Nuweland ‘pop’ toe Etsebeth opdraf

Manskap,rugby,stormers,stormers vs lions,nuwelanfd,siya kolisi,eben etsebeth
Foto: Verskaf

Kom ons praat nou mooi reguit met mekaar, want die DHL Stormers het verdien om die afgelope naweek se kragmeting teen die Emirates Lions te verloor. Punt. Gelukkig vir die tuisspan het hulle die spel tot in die 86ste minuut aan die gang gehou en kon hulle die sege beklink. Maar o vader, die Stormers het sleg gespeel.

Enige aanhanger van die Kaapse span sal vir jou met eerlikheid kan sê dat die Stormers se spel die afgelope twee naweke lelik tekort geskiet het en is hulle gelukkig om nie twee verlore agtermekaar te kon kry nie. Twee Saterdae terug, teen die Bulle met die aanvang van die 2019 Super Rugby seisoen, het hulle 40-3 verloor, en nou Saterdag kon hulle darem verlore aansien terug wen met ʼn 19-17 oorwinning oor die Lions.

Maar blêddie hel, man, dit was ʼn morsige game wat die Nuweland skare se woordeskat uitgebrei het. En alhoewel ek my goed gedra het en eerder my gesig die praatwerk laat doen het, kon ek nie help toe ʼn “Wat de f..!” uitglip nie.

Stormers trek swaar

Toe spel begin was die Stormers, onder die leierskap van Siya Kolisi, vuurwarm en aan die brand. Hulle het getackle en gestoot asof die game binne die volgende minuut oor en verby gaan wees en die skare was op hul voete want dit lyk asof die span die vorige week se vernedering verwerk het. “Yes, die Stormers is terug!” het die Stormers faithful seker gedink soos daar om die bal gekompeteer word, maar skielik, so uit die bloute, kry Kwagga Smith die bal en beur oor die doellyn om eerste vir die Lions punte aan te teken.

O bloed, wonder ek by myself soos Elton Jantjies die bal tussen die pale deurskop om die telling 7-0 te maak. Die Lions is mos nie verniet die laaste paar jaar Suid-Afrika se top Super Rugby span nie. Iemand, gou, gaan vra vir TwinSavers om ons te borg, want hier kom groot… bollie!

Maar die spel gaan aan, die skare raak stiller, die ref blaas slegter, en die frustrasie bou soos ʼn verstopte drein in my keel op. SP Marais het darem die Stormers op die telbord gekry met ʼn verdoelde strafskop, maar minute later is die Lions kaptein, Warren Whiteley, oor die doellyn om dit 12-3 te maak. En danksy Gladdekop Jantjies word die telling 14-3. Aan die einde van eerste helfte was die telling darem 14-6, maar die ontsteltenis in die skare kort dringend ʼn regmaak.

Manskap,rugby,stormers,stormers vs lions,nuwelanfd,siya kolisi,eben etsebeth
Stormers kaptein, Siya Kolisi, val vas teen die Lions se verdediging. Foto: Verskaf

Eben is terug!

Jantjies kry die tweede helfte aan die gang en weer is dit die Stormers wat met lus speel, maar ek is versigtig om nie té opgewonde te raak nie want die eerste helfte het ook so begin. Marais teken binne die volgende 20min twee keer vir die Stormers punte aan om die punteverskil te verklein (14-12), maar Jantjies rek die besoekers se voorsprong met drie punte tot op 17 punte.

Teen dié tyd is die Nuweland faithful al verby kwaad en word die spelers allerhande goed toegesnou. Ongedwonge foute word gemaak, swak keuses word uitgeoefen, maar dan kom die keerpunt: Eben Etsebeth maak sy terugkeer tot die span en skielik is die skare op hul voete.

Dis nie lank nie en die groot slot maak ʼn impak. Die Stormers se enjin het nuwe woema gekry en vir die eerste keer in die wedstryd – werklik vir die eerste keer – is daar hoop dat die Stormers die game kan wen.

Dis ʼn gestoei, maar die Lions se verdediging wil nie breek nie. Naby aan die doellyn… nog nie reg nie. ʼn Vinnige lynstaan… ook nog nie. Wat van ʼn skrum? Nee, dit help ook nie. Maar die Stormers hou aan om te baklei en te druk, tot in die 80ste minuut dat die sirene blaas. Ag shit, die game is verby.

Nee, wag! Dis nog aan die gang! Die Stormers hou die bal lewendig!

Vir die volgende ses minute is die Stormers in die Lions se kwartgebied, sukkelend om oor die doellyn te kom. Maar die Lions gee nie bes nie. En dan skielik skiet die Stormers se plaasvervanger skrumskakel, Hershel Jantjies, uit van agter die skrum om die bal onder die pale te plant.

Drie! Die telling is gelykop! 17-elk, met Marais se doelskop wat nog moet kom. Kry hy dit oor en die Stormers wen hierdie tawwe game 19-17. En hy maak toe net so om aan die Stormers die sege te gee. Was die wen ʼn verdiende een? Nie in die minste nie, maar ʼn wen is ʼn wen en die Stormers sal dit met needrigheid moet neem.

Dit gaan ʼn baie lang seisoen vir dié Kaapse span wees, maar hopelik kan die Stormers op hul vertoning in die tweede helfte bou.

Manskap,rugby,stormers,stormers vs lions,nuwelanfd,siya kolisi,eben etsebeth
Eben Etsebeth maak dadelik ‘n impak op die spel. Foto: Verskaf