Nissan Micra Active in SA geloods

Nissan Micra
Foto: Nissan SA

Nissan het sy Micra afgestof en ‘n spesiale model uit gebring – die Micra Active. Dit is só dat in 2018 die splinternuwe Nissan Micra-reeks geloods gaan word, maar die sakpas Micra Active gaan steeds bly om Nissan se volkswa vir die toekoms te wees.

Teen R159 900 is die Active ‘n baie bekostigbare kopie; veral as mens die pakket in die geheel beskou.

Veelsydige binneruim

Die nuwe Micra Active stel nuwe standaarde in die intreevlak van die B-mark motorsegment. Soos die ander Micra’s in die huidige 2011-reeks, is die Micra Active ‘n kompakte voertuig met ‘n ruim en veelsydige binnekant, maar met ‘n meer sportiewe voorkoms as voorheen. Die kopligte, agterligte, en voorste- en agterste buffers is onderhande geneem om dit aantrekliker en meer modern te laat lyk.

Daar is nuwe bekleedsel vir die sitplekke terwyl die paneelbord herontwerp is. Die Micra Active het elektriese vensters voor, ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, ‘n verstelbare stuurkolom, handbeheerde lugversorging en ‘n 12-volt kragpunt as standaardtoerusting.

Wat veiligheid betref, word daar ook goed na die bestuurder en ander insittendes omgesien, aangesien
ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, twee voorste lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, deure wat sluit sodra die motor wegtrek, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer en kopstutte voor en agter.

1.2-liter enjin

Die Micra Active is steeds toegerus met dieselfde drie silinder enjin van 1.2 liter met ‘n kraglewering van 56kW en ‘n wringkrag van 104 Nm. Hierdie krag word deur ‘n vyf-spoed handratkas na die voorwiele gestuur.

Nissan voer aan dat die Micra Active slegs 5.2-liter/100km gebruik en behoort ‘n 789 km reikafstand op die 41 liter petroltenk teoreties moontlik te wees. Die 0-100 km/h lopie neem ‘n rustige 13.2 sekondes en teen 166km/h raak die kar eers uitasem.

Padindrukke

Media verteenwoordigers het by Gold Reef City ontmoet en het die Micra Active om ‘n gymkhana beter leer ken. Die klein baan met sy kort, vinnige draaie het grotendeels fokus op die Micra Active se hantering geplaas.

Met ‘n draai-sirkel van slegs 4.6m het die karretjie heel goed om die keëls beweeg. Daar is ‘n gewiggie aan die stuur wanneer mens oorywerig begin draai, maar dit masker eintlik hoe gemaklik die Micra Active in knap spasies kan wegkruip.

Die Micra Active se enjintjie klink of dit baie hard werk wanneer dit aan die hardloop is en is dit duidelik hoorbaar wanneer die toere optel. Die ratte wissel met groot gemak, maar wanneer mens oor ‘n spoedwal ry of vanuit ‘n rolbeweging versnel, moet mens ‘n laer rat haak net om aan die gang te kom. Die Micra Active doen ook nie sleg om oor oneweredige padoppervlaktes te ry nie, maar daar is ‘n merkbare geskud.