Mr Bean se Mini leef voort in Clubman JCW

Mini Clubman JCW
Foto: Charlen Raymond

Onthou julle nog daai klassieke televisie program oor daai lang, simpel man so lomp soos ʼn hond op narkose?Dis reg, ek praat van Mr Bean: die Ingelsman met die woordeskat wat net die woord “Bean” dek.

Maar wat Mr Bean gery het was daai klein, groen Mini. Die kar wat hy na elke denkbare bestemming en geleentheid mee gegaan het, met sy aan-af meisie so af en toe langs hom. Daai groen Mini het ʼn legende geword en dit het karakter aan die program verleen. Waar ookal Mr Bean homself sou bevind is die kanse goed dat die klein Mini nie ver agter sou wees nie.

Die program, ongelukkig, is nou iets van die verlede, maar die gedagte van Mr Bean en sy groen Mini leef steeds voort. Én dit leef voort in Mini se produkte wat vandag beskikbaar is, soos hierdie Clubman JCW (John Cooper Works).

Rooi met swart strepe

Die Clubman JCW het ʼn innemende ontwerp omtrent, maar nie almal sal daarvan hou nie. Veral daardie groot kopligte wat ʼn bietjie oorweldigend kan wees. Soos ʼn insek. Maar hoe dit ookal sy, dis klassieke Mini. Hierdie ligte het uitstaan kenmerke van Mini kom word en mens kan amper nie ʼn Mini sonder dit voorstel nie. En die rooi verf is so treffend as wat dit is om na te kyk.

En hoekom sal dit nie wees nie? Mini’s is veronderstel om ʼn aura van drama, pret en lewendigheid uit te straal . Dis wat Mr Bean met sy Mini gehad het, so hoekom kan ons ook nie. En met die swart strepe wat tot die bakwerk gevoeg is, lyk die JCW reg om te jaag en om ditself op die bestuurder af te forseer.

Die Clubman, nes die Countryman, is groter as die Cooper. Dit het ook vier deure, behoorlike sitplek vir vyf, en ʼn laaibak wat beide prakties en bruikbaar is. Teen ʼn fraksie langer as 4.2m is die Clubman glad nie so lank soos dit voorkom nie en met die eerste oogopslag lyk dit lank, maar die dimensies is baie kompak. Tog is daar genoeg gemak vir alle insittendes.

Vir die passasiers

ʼn Pluspunt van die Clubman JCW is dat dit vyf passasiers in gemak kan vervoer. Mens val half in die sitplekke in omdat die kar so laag is, maar dis als reg. Dis nie ʼn ongemaklike proses nie. Dieselfde rooi en swart tema van die bakwerk is op die sitplekke ook én dit lyk lekker sportief terwyl dit om jou heupe vou wanneer jy daarin klim. En in die middel van die voorste paneel sit nog ʼn klassieke Mini eienskap: daai koel-ronde informasie kluster.

In die verlede het daardie kluster net die spoed aangedui, maar deesdae huisves dit byna al die kar se tegnologië wat media, satelliet navigasie, en voertuig data/verstellings insluit. En voor die bestuurder sit die spoed- en revolusie naalde. Wat beslis tot die aura van die kar bydrae is die binne-beligting wat gestel kan word soos die bui dit toelaat. Mens kan selfs kies om die binneruim soos ʼn Kersboom te laat lyk en ʼn bietjie van ʼn jeudigheid laat uitstraal. Want hoekom nie: Mini’s was nog nooit veronderstel om té volwasse te wees nie. Nóg minder ernstig.

Ry soos ʼn go-kart

Mini is verskriklik bekend daarvoor dat hul motors ʼn speelsheid het in die manier hoe dit ry, sonder dat die motors lig en onseker voel. En hierdie Clubman is bewys daarvan. Met lekker 19-duim wiele bied die Clubman JCW goeie vastrap om ʼn draai en voel dit stewig wanneer mens hom druk. Dit klou aan ʼn lyn vas en voel dit of die greep amper nooit sal opraak nie. Krag word natuurlik na al vier wiele gestuur en die 2.0-liter turbo enjin het geen probleem om konstant die bande met 170kW/350Nm te voer nie.

Dit mag dalk nie na baie krag klink nie, maar die spelerige natuur van die motor laat die krag na genoeg voel en dit maak die bestuurservaring ʼn verslawende een; veral as mens die ritmodus in Sport sit (Normal en Green glo ek is vir die voëls; hierdie kar wil gery wees). Dan verander die JCW in ʼn lewendige bol pret, soveel so dat dit amper ʼn sonde is om uit te wil klim. Want wanneer jy wegtrek en die kar van die lyn af skiet, wil dit net aanhou gaan. En gaan! In bietjie meer as 6 sekondes is jy verby 100km/h en eers teen 238km/h raak die kar uitasem. Maar kry vir jou ʼn lekker stukkie pad met genoeg draaie (soos ek gedoen het) en die kar sal jou soos The Joker laat glimlag.

Die turbo op hierdie Mini se enjin suis en fluit saam met die enjin se fyn brul soos dit die rooilyn jag terwyl agter, met elke ratskakeling en lig van die versneller, borrel en poep die uitlaatpype tot genot van die ore. Deur die kar in ʼn draai te laat vloei en die renlyn te behou bring die beste in dit navore. Dit wil net vorentoe, dit kleef aan die pad, en dit tokkel met die hartsnare met elke verbygaande oomblik.

En dis wat Mini die beste doen. Daar mag wel ʼn paar tekortkominge wees in terme van praktikaliteit en dis dalk nie 100% vir ʼn familie bedoel nie, maar dis ʼn prettige kar van formaat. Dis geen wonder, dan, dat Mr Bean nie van sy groen Mini wou afstand doen nie. Nie omdat dit tot sy persoonlikheid en algehele impak van die program bygedra het nie, maar omdat elke oomblik van agter die stuur ʼn belewenis was. ʼn Belewenis wat ons as kykers in kon deel.

Miskien nie direk nie, maar ek is bly dat ek Mr Bean se Mini kon ontmoet.