroeg die Sondagoggend in die pad te val. My plan: arriveer om 07h00 by Universiteit Kaapstad se hoofingang en neem ʼn foto of drie met die bekende trappe as agtergrond. Ek moet sê, daar het nogals heelwat studente nader gestap om te wil uitvis oor hierdie kar. Verbeel jou! Studente, vroeg uit die vere! Maar nou wat ek daaraan dink… miskien was hulle op pad kooi toe na ʼn aandjie se gekuier. Ons almal weet mos hoe dit gaan…

Ek het daai sessie omtrent geniet en die foto’s lyk toe beter as wat ek verwag het. Maar hoe langer ek foto’s neem, hoe meer lyk dit die kar flirt met my. Soos een van daai kat memes op die internet sê die kar: “Kom ons ry, man!” Maar waarna toe? “Kom ons ry net…” Danksy goeie ekonomie (4.9 L/100km) was daar oorgenoeg voggies in die tenk en het ek na die kar se gefluister geluister.

suzuki swift,swift,suzuki,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Boland toe!

Ek en die rooi Suzuki klim toe op die N1 en ek besin oor ʼn roete en waarheen ek kan gaan. Wat van, wonder ek, ry oor Du Toits Kloof pas, eet dan ietsie (klein) in Worcester, en kom oor Bainskloof Pas terug Kaap toe. Yes, dit kan werk, en ek bel ʼn ou maat van my en sê dat ek na afloop van my getoer by hom in Paarl ʼn draai sal kom maak. Nee wat, sonder om te dink is hy ook “in soos Gin”, soos ek altyd sê.

Sjoe, maar daai Swift het ʼn smooth upshift deur die ratte tot by by die spoed limiet. Daar is ʼn bietjie windgeraas, maar ek draai die radio effens harder om dit te verdoof. En ai tog, op hierdie bewolkde Sondag lyk dit al die plaaslike radiostasies speel lekker slow jams. Lyk my hulle wil mens in die huis hou vir daai binne-boud lê. Ha! Nee wat, dink ek. Ek en die Suzuki Swift het vandag lus vir ry in plaas van vry.

In Paarl, voor Kallie* se huis, gee ek ʼn toet of twee. Dis bleddie koud en dié plek raak mos hoeka so ysig in die winter. Kallie trek sy kar uit – ʼn 2015 Volkwagen Golf 7 GTi – want vandag het hy het óók lus vir ry. Voor ek nog my twee sent in die bordjie kan gooi word gesê dat ek vandag die pace aangee. Jisou, dis mos eintlik ʼn baie subtiele belediging, maar aan die anderkant ook goed, want ek en my ou Suzuki sal mos nooit sy pas kan byhou nie.

LEES: Rateltaai Jimny is terug!

Voor ons die pad met ons wiele troos, besluit ek dat ek goed gatvol is van die slow jams en skakel toe eerder oor na die heavy metal op my foon. Ai, maar toe sukkel ek darem om my selfoon met die kar se Bluetooth te konnekteer. Doen ek iets verkeerd of wil die radio se love jams my iets sê? Na ʼn paar minute se gesukkel kry ek dit darem reg; nou kan ek darem effens head bang.

Ons vertrek toe uit Paarl oor Du Toits Kloof pas.Die pad is doodstil en ek sit voet neer om die steiltes uit te klim. Ek moet gereeld ʼn laer rat haak: 3de dan 2de en weer 3de rat. Heeltyd. Krag is maar skraal. Die 1.2-liter enjin skop 61kW en wringkrag van 113Nm uit. Die GTi hou maar vêr agter, so asof Kallie se voete juk om verby te kom en die pad te tackle.

Uiteindelik is ons bo-op die pas en die draaie voel toe sommer weer prettig met die sak. Ligte stuurgvoel, sagte rit, ʼn gladde ratkas, en gemaklike sitplekke maak dinge gerieflik vir so ʼn vroegoggend cruise. Ons trek vinnig af vir ʼn paar foto’s en snert gesels voor ons weer in die pad val. Sug, daar kak die Bluetooth weer af; lyk die mediastelsel reset homself wanneer mens die kar afskakel.

Hoe nou?! Asb nie weer love songs nie! Ek sit toe sommer die radio heeltemal af. Ja wat, die enjin en exhaust note klink nie soos iets nie en die wind asof dit êrens binnekant die kar wil jol. Maar liewers dit as nog ʼn liedjie wat vir my vertel hoe lief ʼn jong vir sy meisie is.

suzuki swift,swift,suzuki,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Té min ure in ʼn dag

Ons land toe in Worcester by ʼn eetplek wat bekend is vir hul burgers en steaks. Ontbyt lyk nie meer na ʼn opsie en ons albei stem in vir hul speciality burgers. ʼn “Ietsie klein” raak toe ʼn groot iets vreet. Ons kelnerin begin vir Kallie ogies maak as gevolg van sy mooi maniere – en met mooi maniere bedoel ek dat hy mooi gevra het of dit moontlik is om hierdie tyd van die oggend ʼn bier te bestel. Of hy nou ʼn grap gemaak het of nie, haar antwoord was ʼn vriendelike “nee”. Nie te min, man-man net ʼn Coke, asb.

Terwyl ons daar sit en gesels besef ons dat Saggy Stone net hier anderkant sit. Hulle vervaardig craft bier en dis naby genoeg vir ons om soontoe toe ry. Dié bier is maar skaars in die Kaap, so siende dat ons hier is kan ons die plaaslike toerisme ondersteun en die kopie huis toe neem. Daar gekom bestel ons elkeen vir ons ʼn sap, verken ʼn bietjie die brouery, en vat dan weer die pad huis toe. Die son begin ook al water trek, so Bainskloof sal nou nie meer gebeur nie. Plus, Kallie wil 17h00 by die huis wees om sokker te kyk.

Op pad huis toe besef ek hoe lekker dié kar eintlik is. Dit spreek tot daai “ inklim en ry” gevoel wat gereeld my kant toe kom. Daar is ʼn paar punte wat kwel soos die windgeraas teen hoë snelhede, die goedkoop plastiek, die enjin wat so nou en dan teen ʼn steilte sukkel, en die Bluetooth wat net skielik vrek… Ja, dit pla, maar dis klein goed wat jou nie sommer sal ontstel nie.

Na ʼn trip van meer as 300km kan ek sê dat die Suzuki Swift vir daai inklim en ry oomblikke gemaak is. En wanneer jy ry, stop net eers by die winkel om vir jou ʼn aux kabel te koop!

*Bynaam

suzuki swift,swift,suzuki,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson