Nuwe X-Klas maak sy buiging

Mercedes-Benz X-Class
Foto: Mercedes-Benz SA

Mercedes-Benz het sy nuwe X-Klas bakkie plaaslik bekend gestel, maar dit word gou duidelik dat dié bakkie nie kom klei koekies bak het nie.

Die X-Klas is geskoei op die Nissan Navara wat vroeg in 2017 aan eie bodem geland het en deel die twee bakkies heelwat komponente. Maar net omdat dit op dieselfde argitektuur gebou word moet die X-Klas nie vir ʼn fêncy Nissan misgis word nie, want dit sal ʼn baie groot fout wees. Die X-Klas het sy eie identiteit, sy eie doel, sy eie missie, en sy eie punt wat hy in die mark moet kom maak.

Mercedes-Benz loods die X-Klas as die eerste premium bakkie in Suid-Afrika en is dit duidelik dat die Toyota Hilux, Ford Ranger, Volkswagen Amarok, en selfs die Navara, nie die X-Klas se enigste kompetisie is nie. Hierdie bakkie het ʼn plan om nuwe kopers na die drie-punt ster te lok en ʼn geheel nuwe mark vir homself oop te kap.

‘Premium’ pakket

Ek sal nie stry nie; mens moet amper ʼn tweede keer kyk net om seker te maak dat dit wel ʼn bakkie met Mercedes-Benz se ster voor op sy neus is. Dis ongewoon, maar die X-Klas het die plaaslike motormark van meet af geïntreseer. Niemand verwag, of hét verwag, dat Mercedes-Benz dit sou deurvoer nie, maar die tyd hiervoor is ryp. En met die Duitse vervaardiger se werkesels (bussies en trokke) wat groot sukses onder kopers geniet moes hulle net die kans vat. Die X-Klas is daardie kans.

Die X-Klas is beskikbaar in twee afwerkingsvlakke, naamlik Progressive en Power. Progressive het, byvoorbeeld, ʼn voorste buffer wat in plastiek afgewerk is, terwyl die Power modelle chroom-afwerking het. Die Progressive modelle het ook gewone halogeen ligte, maar opsionele pakkette laat toe dat dit opgradeer word na LED eenhede. Die Power modelle het LED ligte as standaard. Plus, die hele reeks bied ʼn trekstang as standaard. Daar is ook ʼn verskeidenheid opsies van hoe mens die laaibak kan toemaak, wat insluit ʼn kappie en minstens drie ander bedekkings opsies.

Binne sit Merc die premium gevoel voort met ʼn reeks maniere van hoe mens jou bakkie kan optooi. Daar is steeds harde plastiek om die gevoel van bakkie te skep, maar dit doen min om die gevoelentheid van “dis ʼn Merc” af te skud. Kenmerkende eienskappe dat dit ʼn Mercedes-Benz is kom sterk deur en is daar selfs die multi-media stelsel wat die vervaardiger in sy ander modelle inspan. Daar is elektriese sitplekke wat standaard op sekere modelle aangebring word, asook ʼn 360-grade kamera wat presies wys wat reg rondom die bakkie aan’t gebeur is. In die geheel is die X-Klas ʼn baie lekker plek om te sit en is dit beslis die bakkie met die binneruim wat die meeste aan ʼn gesinskar of SUV herinner. Sommige sal nie daarvan hou, terwyl ander die eenvoudig, dog fraai, binneruim heelhartig sal verwelkom.

17-duim wiele is standaard, maar 18- of 19-duim wiele is opsioneel beskikbaar.

A post shared by @manskapsa on

Van die pad af

Die X-Klas deel sy enjin, ratkas, en onderstel met die Navara, maar Mercedes-Benz het te kenne gegee dat hulle “100%” aan elke aspek van die motor geraak het om dit anders as die Navara te maak. Juis omdat hulle daardie aanname wil afweer.

Vir die bakkie se eerste fase in SA sal slegs een enjin-opsie beskikbaar wees, maar met twee kragvlakke. In die X220d modelle lewer die 2.3-liter enjin 120kW/403Nm, en in die X250d modelle 140kW/450Nm. Die X220d is slegs beskikbaar as ʼn agterwiel-gedrewe bakkie en met ʼn ses-spoed handratkas, terwyl die X250d as beide ʼn 4×2 (outomaties) of 4×4 (handrat óf outomaties) beskikbaar is.

Mercedes-Benz het omtrent ʼn roete en ʼn half gekies waar media verteenwoordigers die bakkie goed op die proef kon stel. Die X250d 4×4 handrat was my wapen van keuse en moes die bakkie sy staal in mergelende omstandighede toon. Eerste was ʼn 4×4 baan wat die bakkie se vernuf getoets het. Eers moes die bakkie met ʼn massiewe afdraende afreken en het Merc dit gedoen sodat sy DSR stelsel (basies afdraende beheer) getoets kon word. Met die bakkie se neus wat op die bodem gemik is en 4×4 met laestrek en DSR geaktiveer, laat gaan mens van die remme en laat dan toe dat die bakkie op sy eie vorentoe kruip. In 4×4 High en DSR aktief sluier die bakkie vorentoe teen 8km/h, maar in 4×4 Low is hierdie spoed 5km/h.

Verder was die bakkie se klou vermoë teen ʼn skuinste van bykans 49° ook van nader bekyk, asook hoe die bakkie se grondvryhoogte van 221mm oor menige groot rots of wal kan seil. Vir die Suid-Afrikaanse mark het Mercedes besluit om die bakkie met hierdie grondvryhoogte beskikbaar te stel. Die bakkies het nou wel nie gaan swem nie, maar Mercedes-Benz voer aan dat sy X-Klas deur ʼn waterdiepte van 600mm kan ry.

Die bakkies het ook oor ʼn verskriklik klipperige een-voertuig roete gery en was die suspensie goed getoets. Met die suspensie wat met die Navara gedeel word was mens te wagte dat dit ʼn sagte rit sou bied, maar Merc het die onderstel aangepas en bied die suspensie nou beter gemak. Voor én agter het die bakkie ʼn multi-skakel suspensie, maar die by die agterwiele is dit die Navara se vyf-punt skakel suspensie wat ook deur Mercedes-Benz onderhande geneem is. Dit het gemaak dat, alhoewel daar baie geskud was, mens nie so moeg en seer aan die einde van die roete was nie. Die bakkie absorbeer ongelyke oppervlaktes vir die bes moontlike bestuurservaring.

Op die teerpad was padgeraas tot ʼn minimum beperk en het die bakkie sonder moeite heuwels en gelyke oppervlaktes kaf gedraf. Stuurgevoel was nie té dood nie en was daar genoegsame terugvoering. Bakrol was ook baie goed beperk omdat Merc die bakkie se wydte breër as die Navara sʼn gemaak het.

Duur, maar…

Omdat Mercedes-Benz die X-Klas as ʼn premium bakkie bemark, reflekteer die pryskaartjie daardie modus operandie. Teen R642 103 vir die intree-vlak model is die X-Klas nie goedkoop nie. Dis bitter duur en kan mens seker met reg wonder wie hierdie bakkie sal koop. En dis juis die ding: daar is ʼn mark vir hierdie bakkie. Suid-Afrikaners koop lank nie meer bakkies net vir die doel as werkesels nie, maar as ontpanningsvoertuie. Die behoefte na ʼn bakkie vir leefstyl doeleindes was eers deur Nissan met sy Navara aangespreek en hieruit het die X-Klas gespruit. Kopers wat iets anders soek én dit kan bekostig sal nie skroom om by Mercedes-Benz te gaan aanklop nie. Die behoefte na ʼn bakkie wat méér ruimte as ʼn gesinskar bied met die praktikaliteit van ʼn luukse SUV was nog altyd daar en was dit net nodig vir ʼn vervaaardiger van premium voertuie om die risiko te neem.

Die X-Klas se pryse is as volg:

X220d 4×2 Progressive (hand) – R642 103
X250d 4×2 Progressive (outo) – R694 025
X250d 4×4 Progressive (hand) – R696 785
*X250d 4×4 Progressive (outo) – R723 810
X250d 4×4 Power (hand) – R791 315
*X250d 4×4 Power (outo) – R818 340
*Handrat modelle is standaard, maar outomatiese modelle is opsioneel beskikbaar.

Die X-Klas is beskikbaar met Mercedes-Benz se PremiumDrive pakket; ʼn ses-jaar/100 000km onderhoudsplan. Teen ʼn koste kan dié tydperk tot agt-jaar/180 000km verleng word.

Slotsom

Hoe die nuwe X-Klas se toekoms daarna uitsien sal interesant wees, want dit is ongekende terrein vir beide die vervaardiger én kopers. Wat wél seker is is dat die produk in die geheel baie goed is en dat dit sy man teen alle en enige kompetisie sal kan staan. Die mark vir nuwe bakkies is beslis in ʼn omwenteling vasgevang en sal dit nie lank wees voor ons méér premium vervaardigers sien wat bakkies produseer nie.

Ongeag die gevoel van tradisievas bakkie manne en vroue wat voel dat bakkies ʼn sekere manier moet ry en ʼn sekere onderstel moet hê, het Nissan en Mercedes-Benz daardie status quo kom aanvat en die boeke herskryf; albei in eie reg. En rakende die X-Klas: of ons nou wil of nie, hierdie bakkie het iets kom wakker maak en sal Merc as eerste premium bakkie bouer beslis munt uit die situasie wil slaan.

A post shared by @manskapsa on

2 Trackbacks / Pingbacks

  1. Nissan Navara verander die game, vir altyd | Manskap
  2. 2019

Comments are closed.