Nissan Navara verander die game, vir altyd

Nissan Navara
Foto: Charlen Raymond

Ons Suid-Afrikaners is ʼn trotse nasie. En ons laat nie toe dat mense met goed waarin ons glo mors nie. Goed soos biltong, droë wors, braai, die Groen en Goud (Bokke!), en ons bakkies.

Veral bakkies. Dit moet ʼn sekere manier wees, ʼn sekere manier ry, take op ʼn sekere manier verrig, en alles en nog meer kan wees en doen. Dis ʼn tawwe jôb om ʼn bakkie vervaardiger in sonnige SA te wees, want die aanvraag na ʼn goeie bakkie het ʼn belangrike aspek vir baie kopers geword.

En in SA lei die Toyota Hilux en Ford Ranger die algehele verkope, wat net onderstreep dat ons mense bakkies wil hê. Maar toe kom Nissan met sy tweede-generasie Navara en verander die manier hoe ons na bakkies kyk. Baie sal frons en reg wees om Nissan sommer aan te vat, maar die vervaardiger het eintlik die bakkie mark op sy kop kom draai. Letterlik.

Die suspensie

Die Hilux, Ranger, Mitsubishi Triton, Isuzu Kb, en ander bakkies word op ʼn leerraam onderstel gebou en is toegerus met bladveer suspensie. Die doel van hierdie tipe vering is om die bakkie formidable werkesels te maak; bakkies wat ligte werk van ʼn moeilike taak maak. Dis die voordeel van bladvere. Die negatief is dat wanneer daar nie ʼn vrag op die laaibak is om die vere reguit te maak nie, is ritgehalte baie styf en springerig. Passasiers op die agterste sitplekke voel dit veral, en hulle in die laaibak nóg meer.

Alhoewel vervaardigers soos Mitsubishi en Volkswagen met sy Amarok groot vordering gemaak het om die ritgehalte van hul bakkies te verbeter, bly dit maar steeds ʼn probleem. Veral vir hulle wat hul bakkies vir leefstyl en ontspannings doeleindes gekoop het. Want kom nou: as jy nie ʼn bakkie as werkesel aanskaf nie en dit net wil gebruik as familiekar en iets om mee vakansie te gaan hou, hoekom moet jy ongemaklik ry? En dis waar Nissan die streep trek.

Die nuwe Navara, wat in Maart 2017 plaaslik bekend gestel het, het nie bladveer supensie soos ander bakkies nie. Instede daarvan het dit ʼn vyf-skakel kronkelveer suspensie by die agterwiele. Kronkelvere? Wat op dees aarde? Om dit eenvoudig te stel, dis die tipe suspensie wat jy op ʼn luukse SUV sal vind. Dit gee die voertuig ʼn ritgehalte wat mens amper met dié van ʼn sedan kan vergelyk. In ander woorde, die bakkie spring nie rond nie en dit is nie hard geveer nie.

Die Navara kan dalk die bakkie met die beste ritgehalte in SA wees. Die kronkelveer suspensie absorbeer alles baie beter as sy bladveer kompetisie en verskaf ʼn rit wat beide sag en lekker is. Ja, wanneer daar van die Navara gevra word om baie swaar vragte te dra sal die kronkelveer suspensie seker ʼn bietjie sukkel, maar siende dat die Navara vir die leefstylmark bedoel, sal eienaars nie in die minste gepla wees nie.

Nissan Navara
Foto: Charlen Raymond

Maak dit sin?

Nie almal saam met Nissan saamstem nie, maar elke maand is daar omtrent 150 nuwe eienaars wat doen. Sommige het dalk ʼn bietjie meer motivering nodig om vir die ander span te speel, maar twee vervaardigers het Nissan genader om hul eie bakkies op die Navara se onderstel te bou. Dis reg, Mercedes-Benz en Renault gaan onderskeidelik hul eie bakkies produseer: die X-Klas en die Alaskan. Natuurlik sal aanpassings vir hul eie kriteria en doeleindes gemaak maak, maar die Nissan Navara pionier iets wat nie gestuit sal word nie.

Alhoewel ouens soos Toyota en Ford bakkies vir die arbeidsmark bou, voorsien hul bakkies ook in die behoeftes van dié wat ʼn bakkie as familiekar aanskaf. So die vraag na ʼn ontspanningsbakkie is daar. Daarom kan mens ʼn Hilux of Ranger aanskaf met al die versierings op die Kersfeesboom, nét sodat dit aan die vereistes van die leefstylmark kan voorsien. Maar dis bakkies met bladvere. Nissan het dit besef, en so ook Mercedes-Benz en Renault.

LEES: Nuwe X-Klas maak sy buiging

Hierdie drie bakkies met hul kronkelveer suspensie lui ʼn nuwe era in van hoe ons na bakkies kyk, en kopers staan alreeds tou om hul bestellings vir ʼn X-Klas te plaas. Bakkies is deesdae ʼn mode item en dit verteenwoordig status meer as enigiets anders. Dit is nie meer nét ʼn werksel nie en dis wat die Navara, X-Klas, en Alaskan wil uitbuit.

Ja, hulle sal nie in dieselfde getalle as die Hilux en Ranger verkoop nie, maar Toyota en Ford mag dalk net besluit om twee verskillende weergawes van hul bakkies in die toekoms te bou om in die vereistes en behoeftes van albei sfere te voorsien. En om te dink dit het alles met die Nissan Navara begin.

Nissan Navara
Foto: Charlen Raymond