Nuwe Land Rover mάg maar Disco

Land Rover Discovery
Foto: Warren Wilson

Sonder om nog ʼn woord te sê weet ek reeds wat baie mense van die nuwe, vyfde-generasie Land Rover Discovery dink… dat dit nie ʼn Discovery is nie want ʼn Discovery is nie veronderstel om so rond te wees nie. Of dat die agterkant onooglik lyk agv daai sywaartse neiging. Of dat die magdom tegnologieë gans te oordonderend is. Dis alles goed en wel en tot ʼn sekere mate kan ek daarmee saamstem, maar die Discovery was nog altyd een van Land Rover se beste voertuie.

Nie net vat dit alles saam wat die Land Rover naam voor bekend is nie, maar dit stu ook die rigting waarin Land Rover met sy voertuie beweeg. Dalk nie so voor in die koor soos die Range Rover en Range Rover Sport nie, maar dit doen. En dit was veral by 4×4 ekskursies dat die Discovery sy staal kom wys het. Die eerste drie generasies was goed vir hul tyd, maar die vierde het die appelkar heeltemal op sy kop kom draai. Wat ʼn wa! Byna geen gelyke en ongekende vermoë in die moeilikste omstandighede, dit was die vierde-generasie. En dit het sommer rof en onbeskof gelyk, ook. Daardie hoekige lyf en hoog in sy skoene. So toe Land Rover middel 2017 hierdie nuwe Disco bekend stel… wel, dit lyk allesbehalwe soos die uitgaande model.

Geen hoekige lyne

Dis ongetwyfeld die eerste ding wat mense wat met die Discovery bekend is, sal optel: die ontwerp. Die nuwe model het weggedoen met die skerp lyne van sy voorgangers en het eerder ʼn ronder gesig aangeneem. Sommige word hierdeur afgesit, terwyl ander die ontwerp heelhartig aanvaar. En dan is daar sommige wat op twee stoele sit. Al lyk die Discovery hoe, daar is tog ʼn logiese rede vir hoekom die SUV lyk soos dit lyk. Sien, in Europa word daar druk op vervaardigers uitgeoefen om motors te produseer wat nie net minder skadelike gasse die atmosfeer instuur nie, maar motors wat ook ʼn mate van beskerming aan voetgangers bied.

Nie by nie? Nou dit werk so. Kom ons sê Land Rover het volhard met die hoekige ontwerp en ʼn voetganger word gestamp, is die kanse goed dat ons volgende week Jan Alleman se begrafnis sou bywoon. Dis soos om met ʼn baksteen teen die kop gegooi te word. Maar omdat die motor se ontwerp veel ronder is, verminder dit die kanse dat ons volgende week bgrafnis sal hou. Kyk, mens kan nie ʼn omstamp mooi laat lyk nie, maar jy kan probeer om die skade te beperk.

Land Rover Discovery
Foto: Warren Wilson

Tegno truuks

Omdat die Discovery nog altyd ʼn bo-baas veldryer was, het dit net die nodige tegnologieë gehad om dit in die bos te help. Land Rover se Terrain Response II was, en is steeds, een van die motorwêreld se beste 4×4 stelsels en was dit letterlik al wat kopers na kyk. Maar deesdae is daar allerhande goed onder die Discovery se metaal dat dit mens half laat wonder wie die teikenmark eintlik is! Agter in die kattebak is daar nou ʼn reeks knoppies waarmee mens die tweede en derde ry sitplekke mee kan laat sak en weer oplig. Die sleepstang kruip is knus onder die bakwerk weggevou en word ook van hier beheer.

Praat van die sleepstang, mens kan nou ʼn waentjie haak deur net van die groot raakskerm gebruik te maak en die instruksies te volg! Die raakskerm huisves ook ʼn magdom funksies en het ʼn 60GB hardeskyf waarop mens jou gunsteling musiek, foto’s, en videos kan stoor. Passasiers in die tweede ry sitplekke kan ook nou hul mediatoestelle op die skerms in die voorste kopstutte beheer.

Ek gaan nou bietjie duiwels advokaat speel en sê dat dalk wou Land Rover die Discovery meer as ʼn stadsmotor as veldrywa posisioneer. As mens die tendense in verkope dophou, dan is daar heelwat mense wat duur, luukse SUVs koop. Dit is nie noodwendig mense wat elke naweek in die bos gaan speel nie, maar eerder ʼn SUV koop vir die status en tegnologie. En om die Discovery vir hierdie mark te bou werk, want elke maand word 90+ van hierdie R1-miljoen SUVs van die hand gesit. Interessant genoeg, die Discovery is een tans een van SA se bes-verkopende luukse SUVs, wat wys Land Rover se waagstuk werk.

Oop pad vir brêkfis

Dieselfde 3.0-liter V6 diesel enjin wat in die Discovery 4 diens gedoen het is net so oorgedra na die vyfde generasie toe. Hierdie enjin, met sy 190kW en 600Nm, is kragtig en sterk. Dit loop sonder moeite op die oop pad en die kleinste trap van die versneller laat die SUV vorentoe skiet. Die probleem is, natuurlik, dat die Discovery eerder tuis is op die oop pad as in die stad. Land Rover voer aan dat die gemiddelde verbruik net so onder 8.0-liter/100km is, maar aan die einde van die toets-periode was dit rondom 14-liter! Ongeag hoe saggies die versneller gekielie word, hierdie 2.2 ton SUV trek aan die korste end in die stad. Maar op die oop pad, teen 120km/h en die outomatiese ratkas in sy negende rat, kan verbruik tot tussen 8.0 en 9.0-liter/100km daal. En dit wil gedoen wees!

Veldrymoë het nie in die slag gebly met die bou en ontwerp van die nuwe Discovery nie. Die Terrain Response II stelsel is verder verfyn en is dit maklik om sand, modder, en rotse te trotseer. Met elke modus word ratskakeling, die versneller se sensitiwiteit, greep, en die ryhoogte aangepas. Sonder om enige 4×4 eienskappe in te boet.

Land Rover het gewaag om sy nuwe Discovery van ʼn sagter voorkoms en gevorderde tegnologie te voorsien, maar die nuwe pakket moet nie misgis word vir ʼn SUV wat bang is om sy tekkies vuil te maak nie. Hierdie Landy mάg maar!

Land Rover Discovery
Foto: Warren Wilson

1 Trackback / Pingback

  1. Landy se nuwe Discovery. Sjoe!

Comments are closed.