Nissan Qashqai suig aan die voggies

nissan,qashqai,nissan qashqai,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond

Ons word gereeld met voertuie gekonfronteer wat blykbaar lig op brandstof is, maar in baie gevalle is dit so ver verwyder van die waarheid soos ʼn politikus oor stemtyd. Dan kom daar weer kere wanneer motorvervaardigers iets as die waarheid weergee en dit dan uitdraai om die waarheid te wees. Soos met hierdie Nissan Qashqai, byvoorbeeld.

Die 1.5-liter diesel enjin wat die Qashqai Acenta Plus mee toegerus is moet die ligste impak montlik by die pompe maak en sy bene sommer baie verder as sy petrol-ekwivalente kan rek. Teen R432 500 (Oktober 2018) is dié Qashqai nie goedkoop nie, maar dit maak ʼn baie goeie saak vir ditself. Is dit die beste SUV daar buite? Nope, mens kan verder soek vir ʼn beter algehele pakket. Maar wanneer dit by waarde vir jou sente kom… pappie, hier sal jy nie verkeerd gaan nie!

Stoot aan

Die enjin wat in die Nissan ingespan word is dieselfde eenheid wat Renault by sy motors inspan. Selfs Mercedes-Benz maak van hierdie enjiin gebruik. In die Qashqai ontwikkel dit ʼn gesonde 81kW en 260Nm. ʼn Ses-spoed handratkas stuur krag na die voorwiele, sonder dat dit voel of die dryfstelsel jou probeer beïndruk.

Met ʼn gewig van slegs 1 384kg is die Qashqai nie ʼn swaar voertuig nie en voel dit nooit of die enjin onder druk is nie. Die voertuig word met gemak voort gestu en is daar nie die geraas wat met diesel enjins gepaardgaan nie. Die ratkas skakel lekker glad oor van rat tot rat en omdat die wringkrag al van 1 750rpm beskikbaar is, is daar feitlik altyd in elke rat genoeg krag. Ek moet bieg dat die venster waarbinne die wringkrag werk baie klein is, maar op die oop pad word dit wat beperk is, minder van ʼn beperking.

Lees: Hersiene Nissan Qashqai nou in SA

Daar is baie woema om gou by die nasionale spoed te kom en in sesde rat suiker die SUV voort tot groot genot van die insittendes. Dis ʼn lekker enjin, hierdie diesel enjin, maar sy grootste troefkaart is die feit dat dit ongetwyfeld een van die ligstes op brandstof is. Nissan seg dat die enjin se gemiddelde verbruik so 4.2 L/100km is, maar oor die toetsperiode het dit tot so laag as 3.5 L/100km gedaal. 3.5! Dis moer goed en maak dit dan maklik om lag-lag die teoretiese reikafstand van 1 548km te bereik.

nissan,qashqai,nissan qashqai,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond

Die ‘Plus’

Die hersiene Qashqai reeks wat vroeër vanjaar geloods was bestaan uit sewe modelle; waarvan drie diesels is. Die diesel wat ons hier mee te doen het skuif tussen die Acenta en Tekna modelle in. As ons na die reeks kyk, en veral na die diesels, is dit maklik om te wonder hoekom die Plus bykans R14 000 duurder as die Acenta is. Nie een van die twee modelle het satelliet navigasie nie, ook nie ʼn tru-kamera nie, en albei het vyf lugsakke en outomatiese ruitveërs. Om net ʼn paar te noem. So, waarheen gaan die geld?

Wel, grawe ʼn bietjie dieper en die Plus het 19-duim wiele oor die Acenta se 17-duimers. Die agterste vensters is donkerder, die voorste sitplekke het verhitters, en die sitplekke is met beide lap en leer oorgetrek.

Dink ʼn bietjie daaroor: om hierdie geriewe as opsionele ekstras te installeer sal jou baie meer as die R14 000 premium kos. Dan begin lyk die Acenta Plus soos ʼn winskopie, selfs al kos dit jou oor die R430k.

Slotsom

Die Nissan Qashqai Acenta Plus is een van daardie SUVs wat ʼn tweede kyk verdien. Die ontwerp is mooi, dit sit lekker vas op die oop pad, dit dra sy vyf passasiers en hul bagasie met groot gemak… dis een van die beste SUVs wat jy vir onder R500 000 kan koop. Maar mens sou darem wou hê dat die mediastelsel met ʼn raakskerm kom, en dat óf satelliet navigasie óf ʼn tru-kamera tot die pakket gevoeg sal word.

Dis regtig ʼn baie goeie voertuig en dit bied baie goeie waarde vir geld, maar dalk – net dalk – is dit méér as genoeg SUV wat jy ooit sal nodig kry.

nissan,qashqai,nissan qashqai,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond