Nuut in SA: Honda Amaze

amaze,honda,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new model,
Foto: Charlen Raymond

Honda Suid-Afrika het sy nuwe Amaze in die land bekendgestel en vul die nuwe model die gaping wat deur die Brio Amaze gelaat is. Die Brio is nie ongewoon aan Suid-Afrikaners nie en was die model as beide sedan en luikrûg beskikbaar. Die sedan, wat vroeër die Brio Amaze geheet het, sal voortaan slegs as die Amaze bekend staan. Die luikrûg, seg Honda, sal nog tot verdere kennisgewing hier by ons beskikbaar wees, maar sal met die verloop van tyd van die mark gehaal word.

Sedert die Brio in 2013 bekend gestel was, is meer as 250 000 eenhede wêreldwyd verkoop. Hier in SA het dit ook sy getroue volgelinge gehad, maar kon dit nooit groot getalle verkoop nie. Honda hoop dus dat die nuwe Amaze dit sal regstel en in groter getalle sal verkoop as in sy vorige inkarnasie. Ook die onttrekking van die Volkswagen Polo Vivo sedan uit die mark maak dat daar 55% markaandeel beskikbaar is; wat Honda op wil munt slaan.

Met ‘n pakket wat ligter en groter as die uitgaande model is, is die Honda Amaze daarop gemik om ‘n nuwe koper na die Honda-naam te lok, maar om terselfdetyd huidige eienaars by die handelsmerk te hou.

amaze,honda,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new model,
Foto: Charlen Raymond

Enjin en padgedrag

Die nuwe Amaze het nie ‘n groot enjin voor in die neus nie, maar eerder ‘n 1.2-liter enjin wat 66kW en 110Nm ontwikkel. Saam met die enjin is daar ‘n opsie tussen ‘n vyf-spoed handratkas óf ‘n sewe-spoed CVT ratkas. Die Amaze is voorwiel-gedrewe en is die stuur lekker lig tussen die hande. Beide ratkaste was op die bekendstelling getoets, maar die handrat blyk die beter, gemakliker opsie te wees. Beide ‘kaste moet gewoeker word om die verrigting los te maak.

Alhoewel Honda seg dat hulle die CVT vir toepassing in die Amaze aangepas het, is hierdie tipe ratkas steeds een van die minder gunstige eenhede. Meer volwasse eienaars wat nie omgee om die ratkas aan sy eie genade oor te laat nie sal nie veel gepla wees met dit nie, maar entoesiastiese bestuurders moet eerder vir handrat gaan. Ten minste is daar spane agter die stuurwiel vir ‘n bietjie sportiwiteit.

Rakende petrolverbruik suig die handrat 5.6 L/100km teenoor die outomaties se 5.7 L/100km, en dit word beslis ondersteun deur die motor se lae gewig van bietjie meer a 900km. Top snelheid vir beide modelle is 160km/h.

amaze,honda,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new model,
Foto: Honda SA

Spesifikasie en veiligheid

Die Honda Amaze is beskikbaar in Trend en Comfort vlakke, maar net die Comfort is met beide die CVT en handratkaste beskikbaar.

Die Trend is toegerus met 15-duim wiele, elektriese vensters voor én agter, en Bluetooth en USB konneksie. Op dit wat die Trend bied bied die Comfort outomatiese lugversorging, misligte voor, elektriese kantspieëls, en LED kopligte.

Op die bekendstelling was beide Comfort modelle beskikbaar en is die binneruim goed toegerus. Op die stuurwiel is daar kontrole waarmee mens musiek kan beheer en voor die bestuurder is ‘n ingeboude rekenaar wat ritinformasie aan die bestuurder weergee. Die klimaatbeheer kan met die hand verstel word, óf mens kan die ‘auto’ knoppie druk wat dan die binneruim se temperatuur outomaties reguleer. Twee kragskokke kan in die binneruim gevind word.

Wat Honda Suid-Afrika ook verder aan kopers sal bied is sitplekoortreksel, absoluut gratis. Die materiaal wat hiervoor gebruik word is sintetiese leer en kan kopers eenvoudig vir die handelaar sê dat hulle die opsie wil opneem. Die materiaal pas goed met die binneruim en verleen dit aan die kajuit ‘n amperse premium gevoel. Vir die buitekant kan mens óf die Chrome- óf die Utility pakket as opsionele ekstras bestel.

Veiligheidsopsies wat tot die Amaze pakket gevoeg word sluit in twee voorste lugsakke, ABS remme met EBD, en IsoFix ankerpunte vir ‘n babastoel.

amaze,honda,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new model,
Foto: Honda SA

Slotsom

Met eerste indrukke blyk dit te wees dat Honda nóg ‘n goeie produk teen kompeterende pryse die mark ingestoot het, maar sal die uitdaging wees om die publiek van die produk te oortuig. Honda Suid-Afrika teiken ‘n jonger koper en het ‘n aggressiewe sosiale media veldtog van stapel gestuur om hul doelwitte te bereik. Of die veldtog sal werk of nie moet nog gesien word, maar die Amaze het genoeg in die sak om jong kopers te lok.

Pryse vir die Honda Amaze soos hieronder vervat sluit ‘n vyf-jaar/200 00km waarborg, twee-jaar/30 000km diensplan, en ‘n drie-jaar AA padbystand in.

  • Honda Amaze 1.2 Trend: R179 900
  • Honda Amaze 1.2 Comfort: R193 900
  • Honda Amaze 1.2 Comfort CVT: R208 900
amaze,honda,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new model,
Foto: Charlen Raymond