O Kwid, wat het Renault gedink?!

renault kwid
Foto: Charlen Raymond

Om ʼn kar nuut te koop is nogal ʼn duur oefening in Suid-Afrika. En gegewe dat belasting met ʼn persentasie opgeskuif is na 15% toe sodat ons vir die vader se sondes moet betaal, is dit nou nóg duurder. Ai, sal JZ ons so ʼn lelike streep trek.

Maar uit Frankryk se geledere het Renault met ʼn plannetjie vorendag gekom en die plannetjie se naam is die Kwid. Geontwerp, gebou, en bemark as bekostigbare stadsmotor, is die Kwid veronderstel om ʼn “bekostigbare alternatief” te wees. Tot en met ʼn paar maande terug was daar net handrat modelle beskikbaar, maar Renault het onlangs die reeks uitgebrei met die toevoeging van ʼn outomatiese model, die Dynamique auto.

Dieselfde ontwerp

Die outomatiese Kwid lyk nie enigsins anders as die handrat modelle nie en behou dit dieselfde ontwerp waaraan mens gewoont geraak het. Dis steeds hoekig met daardie dun wieletjies wat lyk of dit uit die koekieblik kom. Dit staan ook hoog in sy skoene danksy ʼn baie hoë grondvryhoogte van 183mm. Dis bitter hoog vir ʼn stadskarretjie en kon die Kwid net sowel ʼn kruisvoertuig gewees het. Laairuimte is nie baie groot nie en die agterste sitplekke kan plat slaan, maar die Kwid moet doen sonder ʼn spaarwiel.

Binne is dit maar ʼn spaartaanse affêre met net die nodige bykomstighede wat mens sou verwag. Daar is elektriese vensters vir die voorste passasiers, lugversorging, kragstuur, en… Hmmm, dis dit. Mens kan nie die kantspieëls van binne verstel nie en moet die spieëltjies fisies in posisie gedruk word én daar is ook nie die funksie om die mis op die agterruit op ʼn koue oggend te verwyder nie. Nóg minder is daar ʼn ruitveër agter.

Wat wel ʼn persoonlike hoogtepunt van die binneruim is is die mediastelsel wat die Kwid mee toegerus is. Jislaaik, ander vervaardigers kan hul ou skoene agterna gooi! Hierdie stelsel, met sy 7-duim raakskerm, kan meeste elektroniese toestelle lees, het Bluetooth, én dit het satellietnavigasie. Satellietnavigasie in ʼn ander motor wat minder as R150 000 kos? Jy moet dit glo.

Beskostigbare outo

Vir net onder R147 900 kan mens hierdie outomatiese Kwid aanskaf. Snaaks genoeg, die Kwid is die enigste kar vir onder R150k wat met ʼn outomatiese ‘kas gebied word. Maar die ratkas is meer van ʼn verwarring as enigiets anders. Dit begin met Renault se besluit om eerder ʼn draaiknop in plaas van ʼn gewone hefboom te gebruik. Onmiddellik maak dit ruimte tussen die voorste sitplekke oop wat nie benut word nie; behalwe vir ʼn houer of twee. En om die karretjie aan te skakel is ook ʼn proses op sy eie.

Draai die sleutel totdat al die liggies op die vertoonskerm voor die bestuurder verskyn, wag drie sekondes, voet op die remme, en skakel dan die Kwid aan. Dis ʼn omslommernis en ʼn onnodigheid, want sou daar enige gevare op die pad wees en mens moet vinnig spore maak, kan jy nie die slegte ou vir drie sekonde grasie vra nie.

Op die pad raak dit nie baie beter nie en is ratskakeling maar traag. Renault het probeer om die oorskakeling van ratte soos dié van ʼn handrat te laat voel en is dit asof daar ʼn koppelaar getrap word alvorens ratte verwissel. Om dit in beter perspektief te sit: verbeel jou jy het keelinfeksie en sukkel om te sluk. Daardie sukkel om te sluk is hoe dit voel wanneer die Kwid van ratte verwissel. En wanneer jy jou voet skielik in die versneller begrawe, raak die vyf-spoed ratkas so van sy kop af en haak sommer twee of drie ratte laer.

Padgedrag is baie los en sweef die kar meer as enigiets anders, maar ten minste is dit ʼn lewendige ondervinding. Die kar word aangevuur deur dieselfde 1.0-liter enjin (50kW/91Nm) wat in die handrat modelle diens doen en voer Renault aan dat petrolverbruik 4.7-liter/100km is.

Slotsom

Die outomatiese ratkas wat Renault in die Kwid ingespan het is nie die Franse vervaardiger se beste oomblik nie. Daar is baie goeie karre in sy modelreeks en outomatiese ratkaste wat so soet soos stroop is (soos die een in die Duster). Maar Renault het die Kwid eintlik goedkoop gemaak met hierdie ratkas. Mens verstaan dat die Kwid die maandelikse begroting moet klop en om daardie rede is afwerking en toerusting nie uit die boonsta rakke, maar die ratkas doen eintlik afbreek aan die Kwid-reeks as geheel.