Nuwe Mitsubishi Triton nou in SA

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA

Mitsubishi het vroeg in April die nuutste weergawe van sy Triton bakkie in Suid-Afrika bekendgestel en bou die bakkie voort op die elemente en eienskappe wat die uitgaande model voor bekend was. Nie net dit nie, maar dit neem alles ʼn stap verder in ʼn poging om die markleiers aan te vat. Dié Japanese vervaardiger het sedert 2016 meer as 80 000 ure se navorsing en ontwikkeling aan hierdie model bestee en is hulle daarvan oortuig dat dit hul beste bakkie tot nog toe is.

Natuurlik moet hulle so voel, want elke nuwe model moet op die vorige verbeter. Elke model moet die doelpale probeer skuif en ook die segment waarin hy kompeteer laat regop sit. Die nuwe Triton kry dit in baie opsigte reg om sy segment se vere te skud en poog dit dan om verlore aansien in ons bakkie-mal mark terug te wen.

Die vraag is, dus, of die nuwe Triton werklik die hype werd is, en of dit maar net nog ʼn model is wat gaan sukkel om werklik ʼn impak te maak.

Nuwe gesig

Die Triton wat nou geloods is is nie die heel nuwe model nie, nee. Ons sal tot 2021 moet wag wanneer die volgende generasie sy opwagting, maar intussen het Mitsubishi nie geskroom om die hersiene model van ʼn verskriklike mooi en moderne voorkoms te voorsien nie.

Die Triton dra nou, saam met ander modelle in Mitsubishi se stal, die vervaardiger se nuwe ontwerpstyl genaamd ‘Dynamic Shield’, wat ʼn regop en prominente vooraansig heet. Daar is heelwat chroom wat ingespan word en maak dit dat die bakkie nou baie doelgerig en gefokus lyk. Die ontwerp is amper futuristies in uitvoering en kom die skerp, hoekige lyne goed bymekaar vir ʼn unieke gesig.

Die hoë wielboë, kant trappe om in- en uitklim te vergemaklik, en die J-Line tussen tussen die bak en kajuit dra beslis by tot die mooi ontwerp. Die hoë posisie van waar die vensters begin dra by tot die gevoel dat mens in ʼn hoë voertuig sit. Agter bied die bak steeds baie goeie laai vermoë, maar die klap val nou plat met behulp van ʼn hidroliese meganisme. Dit help dat die klap nie onverwags plat val nie, maar eerder egalig en met ʼn konstante spoed plat slaan.

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA

Opgeknapte binneruim

Die nuwe Triton-reeks bestaan net uit vier modelle (teenoor die Toyota Hilux se 33 modelle en die Ford Ranger se 32), maar dis omdat Mitsubishi nie enkel-kajuit modelle na die mark bring nie. Die voordeel van ʼn beperkte getal modelle is dat almal kan met dieselfde toerusting toegerus word, en is die enigste keuses wat hoef te beoefen of jy jou jou bakkie in 4×2 of 4×4 gewaad wil hê, en óf met ʼn handratkas of ʼn outomatiese eenheid.

Die sitplekke, in al die modelle, is met leer oorgetrek en kan die bestuurder sʼn elektronies verstel word. Die stuurwiel is met beheerknoppe vir spoedbeheer en media toegerus. Die paneel voor die bestuurder is oorgedra van die vorige model en lees dit steeds maklik en duidelik. Die verskille begin wys by die middelkonsole waar Mitsubishi ʼn nuwe kleur raakskerm ingespan het. Hierdie stelsel werk makliker, is die raak funksie nie stadig nie, en is Google CarPlay en Android Auto (albei opsioneel) ook nou deel van die pakket.

Jy kan ook jou USB stokkie en AUX draad met die musiekstelsel konnekteer, en vir die agterste passasiers is daar nou twee USB skokke. ʼn Tru-kamera word ook standaard tot die pakket gevoeg.

Lees: Dakar vs Athlete – Hilux loop sy rieme styf

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA

Enjin en ratkas

Soos reeds genoem is die aantal modelle wat die reeks uitmaak beperk, maar elkeen word deur dieselfde enjin gedryf. Die turbo-aangejaagde 2.4-liter diesel enjin word van die vorige model oorgedra en bly kragvlakke onveranderd op 133kW en 430Nm se wringkrag. Alhoewel die enjin altyd bereid is om enige taak aan te pak, het Mitsubishi ongelukkig nie die enjin aangepas om maksimum wringkrag laer af in die toere beskikbaar te hê nie. Piek wringkrag is steeds teen 2500rpm beskikbaar en moet die enjin bietjie aangemoedig word alvorens dit reageer soos mens wil hê dit moet.

Albei ratkas keuses is beskikbaar met ses ratte en het ons die top model, die 4×4 outomaties, by die bekendstelling geproe. Die ‘kas sukkel nie om weg te kom nie en hardloop dit sonder moeite van rat tot rat. Die outomatiese modelle het spane agter die stuurwiel waarmee mens van rat kan wissel en is dit heel aangenaam om hierdie funskie op ʼn bakkie te hê.

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA

Agter die stuur

ʼn Eienskap wat nog altyd in die Triton se guns getel het was sy padgedrag. Of dit nou op teer, grondpad of in die bos is, die Triton was maar nog altyd een wat nie op sy bek geval het nie. Dis dieselfde geval met die nuwe model. Mitsubishi het die agterste vere verder versterk en absorbeer dit die ongemak van ongelyke padoppervlaktes met soveel vertroue.

Hou ingedagte dat die Triton stééds met ʼn leer-raam onderstel beskikbaar is en mens kan jou amper misgis met hoe sag die bakkie ry. Puriste sal dalk daarteen skop dat dié bakkie soos ʼn kar ry, maar gegewe die feit dat bakkies deesdae vir leefstyl doeleindes aangeskaf word en nie harde, ongenaakbare werk nie, dan maak die Triton sin.

Lees: Triton hou sy lyf atleet

Selfs in die veld, op die 4×4 roete wat Mitsubishi uitgekies het, kon mens die bakkie in en oor hindernisse neem. Danksy ʼn grondvryhoogte van 220mm het die bakkie gewys waar Dawid die wortels begrawe het. Die vervaardiger het die tweede generasie van sy Super Select 4WD stelsel aangepas en is daar nou, op die 4×4 outomatiese model, ʼn ekstra funksie wat ‘Off-Road’ heet. Dit help net verder dat die bakkie met groter gemak sy take kan verrig. Hill Descent Conrol (HDC) verseker dat mens teen ʼn konstante spoed teen ʼn heuwel op kan klim óf teen dit afsak, en kan mens die stelsel se spoed met die versneller en remme beheer.

Die draaiknop vir die 4×4 stelsel word steeds tussen die voorste sitplekke aangetref.

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA

Slotsom

Die vorige model het baie opinies verdeel, veral wat sy ontwerp betref het. Mitsubishi het dit aangespreek en ʼn bakkie gebring wat in bykans alle fasette uitblink. Ja, piek wringkrag kon baie vroeër beskikbaar wees, maar op die pad sal mens dit nie sommer agterkom nie.

Die Triton sal moet uithaal en wys as dit bors aan bors teen gedugte kompetisie soos die Hilux en Ranger wil staan, maar eerste indrukke is dat die bakkie nie skaam is om vuiste te bult nie. Die probleem vir Mitsubishi, natuurlik, is nie dat die Triton sleg is nie – want dit is nie – maar eerder dat kopers nie wil afstand doen van dit wat hulle ken nie. Die Triton het nuwe lig op die segment kom werp en sal mens jouself ʼn onreg aandoen as jy nie ten minste kyk na wat dié bakkie te bied het nie.

Prys: 

  • Mitsubishi Triton 2.4L DI-DC M/T 4×2 – R509 995
  • Mitsubishi Triton 2.4L DI-DC A/T 4×2 – R529 995
  • Mitsubishi Triton 2.4L DI-DC M/T 4×4 – R569 995
  • Mitsubishi Triton 2.4L DI-DC A/T 4×4 -R589 995

Die nuwe Mitsubishi Triton kom met ʼn drie-jaar/100 000km waarborg, ʼn vyf-jaar/90 000km diensplan, en ʼn vyf-jaar/onbeperkte km padbystand.

Manskap,mitsubishi,triton,mitsubishi triton,bakkie,truck,pick-up,lp200,south africa,suid-afrika,new triton,2019
Foto: Mitsubishi SA