Onthou jy nog die Mazda3, meneer?

Manskap,mazda,3,mazda3,cape town,south africa,kaapstad,suid-afrika
Foto: Mazda SA

Mazda kom nou al blou jare in Suid-Afrika aan, maar dit was ook eens op ʼn tyd ʼn populêre keuse onder kopers. En die motors wat Mazda gebou het was glad nie te versmaai nie. Net ʼn dekade terug was die Mazda2 die Suid-Afrikaanse motor van die jaar wenner en kon mens nie uitgepraat raak oor hierdie klein karretjie wat die tonge laat klap nie. En dit vir ʼn Mazda, nogal!

Maar dis elf jaar later en Mazda slaan net nie die hoogtes wat dit daai tyd geslaan het nie. Jaar in en jaar uit word die modelle in sy stal net hier en daar reg getrek, maar daar is nie enige noemenswaardige veranderinge om die motors se aansien in die land te verbeter nie. Die Mazda3 was ook nie oor die jare veel verbeter nie en terwyl ouens soos die Volkswagen Golf en Opel Astra heel nuwe weergawes gesien het, moes die Mazda 3 maar by sy resep hou.

Het dit die motor se aansien in Suid-Afrika negatief geraak? Of klou dit nog vas aan ʼn hoop dat sy koper nie van die handelsmerk sal afstand doen nie.

Geen turbo?

Nes baie ander Japanese vervaardigers is Mazda maar sku om turbo enjins in sy motors te sit. Diesel modelle het nou wel turbo-aanjaging, maar die petrol modelle is óf met ʼn 2.0-liter óf 2.5-liter enjin toegerus; sonder ʼn turbo. Nou dis alles goed en wel en ʼn mens kan Mazda se skop teen die appelkar waardeer, maar die mark en die tye het aanbeweeg; weg van groot enjins af.

Volkswagen, Ford, Opel, en nou ook Toyota met sy nuwe Corolla, gebruik almal klein, turbo-aangejaagde enjins wat dieselfde kragvlakke as Mazda se geen-turbo 2.0-liter bied. In hierdie geval slaan die kompetisie vir Mazda bloedneus wanneer dit by petrolverbruik en verrigting kom, en kan Mazda nie anders as om toe te kyk hoe die mark onder hom weg beweeg nie.

En dis sleg, want Mazda se 2.0-liter is nie ʼn slegte enjin nie. Kraglewering is glad en die ses-spoed outomatiese ratkas skakel met ʼn soepelheid oor. Die Mazda3 Astina Plus (outomaties) beskik oor 121kW en 210Nm en dit word baie goed na die teer oorgeplaas. Omdat mens weet dat die enjin nie ʼn turbo het nie, is dit te wagte dat verrigting nie warm sal wees nie. En wanneer jy die motor aanvaar vir wat dit is, dan kom jy agter hoe lekker dit eintlik is. Dan kan jy aandag skenk aan die manier hoe die motor stuur, hoe dit oor die spoedwalle en ongelyke paaie ry, hoe hobbels absorbeer word en jy die deksels goeie rit kan geniet.

Natuurlik sou ʼn turbo verrigting aanspoor, maar jy sit steeds met ʼn kar wat van 0-100km/h sal spring in nege sekondes en ʼn top spoed van 198km/h sal behaal. Tog, indien jy ʼn lewendiger reaksie van jou Mazda verlang, aktiveer net Sport modus. Die Kaap sal nie Hollands wees nie, maar tog.

Manskap,mazda,3,mazda3,cape town,south africa,kaapstad,suid-afrika
Foto: Charlen Raymond

Goed toegerus

Afgesien van die enjin, staan die Mazda3 Astina Plus op alle ander terreine nie terug nie. Die kar is verskriklik goed toegerus en sal mens ver en hard moet soek vir iets in sy segment wat dieselfde waarde bied. Ons almal weet dat Volkswagen gee vir jou die mees basiese kar teen ʼn verskriklike hoë prys, maar Mazda, ten minste, gee vir jou ʼn motor wat van bykans alles voorsien is.

Om mee te begin is daar ʼn sondak wat standaard met die kar kom. Dis nie nodig om nog te vra hoeveel dit sal kos om dit opsioneel te installeer nie, want dis reeds daar. Verder is daar leersitplekke en word die voorste sitplekke elektronies verstel. Die multimedia stelsel word met ʼn draaiknop tussen die voorste sitplekke beheer, en het die vertoonskerm ook ʼn raakfunksie. Soos mens kan verwag is die raakskerm ook die tuiste vir die radio en satelliet navigasie, sowel as waar mens musiektoebehore (Bluetooth, USB, AUX) kan beheer. Jy kan dit ook vanaf die knoppies op die stuurwiel beheer.

Rakende veiligheid is die Mazda3 Astina Plus ook wel belese en spog dit met blindekol gonsers, ʼn waarskuwing vir wanneer jy uit jou baan beweeg, en ʼn tru-kamera wat op die raakskerm wys hoe ver of naby jy aan ʼn objek is. Sleutellose toegang en -aanskakel is standaard, maar die deure sluit nie outomaties nie.

Mazda het regtig nie enige toevoeging (binne rede) ontsien toe hulle die Astina Plus aanmekaar gesit het nie. Nie net lyk die pakket op papier aantreklik nie, maar dit is in werklikheid ook ʼn staatmaker produk.

Manskap,mazda,3,mazda3,cape town,south africa,kaapstad,suid-afrika
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Daar is ruimtes waarin Mazda sy 3 kan verbeter, maar die model wat tans in die mark is het min wat teen hom tel. Die produk is goed, is goed aanmekaar gesit, en bied baie vir die prys. Die tendense vereis natuurlik dat die Mazda3 met ʼn turbo enjin toegerus moet wees, maar dit lyk of Mazda geen planne het om daardie roete te volg nie. Die heel nuwe model sal in alle waarskynlikheid in 2019 sy opwagting maak, maar Mazda het reeds te kenne gegee dat hy voort sal gaan met geen-turbo enjins.

Maak dit dan van die Mazda3 ʼn minder goeie kar? Genade, nee! As jy met die enjin kan saam leef – wat nie baie moeilik is om te doen nie – dan is jy in die binnebaan.

Prys: Mazda3 2.0 Astina Plus luikrug – R432 800