Navara sy 4×4 stelsel kwyt

nissan,navara,bakkie,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Nissan het sy Navara-reeks met ʼn goedkoper model uitgebrei, maar die nuweling het net 4×2 tot sy beskikking.

As daar nou een ding is wat ons land se mense in goed is, dan is dit dat hulle weet wat hulle wil hê. Moenie hier kom met byderwetse goed as ons weet waar Dawid die wortels begrawe het nie. Dis óf wit óf swart – ons is nie onduidelik oor wat ons uit die lewe wil hê nie. Veral wanneer dit by bakkies kom; dis die Republiek van Toyota Hilux hierdie en hier staan ons nie met nonsens nie.

Dit nou totdat Nissan die appelkar kom omkeer en sy nuwe Navara laas jaar kom los laat het. ʼn Interessante propisie en alternatief wat teen die grein gaan van dit wat ons van bakkies kom verwag. En die rede vir daardie omkeer: ʼn vyf-skakel suspensie op die agterwiele wat maak dat die bakkie nou meer soos ʼn SUV as ʼn bakkie ry. Teen die grein, maar ongetwyfeld ʼn lekker rit.

Maar die ding is, alhoewel die Navara lekker ry kan dit net nie traksie in die mark kry nie. Kopers is versigtig om iets nuuts te probeer en omdat die keuses in die reeks so beperk is, kyk hulle eerder na iets soos die Hilux of Ford Ranger. Dis dan hoekom Nissan ʼn goedkoper Navara ingebring het; een wat met ʼn handratkas en geen 4×4 stelsel toegerus is.

SE gewaad

Die nuwe model, wat as die SE bekend staan, is een van ʼn paar modelle wat onlangs tot die reeks gevoeg is en kos R484 900. Dis nie goedkoop nie, maar dis relatief tot wat die mark bied. Die bakkie is gelukkig maklik herkenbaar as ʼn Navara, maar daar is subtiele wenke dat dit een van die intree modelle is.

Eerste is die wiele; 16-duimers wat meer robuust as die duurder modelle sʼn lyk. Die ontwerp is meer eenvoudiger en die tipe band wat gebruik word het ook ʼn groter dikte; ideaal vir grondpad en oor ʼn klippie of twee klouter. Daar is darem misligte voor en dagry LED ligte is ook standaard.

ʼn Oortreksel vir die laaibak kom saam met die pakket, sowel as ʼn trappie aan weerskante van die bakkie om en en uit klim te vergemaklik.

nissan,navara,bakkie,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Dit en dat

Nissan het darem genoeg gedoen om die binnekant van die nodige bykomstighede te voorsien en kan voornemende kopers uitsien na ʼn vol lysie standaard toerusting. Van die opvallendste wat tot die SE pakket gevoeg is sluit in ʼn multimedia stelsel met ʼn kleur raakskerm, Bluetooth, AUX, en satelliet navigasie. Op die stuurwiel is kontrole om insette te beheer, sowel as die spoedbeheer.

Elektriese vensters by al vier deure kom standaard, ook elektriese kant spieëls, en die agterste vensters is verdonker. Die sitplekke word met die hand verstel.

Gallery: Nissan Navara SE 4×2

Wanneer mens die satelliet navigasie aktiveer, neem die stelsel ʼn rukkie alvorens die beeld op die skerm verskyn, maar die TomTom stelsel laat darem toe dat mens vanuit ʼn reeks opsies en funksies kan kies vir hoe om by jou bestemming te kom. Ook om jou foon met die Bluetooth te konnekteer is nie baie voor die hand liggend nie, maar jy kom daar uit.

Die lys van toerusting wat die Navara SE 4×2 geniet is relatief groot, en kan mens nie anders as om Nissan ʼn duim te gee nie.

nissan,navara,bakkie,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Dieselfde sterk enjin

Die Navara is reg deur die bank met ʼn 2.3-liter turbo diesel enjin beskikbaar wat, met die hulp van turboaanjaging, 140kW en 450Nm se wringkrag ontwikkel. In van die duurder modelle kan krag na al vier wiele gestuur word wanneer die nood dit vereis, maar hier in die SE word dit deur ʼn ses-spoed slegs na die agterwiele handratkas gekanaliseer.

Die oormaat krag verseker dat mens met ʼn gerustheid tot in sesde rat kan ry, spoedbeheer aktiveer en net aan die stuur en rem aandag gee. Heuwel op en af is geen uitdaging vir die Navara en is dit so maklik soos tien om die pad kaf te draf. Nissan voer ook aan dat die Navara ʼn gemiddelde dieselverbruik van 6.3 L/100km het, maar oor die toetsperiode het die syfer effens anderkant 8.0 L/100km gedraai. Maar ek moet ook net noem dat volgens die bakkie se ritrekenaar was die beste syfer wat dit behaal het, 5.4 L/100km! En dit vir ʼn bakkie!

Lees: Nissan Navara verander die game, vir altyd

Die ratkas het ʼn bietjie van ʼn meganiese gevoel en voel dit by tye asof mens moet diep grawe om die volgende rat te haak. Elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) kan nie volkome afgeskakel word nie, al sê die stelsel dat dit gedeaktiveer is. Dit neem ook ʼn paar draaie vir die stuurwiel om van kant tot kant gedraai te word, en doen dit maar min om die bakkie se grootte te verdoesel.

Slotsom

ʼn Bakkie is maar ʼn groot wa, maar dit bly ʼn praktiese opsie in ons keuse volle mark. Die Hilux mag nou wel elke maand met die louere wegstap as top verkoper, maar die Navara het ʼn ding kom losmaak. Dis nie nodig dat bakkies nie sag hoef te ry nie. Dis nie nodig dat bakkies geharde suspensie moet hê wat aan die behoeftes van harde werk voldoen en dat Jan Publiek net daarby moet inval nie.

Nee. Nissan kom sê eintlik dat jy jou broodjie aan albei kante gesmeer kan hê. En dis hoekom Mercedes-Benz hul X-Klas op die Navara geskoei het. Al stel plaaslike verkope dit nie voor nie, het die Nissan Navara die mark kom verander. En hierdie SE model sit sy beste voetjie vorentoe.

nissan,navara,bakkie,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson