Modder-geveg in die Isuzu KB!

Isuzu KB
Foto: Deidre Zimri

Daar is baie maniere hoe mens jou Saterdag kan omkry. Dalk langs die rugbyveld as toeskouer. Dalk in die cinema waar jy vir twee ure lank jou boude doodsit. Of selfs op straat nadat jy en jou beter-helfte mekaar ingevlieg het! Kom ons hoop die laaste is nie die geval nie…

Nietemin, hier iewers in Oktober het dieselfde predikament my te beurt geval toe die Isuzu KB 300 DTEQ LX 4×4 kom kuier het. “Wat doen mens hierdie naweek,” het ek myself afgevra, drie sekondes voor die volgende gedagte oor my lippe preuwel: off-road!

‘n Teer sakie

Met intense afwagting vir Saterdag om aan te breek, is die spanning tasbaar soos die opgewondenheid in my oë blink. Hier sit ek, met ‘n bloedrooi 4×4, en dit voel die dae is doelbewus langer. ‘n Amperse asprisheid aan Vader Tyd se kant. So vir eers moet die KB maar op die teerpad bly.

Mens is amper van meet af bewus dat die KB ouer as sy kompetisie is. Die rit is minder sag as, byvoorbeeld, die Ford Ranger en Mitsubishi Triton s’n en versnelling geskied ook baie rustiger. Ratskakeling is ook meer meganies. Tog kry mens die gevoel dat die Isuzu KB nog bakkie is. Daai rof en ongetemde bakkie wat vashou aan sy wortels. Waar ander bakkies se aanslag deesdae meer leefstyl georiënteerd is, is die KB nog onvoorwaardelik bakkie.

Hierdie model, wat die Crew Cab heet, is darem met satelliet navigasie en spoedbeheer toegerus, sowel as ‘n mediastelsel wat met ‘n raakskerm werk. Dit alles help om die rit so gemaklik moontlik te maak.

Isuzu gaan binne die volgende paar jaar hul nuwe KB bekendstel en behoort die bakkie dan weer met die Ranger, Triton en Toyota Hilux te kan hardloop.

Bos toe!

Eindelik breek die groot dag aan. Dit voel kompleet soos 7 Oktober 2017 toe die Bokkie die All Blacks op Nuweland getakel het. Daardie tipe gevoel bruis en borrel hier in my binneste. Vandag skop ek modder op! Net so duskant Melkbosstrand bevind ek my op ‘n roete. Dis nie moeilik nie, maar dit kan ook nie onderskat word nie. Heelwat sanderigheid maak die eerste gedeelte van die roete uit, waar die tweede homself toespits tot klim en klouter; soos ‘n klipbok.

Die Isuzu KB was ‘n paar jaar terug een van die eerste bakkies waar mens die vierwiel-stelsel met ‘n draaiknop kon aktiveer. Daarna het alhoemeer bakkie vervaardigers dieselfde roete gevolg. Mens kan met die draaiknop tussen gewone 4×2, 4×4 hoë strek, en 4×4 laestrek wissel. Met die bande afgeblaas tot omtrent so 1kpa en traksiebeheer gedeaktiveer, is ons reg om die baan aan te durf. Om te verseker dat die KB nie in die sand vasval nie, spring ons weg in 4x4L en die vyf-spoed handratkas in derde rat.

Sonder moeite kruip die KB voort en voel dit die bakkie seil oor die sand. Jis, maar dis lekker! Die baan draai en konkel en by tye voel dit kompleet of die los sand die oorhand gaan kry. Maar lieg-sê! Nie hierdie KB nie; nie vandag nie. Daar is geen limiet op hoeveel keer mens gedurende die dag die sanderigheid of enige gedeelte van die baan mag aandurf nie, maar na die eerste rondte was die bakkie baie gemaklik om in 4x4H deur die sand te gaan. Geen probleem.

‘n Lang maag

Die volgende hindernis is ‘n mengelmoes van heuwels, steiltes en los sand. Sekerlik die mees uitdagendste gedeelte van die roete, sowel as die seksie wat my die opgewondenste het. Hier móét mens 4x4L met derde rat gebruik; net om te verseker dat die 3.0-liter enjin (130kW/380Nm) nie ooreis en die koppelaar nie uitbrand nie. O ja, en die agterste ewenaarslot is ook geaktiveer!

Weer is die KB op sy stukke en verras dit met elke klim en klouter van die heuwels. Maar, omdat dit ‘n bakkie is, beteken dit dat die lengte van die voertuig by sommige heuwels ‘n probleem kan wees. Bedoelende, dit kan so ‘n bietjie (baie) skraap wanneer mens oor ‘n heuwel se mik gaan. Die geheim, natuurlik, is om nie spoed te breek nie en die momentum aan die gang te hou. Skraap of te not. Mens moet oor, anders kan jy maar op die heuweltjie piekniek met albei asse wat in die lig hang.

Aan die einde van die dag het die Isuzu KB homself bewys as ‘n bakkie wat nog kan. ‘n Bakkie wat, afgesien van sy ouderdom, nog die toetse van die bakkie-wêreld kan weerstaan. Die ander bakkies waarteen die KB kompeteer ry ongetwyfeld beter, lekkerder en sagter, maar wanneer dit by die rowwe dinge kom, is hierdie Isuzu nét so bevoegd soos die res. Wat ‘n Saterdag!

Baie beter as om op straat te sit…