Onderskatte Alfa kou harde klippe

Stelvio,alfa romeo,alfa romeo stelvio,suv,suid-afrika,south africa,manskap,
Foto: Charlen Raymond

Dis ietwat ongehoord om die boendoes met so ʼn duur wa in te vaar, maar soms moet mens jou vrese terug skuif en net doen. Dis presies wat gebeur het toe ek met die Alfa Romeo Stelvio Noord-Kaap toe gery het. ʼn Ongewone voertuig om die onnaakbare natuur mee aan te vat, maar nogtans iets spesiaals vir dit wat beplan word.

Die Stelvio wat ek die 1 900km toer mee gaan aanvat is nie die First Edition nie, maar eerder die 2.0T Super Q4. Teen R834 900 is dit nie die tipe motor wat jy rowwe goed mee wil aandurf nie, maar met nadere inspeksie sien ek dat die wit gevaar regte SUV bande op het. Nie daardie dun goed wat op sypaadjie hoppers gesit word nie. Dis regte 18-duim wiele wat gemaak is vir grondpad en die rots wat jy selde oor moet klouter. Dadelik maak dit die gemoed stil, maar hier diep binnekant weet ek dat wat hierdie SUV moet deurmaak amper net so erg is soos Suid-Afrika wat uit haar administratiewe gemors moet klouter.

Met die petroltenk vol en die 640L kattebak tot bo gelaai, val ons teen 04h30 in die pad. N7, hier kom ons!

Stelvio,alfa romeo,alfa romeo stelvio,suv,suid-afrika,south africa,manskap,
Foto: Charlen Raymond

Suiker voort

Die Stelvio hardloop teen ʼn gemaklike spoed die N7 uit. Daardie tyd van die oggend is die pad stil, so dis net ek, die SUV, en die bande wat met die teer gesels. Spoedbeheer maak dit maklik om lag-lag teen konstante snelhede aan te gaan én dit help ook om oordadige petrolverbruik te beperk. In Piketberg staan ek vir ʼn oomblik stil om net weer die voorruit te was en dan verder ry.

Padgedrag op die Stelvio is goed en is die stuur lekker stewig tussen jou hande. Die draai-sirkel is net ʼn bietjie knap wanneer jy skerp moet draai, maar andersins is die balans baie goed. En daai balans word ondersteun deur ʼn lyf wat maar slegs 1 660kg weeg. Dis deksels lig vir ʼn SUV in hierdie klas; wat beteken dat wanneer mens jou voet plant, die SUV sonder moeite vorentoe skiet. Maar dan moet die DNA ritmodus seleksie in D wees; vir Dynamic.

Nou is die versneller lus vir getrap wees en byt die 2.0-liter turbo-enjin se 206kW/400Nm aan die stang soos dit wil hardloop. Dié wa wil weglê. Natuurlik sal petrolverbruik negatief beïnvloed word, maar ʼn mens kan nie ʼn prys op lekkerkry sit nie. Al kos dit al amper R17/liter.

Lees: My erfenis – Terug op die familie-spoor

Maar dan kom die Stelvio teen sy eerste groot taak te staan as daar van die teer afgedraai en besoek aan Kliprand in die Knersvlakte afgelê word. Dis ʼn slegte stukkie grondpad en al loop die SUV op net die regte bande vir hierdie gemors van ʼn pad, weier ek om die noodlot te tart. Skud-skud ploeter ons voort en skielik slaan die grondpad die eerste slag. Die Stelvio se elektronieka hardloop ʼn bietjie deurmekaar en lees die waarskuwings dat beide die 4WD-stelsel én elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) gedeaktiveer is! Dadelik voel die SUV onvas op sy voete. Selfs teen onder 50km/h is dit ʼn gegly oor die grondpad en kan mens nie anders as om later teen ʼn slakkepas te kruip nie.

In Kliprand gekom skakel ek die Stelvio af, loop en loer om en onder die SUV om seker te maak dat alles nog okay. Skakel dit weer aan… boom! Alles is weer terug na normaal. Bliksem, nou wil ek net terug op die N7 kom. Ek verstaan nou hoekom mense dit die Knersvlakte noem.

Stelvio,alfa romeo,alfa romeo stelvio,suv,suid-afrika,south africa,manskap,
Foto: Charlen Raymond

Veld toe

Oor die volgende paar dae moet die Stelvio Super Q4 met terrein baklei wat méér grondpaaie, los sand en klipperige roetes insluit wat jou werklik laat voel of iets enige oomblik verkeerd sal loop. Tog het die Alfa Romeo gewys dat dit oor die nodige vermoëns beskik om jou nie in die steek te laat nie.

Twee van die bestemmings wat die Stelvio moes opsoek was ʼn ou plaashuis en ʼn plaasskooltjie iewers in die veld. Daar is nie roetes om van te praat nie, maar eerder paaie wat soos Jeep tracks lyk en ook net deur die plaaslike mense op hul donkiekarre gebruik word. Maar hier is ons nou, in ʼn wa wat oor die R830k kos en al roete wat jy kan volg is vorentoe. By plekke kan jy darem 60km/h haal, maar die meeste van die tyd is dit stop-ry wat toegepas word. Dit kos mooi mik met die voorste wiele en dan seker maak dat die agterstes volg. Sommige rotse en klippe het so goddeloos gelyk dat een van my passasiers by kolle moes uitklim en my moes sê waar om die wiele te plaas.

Die rede hiervoor is dat alhoewel die Stelvio ʼn grondvryhoogye van 200mm het, die voorkant steeds laag is dat dit oor die klippe kan skuur. En dan loop jy die risiko dat die voorste buffer af kan val, wat jou derduisende uit die sak kan jaag. Braaf om met die Stelvio hierdie tog aan te vat, maar ook sommer baie Bang Jan.

Mens kan natuurlik die DNA ritmodus in Normal of All-terrain (maak versneller, ratkas en enjin minder sensitief) sit, maar Dynamic was deurentyd die keuse. Dis altyd lekker wanneer jy die versneller trap en die krag is van meet af beskikbaar. En hier het Alfa Romeo nogal die spyker mooi op die kop geslaan. Plus daardie lae gewig maak ʼn groot verskil in die veld en los sand.

Stelvio,alfa romeo,alfa romeo stelvio,suv,suid-afrika,south africa,manskap,
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Gedurende die toer, op nasionale paaie, het windgeraas nogal sterk deurgekom. Ja, klankdemping blyk goed te wees, maar die groot kantspieëls skep ʼn ruimte vir die wind om saam te praat. Aan die binnekant is die uitleg van die kontrole baie goed en is dit maklik om gou met alles bekend te word, maar teen hierdie prys sou mens verwag dat daar ten minste voorste verhitters op die sitplekke sou wees, sowel as ʼn elektroniese verstel funksie.

Die kantspieëls het nie ontwasemers nie en daar is ook nie blindekolgonsers nie.

Afgesien van dit wat die Alfa Romeo Stelvio Super Q4 nie het nie, het dit die nodige skietgoed om van dit een van die ideale, dog onderskatte langpad waens te maak. Ons mense is versigitg (bang, miskien) om hul vertroue in minder bekende vervaardigers te sit, maar iewers tussen al die klippe en rotse is daar ʼn juweel wat wag om ontgin te word. Die Stelvio het genoeg in die sak om dit te laat geld; die taak is net om die publiek daarvan te oortuig.

Ek het lank laas só baie van ʼn onderskatte ryding gehou…

Stelvio,alfa romeo,alfa romeo stelvio,suv,suid-afrika,south africa,manskap,
Foto: Charlen Raymond