Oop ketels met Jaguar F-Type 400 Sport

Jaguar F-Type,manskap,suid-afrika,jaguar
Foto: Charlen Raymond

Ek bliksem op die versneller terwyl albei hande saggies om die stuurwiel gevou is. My wys- en middelvingers haak die volgende rat. Klappers!!

Die kar hardloop deur sy toere terwyl ‘n heerlike, (on)verfynde klank deur die twee uitlaatpype ontsnap. Draai in, klein bietjie genade op die versneller, plant dit weer teen die mat vas, draai, fokus, blaf! Herhaal!

Hello, 400 Sport!

Gedurende die 2017 weergawe van die Jaguar Simola hill climb, het die Britse vervaardiger ‘n spesiale weergawe van sy F-Type bekend gestel, die 400 Sport. Die 400 in die naam verwys na die aantal perdekrag wat die enjin ontwikkel, wat, in ons terme, as 294kW lees. Die 400 Sport is dan eintlik Jag se manier om die F-Type se 2017 met ‘n hoogtepunt af te sluit.

Dit mag dalk ook nie so lyk nie, maar die F-Type is ook ‘n bietjie meer spesiaal as die standaard modelle danksy ‘n paar ekstras. Die swart verf is treffend en die geel versierings maak die kar beslis meer dramaties.

Geel remme, geel 400 Sport kentekens alom, geel stikwerk aan die binnekant, 400 Sport kentekens op die paneelbord en kopstutte. Ek is nie juis groot op mode nie, maar swart en geel het nog nooit so mooi saam gelyk nie. En dis dan ook waar ek met die estetiese gaan stop, want die F-Type 400 Sport was nie net gebou om kos vir die oë te wees nie. Dis net deel van die storie; deel van die ervaring.

280kW vs. 294kW

Dieselfde 3.0-liter V6 superaangejaagde enjin wat in die S model diens doen word ook hier ingespan, maar krag is opgestoot na 294kW teenoor die S se 280kW. Wringkrag bly onveranderd op 460Nm. Mens sou ook na hierdie kar kyk en dink “Hmmm, so geel versierings en ‘n ekstra 14kW” is al wat mens met hierdie kar kry, maar dit sal ‘n fout wees om hierdie kar te onderskat. Jaguar het klein veranderinge aan die kar gemaak wat saamkom om ‘n algehele groot verandering aan die motor se bestuurservaring te maak. Van die manier hoe die kar sy krag loslaat, die manier hoe traksiebeheer inskop, hoe dit om ‘n draai klou… die hele kar is anders en beter as die 280kW model waarop dit gebasseer is.

Verrigtingsgewys hardloop die 400 Sport die 0-100km/h lopie kaf in 4.9 sekondes en het ‘n topspoed van 275km/h. En net vir die nuuskierige katte daar buite: Jag sê dat hierdie kar gemiddeld 8.9-liters/100km verbruik, maar na afloop van die drie-dae toets was dit rondom 20-liter/100km! Ongeag hiervan, wanneer mens die doel van hierdie kar verstaan en dit ry soos dit gery moet word, dan is om R900 oor drie dae op petrol te spandeer skielik nie so ‘n kwessie nie. Behalwe op jou beursie!

Jaguar F-Type,manskap,suid-afrika,jaguar
Foto: Charlen Raymond

Kat en muis

Natuurlik is die beste plek waar die F-Type 400 Sport tot sy reg sal kom is om ‘n resiesbaan; waar beperkinge min is en wetstoepassers nie teen jou wil jaag nie. Maar nie almal is gelukkig genoeg om toegang tot ‘n renbaan te geniet nie, so die beste plek om die kar tot sy uiterstes te druk sal ‘n bergpas wees. En jislaaik, hier in die Kaap is ons omtrent bederf met keuses!

Die F-Type 400 Sport is ‘n regte op-en-wakker katjie. Alhoewel traksiebeheer 99% van die kere geaktiveer was, was die kar ‘n handvol wanneer daar té vinnig té veel op die versneller getrap word. Die gatkant wil net sywaarts gaan, maar ry dit met genoeg matigheid voor oë en dis ‘n katjie in (amper) enige hand. Tog, met die geleentheid om die kar se vermoëns op die proef te stel het die 400 Sport omtrent uitgeblink. Dit versnel soos ‘n klapper, maar dit voel vinniger as wat dit eintlik is. Daar is hierdie gevoel dat die kar net sal ophou versnel nie, maar kort voor lank moet mens die remme trap. Die groot, sterk remme verseker dat die kar tot ‘n vinnige stop kan kom, maar op normale, rustige ritte het die toetskar se remme ‘n bietjie geraas. Wanneer die remme warm is was daar geen onaangename geluide om van te praat nie. In die draaie sal die F-Type sy lyn hou sonder om van goeie balans afstand te doen.

LEES: ‘Baba’ F-Type maak dinge los

Om heelwat spoed deur ‘n draai te dra vereis van bestuurders om konfyt en selfvertroud te wees, en die F-Type 400 Sport bevorder dit. Nie almal sal dapper genoeg wees om die kar se limiete op te soek nie, maar dié wat dit wel doen sal beloon word vir hul dapperheid. Die F-Type het wel ‘n bietjie stuurtraagheid wanneer mens té vinnig deur ‘n knap draai ry, maar dis niks ernstigs om oor huis toe te skryf nie. Dit haal nie die glimlag van jou gesig af nie.

Katjie van die baan?

Die grootste punt omtrent hierdie kar is sy prys, want kan mens regtig die R190 000 premie oor die 280kW F-Type S R-Dynamic regverdig? Op papier is dit ‘n groot, vet “Nee!”, want mens kan nie net ‘n paar geel plakkers op ‘n kar plak en ‘n ekstra 14kW uit die enjin toor, en dit dan vir R1.4-miljoen verkoop nie. Dis diefstal! Maar die waarheid is dat hierdie F-Type 400 Sport sy plek in die reeks regverdig.

Met die klein veranderinge is die kar nou iets beter, meer presies. Sonder om te poog om tegnies perfek te wees, laat die 400 Sport sy bestuurder toe om die stang te gryp en leiding te neem. En in die proses laat elke rit jou lewendig voel. Dis ‘n spesiale kar, hierdie Jaguar F-Type 400 Sport, en dit mag dalk net die nuwe klapper in die pakkie wees. R190 000 of te not.

Jaguar F-Type
Foto: Charlen Raymond