Nuwe C43 AMG maak absolute sin

mercedes-benz,mercedes-amg,c43 amg,manskap,cape town,kaapstad,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Nie te lank terug nie het Mercedes-Benz een van sy karre, soos byvoorbeeld die C-Class, na sy verrigtingsarm, AMG, gestuur en was die opdrag dat hulle ʼn vet, groot agt-silinder enjin voor in die neus moet druk. Of daai enjin nou pas of nie, AMG moes seker maak dat daai enjinkap toe gaan. Die probleem was nie noodwendig dat die enjins ongoddelike kragvlakke het nie, maar dat dit té kragtig was vir wat die onderstel kon hanteer.

Kom ons wees eerlik: AMGs van daai tyd was onverfynd en die personifikasie van belaglikheid. Maar so waar as wat God lewe, mens wou hulle hê!

Soos die jare aangaan het Mercedes hul fabrieke opgradeer en dieselfde by AMG gedoen; wat die laasgenoemde toegelaat het om behoorlike sportskarre te bou. AMG het hul enjins en later ook die onderstelle van die AMG modelle gebou. Nou is enjins, ratkaste en onderstelle direk uit Mercedes-AMG se geledere. As luck would have it, soos die Ingelsman sal sê, het die mense wat die wette maak gesê dat motors ‘groener’ en ligter op brandstof moet wees, wat Mercedes-AMG, nes al die ander vervaardigers, se hand forseer het om kleiner, turboaangejaagde enjins te bou.

Steeds nie tevrede nie was gesê dat motors nóg groener moes wees en het AMG ʼn bi-turbo 3.0-liter V6 enjin gebou om langs die bi-turbo 4.0-liter V8 te hardloop. Die V8 sal steeds as die 63 bekend staan, maar die V6 AMG sal voortaan die ’43 AMG’ kenteken dra. Wat ons dan by die vernuwe en hersiene Mercedes-AMG C43 sedan bring.

mercedes-benz,mercedes-amg,c43 amg,manskap,cape town,kaapstad,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Onderskatte ontwerp

Die C43 AMG skuif onder die C63 AMG en C63 S AMG in, wat dit amper soos die middelkind in die C-Class reeks maak, want dit is net bo die res van die reeks. Dis nie so getem soos die mindere modelle nie, maar ook nie so robuust en in jou gesig soos die voorafgenoemde modelle nie. Oral om die kar is daar tekens dat dit ʼn AMG is, maar dit skreeu nie sy teenwoordigheid of posisie so luidkeels soos sy groter broers nie.

Die sierrooster lyk fors en is daar splete om die kante. Teen die kante, neffens die voorwiele, is daar die ‘Bi-Turbo 4Matic’ tekens en die wiele wat regte AMG produkte is; netjiese 18-duimers. Agter is daar ook C43 AMG tekens, sowel as ʼn stel van vier uitlaatpype wat hard genoeg is om jou stywe bure op ʼn stil Saterdagoggend wakker te blaf (ek het dit nie gedoen nie, al was ek bitter lus).

Lees: Merc doen intree-vlak met C180 AMG

Van meet af is dit moeilik om die onderskatte natuur van hierdie kar te verstaan, want ons het AMGs as woelwater motors kom leer ken. Nie net lyk AMGs soos die duiwel se keuse van vervoer nie, maar dit speel ook die rol bleddie goed. Maar hierdie een… die C43 AMG is allesbehalwe imponerend. Dit lyk mak. Amper kalm. Maar miskien daarin lê sy krag. Die middelkind is baie keer die stil een, maar wanneer jy hom in ʼn hoek druk en jy forseer ʼn reaksie uit hom uit, dan is hierdie kind glad nie meer so stil nie.

mercedes-benz,mercedes-amg,c43 amg,manskap,cape town,kaapstad,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Logiese verrigting

En stil is hierdie kar nie! Skakel die Dynamic ritmodus oor in Sport+, wag daai split sekonde vir die uitlaatpype om te grom, en dan is jy reg vir die kar om van al sy demone ontslae te raak. Okay, dis dalk vergesog om dit só te beskryf, maar verrigting in hierdie kar is baie goed. Ander ritmodusse sluit Sport, Comfort, Individual, en Slippery (vir sneeu) in, maar nie een daarvan laat jou soos Sport+ grinnik nie.

Die enjin ontwikkel 287kW en 520Nm se wringkrag, wat beteken dat wanneer jy daai versneller trap, skiet jy vinniger vorentoe as ʼn honger cheetah agter ʼn springbokkie aan. Dis ʼn vinnige besigheid agter die stuur, maar jy voel nooit of jou talent op raak nie. Die kar is veilig, bedees, en dis beheerbaar danksy die vierwiel-stelsel. Daar is nie launch control om jou skoon van die lyn af te kry nie, maar met genoeg beheer op die versneller sal jy maklik van stilstaande tot 100km/h in onder vyf sekondes skiet.

Gallery: Mercedes-AMG C43 sedan

Dis ʼn wonderlike ervaring, hierdie C43, maar met die voordeel dat dit nie jou kop sal afbyt nie. En ook nie dat jy aan die leiband hoef te trek nie. Anders as groter 63 modelle is hierdie kar eintlik baie geskik vir elke dag se gebruik, maar ook met die vermoë om Ben 10s stil te maak wanneer hulle langs jou by ʼn verkeerslig optrek.

mercedes-benz,mercedes-amg,c43 amg,manskap,cape town,kaapstad,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Slotsom

In die breër spektrum van dit als en die motor se posisie in beide sy reeks en teen sy kompetisie, het die C43 AMG baie wat in sy guns tel. Of jy nou aspris laat is vir kerk as verskoning om die uitlaatpype te laat kletter nes die gemeente na die eerste gesang sit, of as jy nou vir ouma op ʼn Sondagmiddag rytjie neem, hierdie kar kan dit doen. Wat jy vereis, die C43 AMG kan dit doen.

Puriste (en hulle met dieper sakke) sal vir die V8 AMG gaan – en dit sal die regte keuse wees – maar jy sal nie verkeerd gaan met dié kar nie. Die kattebak slaan bietjie hard toe wanneer jy dit elektronies toemaak en tegnologieë soos ʼn blinde kol gonser en ʼn waarskuwing wanneer jy uit jou baan beweeg kan standaard tot die pakket gevoeg word, maar apart daarvan is daar min om te fouteer. Mercedes-AMG het ʼn goue middeweg gevind.

Vir R960 265 (voor opsies) word mens bederf met ʼn verrigtingskar wat lekker perform. ʼn Ervaring om agter die stuur van ʼn motor te sit wat ʼn gevoel van bevryding en opwinding ontlok. Daar was lanklaas ʼn kar wat só baie sin gemaak het.