Nuwe Honda Ama… uhm, wat?

honda,amaze,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new car,budget car,
Foto: Warren Wilson

Vroeg in Oktober 2018 het Honda sy nuwe Amaze in Suid-Afrika kom bekendstel en het ons kort daarna die nuweling onder hande geneem.

Die Amaze vervang die ou Brio Amaze en sal voortaan net as die voorgenoemde bekend staan. Dit beteken ook dat die kar nou net as sedan beskikbaar is en dat die Brio luikrûg in die nabye toekoms van die mark gehaal sal word. Die doel van die Amaze is om Honda se aandeel in die intreevlak-mark te vergroot, veral met Volkswagen wat sy Polo Vivo sedan (55% markaandeel) uit die mark onttrek het.

Dus het Honda die Amaze gebring om teen manne soos die Suzuki Dzire en Ford Figo sedan diens te doen, maar die vraag is of Honda genoeg gedoen het om sy nuwe soldaat in ons mark te laat geld.

Plat gesig

Daar is nie baie omtrent die Amaze se ontwerp om oor huis toe te skryf nie, want as ons nou eerlik moet wees is dit nie een van Honda se beste oomblikke nie. Was dit regtig nodig dat Honda moes afstand doen van die ontwerp ethos wat hy op die Civic en Ballad toegepas het? Was dit nodig dat die Amaze, letterlik, as die lelike eendjie moes uitstaan?

Mens kan die rasionaal verstaan dat die kar bekostigbaar is en dat die vervaardiger nie te veel geld op die ontwerp kon spandeer nie, maar hoekom die plat, ongeronde vooraansig? Selfs agter is dit nie beter nie en sukkel mens om daaraan gewoont te raak.

Lees: Nuut in SA – Honda Amaze

Daar kan objektief na die kar gekyk word en tot ʼn mate kan mens Honda se beweerrede regverdig, maar dis moeilik. Ons land se mense is ʼn trotse spul en wil hulle darem hê dat die motor wat hulle koop daai trots moet oordra. Suzuki het dit darem reggekry om sy Dzire van ʼn ordentlike ontwerp te voorsien, én die ekwivalent Dzire is R10 000 goedkoper as hierdie Amaze outomaties.

Dis ʼn moeilike situasie vir Honda, maar ten minste sal besighede wat motors verhuur regstaan om die Amaze deel van hul floot te maak.

honda,amaze,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new car,budget car,
Foto: Warren Wilson

Eenvoudige binneruim

Mens verstaan dat die Amaze die begroting moet klop, maar die binneruim laat veel te wense oor. Harde plastiek maak die oorgrote meerderheid van die kajuit uit en voel van die panele maar bra goedkoop. Die stoorkassie voor die voorste passasier klik nie mooi in plek nie en moet mens dit ʼn harderige klappie gee om toe te gaan (ten minste op hierdie toetsmodel). Verder is die radio ook maar aan die skrapse kant, maar kan jy darem jou foon via Bluetooth konnekteer. Wees gewaarsku: dis erg spartaans.

Voor die bestuurder is die inligtingskerm voldoende om die basiese informasie weer te gee en op die stuurwiel is kontrole om die radio se volume te beheer. Dit het opgeval dat snags is daar nie ʼn liggie agter hierdie kontroles om dit te verhelder nie, so mens vroetel in die donker in die hoop dat jy die regte knop druk.

Die Amaze het darem elektriese vensters, die kant spieëls word ook elektronies verstel, die kattebak kan van binne óf met die sleutel oopgemaak word, en daar is oorgenoeg ruimte vir vyf passasiers en hul bagasie.

honda,amaze,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new car,budget car,
Foto: Warren Wilson

Op die pad

Hierdie Amaze Comfort is met ʼn 1.2-liter enjin en ʼn sewe-spoed CVT ratkas toegerus. Die enjin, wat sonder enige turbo-aanjaging oor die weg moet kom, skop maar ʼn skamele 66kW en 110Nm uit. Verrigting is nie juis warm nie en vat dit ʼn tydjie voor dit voel of daar enige vooruitgang is – selfs met ʼn lae gewig van 949kg. Die ratkas, ook, is ʼn outomatiese eenheid, maar is té gretig om die rooi lyn te jaag.

Padgedrag is okay solank daar nie enige winde waai nie, want die 15-duim wiele doen net nie genoeg om die bak van stabiliteit te voorsien nie. Dalk as Honda die wiele ʼn duim groter gemaak het of net die kar met ʼn band met ʼn groter spoor voorsien het, sou dinge ook al beter gaan.

Die hartseer is dat daar té veel dinge is wat teen die Honda Amaze tel. Mens wil hê dat Honda die mas in Suid-Afrika moet opkom omdat hy oor die algemeen goeie motors bou, maar die Amaze bewys hom geen guns nie. As Ford en Suzuki budget karre die mark kon instuur wat in die geheel goed is, hoekom kon Honda ook nie?

Prys: R208 900

honda,amaze,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new car,budget car,
Foto: Warren Wilson

Span opinie

Warren Wilson: Om te dink die laaste nuwe Honda wat ek ervaar het, was die Civic Type R. Daar was baie oor die kar se styling gepraat, maar dit het gewerk. Dit is daai “over-the-top” sportskar wat elke laaitie wil hê, maar mens kan nie oor hierdie boksie, beter bekend as die Honda Amaze, se styling opgewonde raak nie. En ons toetskar het ook nie juis die koppe in daai “White Orchid” verf laat draai nie.

Die interior herinner my aan die ou Honda Ballade (die SC9) uit die 1980s. Baie van hulle het mos daai cream sitplekke met ʼn bruin dashboard gehad. Gelukkig was ons toetskar s’n cream en swart. Daar is ten minste Bluetooth en ʼn USB input om jou foon krag te gee. Gelukkig werk die stelsel en was dit vir my maklik en eenvoudig genoeg om my foon te connect (ek het al baie gesukkel met ander motors se confusing setups).

Gallery: Honda Amaze 1.2 Comfort Auto

Hoe ry die Amaze? Wel, kom ons sê dis okay vir eenvoudige trippies in ʼn reguit lyn. Gooi hom op ʼn curvy pad en die arme Amaze moet vashou vir sy lewe. En ek vir myne. Oh! Daar is ook “S” mode op die CVT ratkas. Ek weet net nie of dit vir Sport of waarvoor dit staan nie, maar dit verhoog net die revs. Dis al. Lyk my al wat sportief raak is die petrolverbruik wat vinnig klim.

Die kar het my nou nie opgewonde gemaak nie, maar dit werk seker maar vir elke dag se aangaan. Ek glo hierdie kar is een van daai basiese karre wat jou net van punt A tot B moet neem. En vir die meederheid kopers sal dit genoeg wees. Veral vir manne soos Avis en Hertz.

honda,amaze,honda amaze,manskap,suid-afrika,south africa,new car,budget car,
Foto: Warren Wilson