Ougat Micra maak sy opwagting

Nissan,micra,manskap
Foto: Nissan Suid-Afrika

Suid-Afrika en die Nissan Micra is nie onbekend met mekaar nie, so die nuwe model hoop om daardie verhouding voort te sit.

Nissan, een van Suid-Afrika se top-vyf motorverkopers, is dit eens dat sy nuwe Micra net die regte arsenaal het om weer ʼn indruk op ons mark te maak. Daarom, in Junie 2018, het die vervaardiger die nat en winderige Kaap gekies om sy motor op eie bodem los te laat en kon ons die nuwe stadskar van nader leer ken. Daar is heelwat aan die nuwe pakket, maar die kar kom te staan teen ernstige kompetisie wat hierdie segment hul eie gemaak het.

Dus moet die nuwe Micra omtrent uit haal en wys om enige grond teen sy teenstanders te wen. Maar het dit genoeg skietgoed?

Ougat ontwerp

Die nuwe Micra se ontwerp is baie anders as die uitgaande model sʼn en maak dit dat die karretjie sy eie unieke gesig in die mark het. En dit help, want in hierdie hoogs kompeterende segment speel uniekheid en uitstaan ʼn groot rol in die koper se finale besluit.

Mens sien dadelik dat die nuwe Micra omtrent meer volwasse as die uitgaande model is en dit word sommer van meet af vasgestel. Die kopligte is nou baie meer dinamies en skerper, en huisves dit dan ook dagry-ligte wat standaard in die hele reeks ingespan word. Die neus lyk heel koddig en oulik, so asof die kar sy lippe tuit. By die agterdeure word die handvatsels nou by die C-pilaar ingewerk en agter is dit omtrent ʼn parmantige storie.

Die nuwe Micra is nou ʼn hele 3 999mm lank en help die skerp, hoekige lyne en panele dat dit sommer lekker uitstaan. Tesame met ses verskillende kleure (waarvan die oranje beslis ʼn gunsteling sal wees) is daar ook verskillende wielopsies wat elke model vergesel. Die intree-vlak Visia model is toegerus met 15-duim staal wiele, terwyl die Acenta en Acanta Plus met, onderskeidelik, 16- en 17-duim wiele toegerus is.

Laairuimte kom te staan op 300L, maar vergroot tot 1 004L wanneer die agterste sitplekke platgeslaan word. Nissan maak ook voorsiening dat kopers hul Micra’s met opsionele ekstras kan verpersoonlik.

Een enjin

Die roete waarlangs die Micra bekend gestel was was een wat werklik die motortjie tot sy uiterstes beproef het. Daar was heuwels, bergpasse, en dan natuurlik ook die Kaapse winterreën. Vanaf Kaapstad Internasionaal (darem nog die ou naam en nie na Joe vernoem nie…) het die gevolg hul weg na die N2 gebaan en van daar oor Sir Lowry’s Pas. Die Micra se 0.9-liter enjin het homself goed gedra en was daar nie enige kwessies wat té veel ontstel het nie. Op die pas was nou wel ʼn ander storie.

Die turbo-enjin se 66kW en 140Nm het vir hul sente gewerk en moes die vyf-spoed handratkas omtrent gewoeker word om optimale verrigting te behou. Teen lae snelhede, in die eerste drie ratte veral, is dit asof die kar sukkel om aan’t beweeg te kom. Dit beweeg, maar die enjin se onmiddellike reaksie wanneer die versneller getrap word is net nie daar nie. Wat wel goed was was dat alhoewel die enjintjie onder ʼn bietjie druk was, het dit nooit geraas nie. Nissan het die klankdemping beide in die enjin en om die motor aangepas sodat die kajuit nie deur eksterne klanke versteur word nie. Daar was wel ʼn bietjie windgeraas, maar dit was minimaal. Die Micra se stuur is ook lekker lig en terugvoering goed, en word dit ondersteun deur goeie padhouvermoë – gegewe dat daar nie stormsterk winde is soos wat ons op die bekendstelling in die Boland ervaar het nie.

Nissan sê dat hulle die Micra se enjin opsies in 2019 gaan uitbrei, maar dat vir nou daar slegs net hierdie drie-silinder kragbron beskikbaar is.

Media en tegnologie

Soos reeds genoem is die nuwe Micra beskikbaar in drie afwerkingsvlakke en is elke vlak met sy eie reeks tegno truuks toegerus. Alle modelle is toegerus met spoedbeheer, ses lugsakke, Hill Start Assist, onder ʼn klomp ander. In die Visia model is daar slegs elektriese vensters vir die voorste passasiers, basiese lugversorging, asook toegang tot mediatoebehore via Bluetooth en jou USB.

Die Acenta model voeg hierby ʼn 7-duim kleurraakskerm, elektriese vensters alom, en misligte. Die Acenta Plus het dieselfde kleurskerm, maar is konnekteerbaar met Apple CarPlay. Saam met dit kan die Acenta Plus se binneruim in ʼn Energy Orange-kleur toegerus word. Die hele reeks se binneruim word in twee kleure afgewerk, maar net die Acenta Plus het hierdie unieke opsie.

Kontrole op die stuurwiel waarmee mens spoedbeheer en audio kan beheer is ook standaard oor die hele reeks.

Prys

Die Nissan Micra staar strawwe kompetisie in die gesig en moet dit omtrent bont staan om sy posisie te regverdig. Met ʼn begin-prys van R233 500 vir die Visia kompeteer dit goed met die Volkswagen Polo TSI 1.0T Trendline (R235 900) en Ford Fiesta 1.0T Trend (R261 900). Beide hierdie karre ry lekkerder as die Micra (die Polo is tops, klaar!) en hul drie-silinder enjins lewer meer krag as die Micra sʼn – wat ʼn groot rol speel – maar die Micra klop hulle loshande in terme van toerusting.

Die standaard toerusting wat Nissan by sy Micra gevoeg het is verstommend en moet mens opdok om dit by die ander te kry. Die Micra kom ook met ʼn ses-jaar/150 000km waarborg, drie-jaar/90 000km diensplan, en 24/7 padbystand.

Nissan Micra Visia: R233 500

Nissan Micra Acenta: R257 400

Nissan Micra Acenta Plus: R272 400

Opsomming

Die nuwe Nissan Micra behoort nog ʼn suksesstorie vir Nissan Suid-Afrika te wees en sal hulle hoop dat kopers die nuweling oorweeg. Die klein enjin bied genoeg om in die stad en dorp oor die weg te kom, maar op die oop pad trek dit ʼn bietjie swaar. En met die kattebak vol sal dit ʼn bietjie spook.

Maar die kar maak op vir sy min spiere met ʼn pakket wat goeie waarde vir geld bied, veral as mens kyk na wat die kompetisie op die tafel sit. Toerusting en tegnologieë is daar genoeg van en sal dit beslis ʼn bepalende faktor wees.