My erfenis: Terug op die familie-spoor

manskap,familie,family,road trip,namakwaland,suid-afrika,south africa
Foto: Corbin Raymond

Ek het eers aan die einde van ons ekspedisie besef dat ons hier met erfenisdag te make het, maar die storie agter die storie roer nogal aan die hartsnare.

My oupa is al in sy tagtigs en alhoewel die skete al kom kuier het, is daar absoluut niks fout met sy geheue nie. Sy grootword-jare is in sy wese gegraveer en kan hy oombliklik gebeurtenisse uit sy kinderjare herroep. Vra hom nou oor sy ouers, en hy gee vir jou die hele verhaal. Sy verhouding met sy broers en susters, hy kan vertel. Hoe hy in die veld grootgeword het…

Namakwaland se klong

My oupa was maar 18 toe hy Namakwaland verlaat en Lambertsbaai toe getrek het. ʼn Jongman wat alles wat vir hom bekend was agterlaat en ʼn nuwe lewe teen die Weskus kom soek. Daai was in die vroeë vyftiger jare toe hy homself hervestig, maar sy hart het na Namakwaland bly hunker. Mens kan dit aan sy praat hoor. Dis toe dat ons as familie besluit dat ons vir hom iets spesiaals gaan doen: kom ons neem vir Oupa huis toe en laat hy ons lei en aanwys na waar ons moet wees. Dis oor die sestig jaar wat hy laas in die veld was, maar kom ons gaan. Al verdwaal ons.

Ons het dit in 2016 ook gedoen, maar vanjaar het dit net so geval dat ons dit op erfenisdag doen.

Die SUVs is gelaai en vroeg val ons in die pad Noorde toe. In Springbok gekom teken ons net by die lodge in, laai ons sakke af en val weer in die pad. Waarheen op hierdie kookwarm Saterdag sal net my Oupa weet, maar ons kyk voort en druk Noord. ʼn Paar kilometer buite Springbok draai ons af en ry Nababeep toe.

“Ons het hier ook gebly,” sê my Oupa en hy beduie met die hand soos hy alles herroep. “My ma is hier begrawe; ek was twaalf toe sy afsterf.” Hy word ʼn oomblik stil – in sy eie gedagtes – en sê dan: “Ons kan verby die begrafplaas ry, maar ons hoef nie te stop nie – ek sal nie nou weet waar haar graf is nie.”

Hy het ʼn baie spesiale band met sy ma gehad, my Oupa. Hy was haar Charles en sy het geweet dat hy in sy lewe baie geseënd sal wees. En hy was; hy is!

Ons ry nie met die teerpad terug na die N7 toe nie, maar baan eerder ons weg deur die berge en heuwels. Goeiste, die pad is sleg! Dis ʼn geskud en gekruip om seker te maak die rygoed word nie beskadig nie, maar ten minste is ons anderkant uit en weer op die swart.

manskap,familie,family,road trip,namakwaland,suid-afrika,south africa
Namakwaland se vlaktes. So wyd en uitgestrek soos die liewe Here se genade. Foto: Charlen Raymond

ʼn Lewe in eenvoud

My Oupa se ouers het ʼn plaas gehad en in daardie jare was alles mos eenvoudig: die leefstyl, die besittings, jou huis. En dis waartoe Oupa ons ook geneem het. Daar is letterlik nie ʼn huis om van te praat nie; net ʼn fondasie wat lyk of daar iets op gestaan het. Daar is ʼn kraal ook en Oupa verduidelik hoe hulle daar gelewe het.

“Ons het baie vee gehad,” vertel hy. “En dit was deel van my take om hulle op te pas. Ons het donkies ook gehad.” Die verwondering waarmee hy praat, die nostalgie wat in sy woorde omvou word… mens wens half jy kon net ʼn vlieg teen een van die huis se mure wees om te kan sien en ervaar wat hulle doen. Die huis was nie groot nie, maar almal het slaapplek gehad. Buite was ʼn oond en ʼn vuurmaak plek, en Oupa wys dit alles uit.

“Ek was in hierdie huis gebore,” sê hy verder en vertel hoe hulle later Nababeep en toe Concordia toe getrek het. Dis ʼn wye, plat stukkie aarde hierdie, en daar is steeds mense wat dit bewoon. Hier en daar sien jy ʼn huisie, maar dis letterlik in die veld. Dis kilometers op kilometers weg van die naaste dorp af. Maar my Oupa sê dit was en is steeds die beste plek waar ʼn kind kind kan wees. En ek wil met hom saamstem, want plaas is in my bloed, ook.

manskap,familie,family,road trip,namakwaland,suid-afrika,south africa
Een van die nefies by die kraal langs die plek waar die huis was. Foto: Charlen Raymond

ʼn Laaste besoek

Met die aanbreek van erfenisdag moes ons ook by die lodge uitteken, maar voor ons die lang pad terug Kaap toe aandurf het ons nog een stop om te maak by Oupa se eerste skool. Dis ʼn goeie paar kilometer buite Concordia met die grondpad Goodhouse se kant toe, maar na so 15km moet jy links draai en wéér die veld ingaan. Dis ʼn slegte pad en dit kos mooi mik om nie die kar se onderstel oor die klippe te skuur nie. Stadig en versigtig doen die ding.

Daar sit die skooltjie. Dis ʼn verwaarloosde gebou. Die mure is alles afgebreek, ʼn paar eensame bome omring die fondasie en iets wat lyk soos buite toilette staan ook daar. My Oupa wys waar hy gesit en oor die jare by daardie skool van banke verwissel het. Hy herroep alles: die lesse, die kinders, die onderwysers. Hy het ʼn groot liefde vir kennis en dis ook daarom dat hy al sy kinders universiteit toe gestuur het. Sommige het wel ʼn bietjie langer geneem omdat daar in daardie jare saam vir gelykheid vir almal baklei was, maar almal het tersiêre onderrig ontvang.

Dis ook hoekom my oupa en ouma se kinders nooit geld vir lekkers gekry het nie, want Oupa werk op die see as visserman en buite-seisoen doen hy konstruksie. Daar was nie geld vir los lekkernye nie (behalwe vir road trips na familie in Namakwaland en in die Sederberge en die lekkertjie wat hulle as ouers nou en dan op ʼn Vrydag sal koop), maar wat daar wel geld voor was was onderrig. Dit kom sterk deur in my oupa se praat en selfs hierdie trippie na sy wortels het dit kom bevestig.

Hy het ons kom onderrig oor sy lewe en indirek weer nóg ʼn lewensles aan sy kinders en kleinkinders oorgedra. Dit voel ons leer ken hom van vooraf…

manskap,familie,family,road trip,namakwaland,suid-afrika,south africa
Foto: Corbin Raymond