Nuwe naam, stééds die geharde ‘KB’

Isuzu,D-max,kb,isuzu d-max,bakkie,suid-afrika,manskap,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Corbin Raymond

Vir jare was die Isuzu KB een van Suid-Afrika se beste dubbelkajuit bakkies. Naas die Toyota Hilux en Ford Ranger was dit onder die eerste keuses wanneer voornemende kopers wil opgradeer. En dit wil gedoen wees, want elke maand was daar oor die duisend eenhede van die hand gesit. Die bakkie se sukses hier by ons was ongetwyfeld gesteun die fabriek in Port Elizabeth waar die bakkie aanmekaar gesit word.

Met General Motors wat aangekondig het dat hulle nie meer Opel en Isuzu onder hul vlerk gaan akkommodeer nie, moes Isuzu hul eie potjie krap en deel van die krap was dat hulle nou die KB alleen moes bou. En tot op hede, sedert die skei laas jaar, het Isuzu nie hul vlaggie laat val nie. Maar 2018 was ʼn groot jaar vir Isuzu, want hulle het ʼn vernuwe weergawe van hul KB bekend kom stel. Nie net dit nie, die bakkie het ook ʼn nuwe naam gekry.

Isuzu,D-max,kb,isuzu d-max,bakkie,suid-afrika,manskap,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Corbin Raymond

Hello, D-Max

Isuzu het die KB-naam gelos en besluit om sy bakkie na die D-Max te herdoop, maar die nuwe naam beteken nie dat Isuzu ʼn heel nuwe rigting ingeslaan het nie. Altans, nog nie. Die D-Max gaan voort met die bekende ontwerp wat die KB gehad het, met dagry-LED ligte wat nou standaard tot pakket gevoeg is.

Ons toetsbakkie, die D-Max 300 4×4 LX, het ʼn voorkant wat nou baie forser en modern is, met misligte wat nou by die voorste buffer geïnkorporeer is. Die sy- en agterkant is grootliks onveranderd gelaat, behalwe vir die ‘4×4’ en ‘D-Max’ plakkers wat hul weg na die bakwerk gevind het. Daar is ook ʼn stewige stel 16-duim bande wat regstaan om takies aan te vat.

Binne is die kajuit ook vernuwe en meer modern gemaak en kry mens sommer gou die gevoel dat Isuzu genoegsame aandag aan die binneruim geskenk het. Isuzu sê dat die LX modelle in die nuwe D-Max reeks spesiale aandag gekry het en dit is opmerklik by die nuwe multimedia stelsel wat voor op die middelkonsole pronk. Van hier kan mens jou musiek beheer, sowel as satelliet navigasie. Op die stuurwiel is daar beheerknoppe vir jou musiek en die spoedbeheer.

Die sitplekke word in leer afgewerk.

Isuzu,D-max,kb,isuzu d-max,bakkie,suid-afrika,manskap,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Corbin Raymond

Nuwe ratkas

Iets wat mens nogal opgewonde maak op die nuwe D-Max is dat daar nou ʼn nuwe ses-spoed handrat kas tot die reeks gevoeg. Weg is die vyf-spoed handratkas wat afgesteek het by die kompetisie. In die 300 4×4 LX word dié ‘kas word aan Isuzu se betroubare 3.0-liter dieselenjin gekoppel wat krag na die wiele kanaliseer. Tussen die voorste sitplekke is ʼn draaiknop waarmee mens die 4×4 stelsel kan aktiveer.

Die enjin lewer steeds 120kW en 380Nm se wringkrag, maar laasgenoemde is aansienlik minder as wat die Hilux (2.8-liter, 420Nm), Ranger (3.2-liter, 470Nm), en Mitsubishi Triton (2.4-liter, 430Nm) bied. Tog het die bakkie geen probleem om deur die ratte te woel nie en skakel dit met gemak oor na die volgende rat. Daar is ʼn baie sterk meganiese gevoel op die ratkas, maar ten minste weet jy dat jy nou ʼn bakkie ry. Daar is genoegsame trekkrag wanneer mens op dreef is en die bakkie draf lekker gemaklik teen snelhede.

Lees: Modder-geveg in die Isuzu KB!

Die bakkie handhaaf ook enige 4×4 takies met groot gemak. Sit die ratkas in neutraal, aktiveer die gekose 4×4 modus, en sien hoe die bakkie alles hanteer. In dik, los sand (waar ons die bakkie se vermoëns op die proef gestel het) en die bande wat tot 1bar afgeblaas is, het die D-Max oor die heuwels en sandbankie geseil. Daar was geen sprake of aanduiding dat die taak te groot was nie en was dit lekker om die bakkie in ʼn uitdagende situasie te sit.

Isuzu D-Max 3.0TD in 30sek

Vinnige draf deur die sand in die Isuzu South Africa D-Max, voorheen bekend as die KB.#ManskapSA #Isuzu #DMax #IsuzuDMax

Posted by Manskap on Saturday, 1 December 2018

Slotsom

Dalk was daar sommige wat gedink het dat GM se wegdoening van Isuzu die Japanese vervaardiger in die donker sou los, maar dit was alles behalwe die geval. En hier in Suid-Afrika is lyk die toekoms glad nie donker nie. Die KB is wel nie meer nie en die D-Max huldig ʼn nuwe era in, maar die produk is steeds betroubaar Isuzu. Die werkesel wat ons leer ken het is steeds hier, maar onder ʼn nuwe naam.

Die D-Max het sedert sy toelating tot die mark goed verkoop en tel steeds elke maand onder die topverkopende bakkies in ons mark. Dit wil dan voorkom dat die D-Max se toekoms verseker is en dat ons gerus kan slaap; wetend dat ʼn ou gunsteling stééds met ons is.

Isuzu,D-max,kb,isuzu d-max,bakkie,suid-afrika,manskap,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Corbin Raymond