Populêre Kwid kry nuwe baadjie

renault kwid,renault,kwid,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond

Renault Suid-Afrika het sy baie bekende Kwid met ʼn nuwe baadjie takseer en lyk die stadskarretjie nou lekker bakgat. Maar dra die aap maar net ʼn goue ring?

Sedert die klein Kwid laat 2016 in SA geland het het dit onmiddellike sukses onder kopers geniet. Mens kan dit amper nie eens oorvertel nie! Elke maand boer die Kwid onder die top tien bes-verkopende passasiersmotors in die land en is meer as 11 000 eenhede reeds van die hand gesit. Dis vrek baie karre wat van vertoonvloere afry, maar die Kwid het een groot troefkaart: sy prys.

Vir tussen R127 900 – R148 900 bied die Kwid ʼn baie bekostigbare alternatief vir nuwe kopers en moet die duurste én nuutste model in die reeks, die Kwid Climber, die trop van voor lei.

Klouter voort, Kwid

Ek het nooit gedink dat ek hierdie woorde sou preuwel of tik nie, maar hierdie Kwid likes ek. Vader, wees my genadig dat ek van dit hou, maar die blou verf met oranje skakerings werk soos ʼn bom! Dis nog steeds dieselfde Kwid wat jou óf afsit óf aantrek, maar hierdie kleur trek aan. Dis ook die eerste Kwid wat ek gesien het mense voor omdraai. Die kleur trek mense aan en lyk dit omtrent hups en lekker so in die verkeer.

Renault seg dat die Kwid, alhoewel ʼn klein stadskar, lekker hoog in sy skoene staan en dat ryhoogte ʼn hoë 180mm is. Nou dit is baie, wat beteken dat die Kwid kan amper oor alles en nog wat klouter. Laairuimte is ook nie te waffers nie en met ʼn beskikbare 300L kan daar heelwat bagasie ingelaai word. Maar, die deksel wat die laairuim toemaak is nie met ʼn toutjie aan die luikrûg se vyfde deur vasgemaak nie, wat beteken dat mens elke keer die ding met die hand moet lig as jy iets wil inlaai.

Daar is darem ruimte vir vyf nie-te-groot passasiers, maar groter ouens en vrouens sal baie ongemaklik wees oor langer afstande. Die bestuurder se sitplek maak voorsiening dat mens hoër of laer kan sak, maar langer persone mag dalk voel dat hulle net nie laag genoeg sak nie. In die sitplek se laagste posisie het dit steeds gevoel asof ek agter die stuur vasgedruk word.

Daai raakskerm…

Ek het dit met my eerste kennismaking met die Kwid gesê en ek noem dit weer: daai multi-media stelsel wat die kar mee toegerus is is ongetwyfeld een van die bestes op die mark. In sy eenvoud bied die stelsel konnekteerbare opsies vir bykans al jou toestelle, plus dit is toegerus met satelliet navigasie. Die stelsel is wel nie blitsig vinnig nie, maar dit reageer goed wanneer mens aan die 18cm raakskerm raak en ʼn opdrag invoer.

In die geheel was die Kwid se binneruim maar altyd ʼn somber affêre, maar die Climber s’n is toegerus met oranje stroke wat oral oor die binneruim versprei is. Nie net helder dit die gevoel van binne op nie, maar maak dit ook dat die Kwid nou ʼn lekker speelse karakter het. Daardie innemende, energieke kleur van die bak word binne voortgesit om dinge net ʼn bietjie warmer te maak. Selfs die ratkiere is oranje!

renault kwid,renault,kwid,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond

Dieselfde storie

Sedert sy bekendstelling het die Kwid swaar deurgeloop onder kritiek dat die sy enjin en ritgehalte erg onder verdenking is. Die 1.0-liter drie-silinder enjin klink grof en onafgerond en die balans wat die kar op die pad handhaaf kan mens… bekommerd maak. In die Climber is dinge, ongelukkig, onveranderd. Die enjin lewer steeds 50kW en 91Nm se wringkrag en raas en grom dit steeds asof iemand dit verwurg. Daar is nie enige verfyndheid omtrent die enjin nie en kry mens amper seer vir die kar se part wanneer jy dit te vinnig ry.

LEES: O Kwid, wat het Renault gedink?!

Die 13-duim bande is verskriklik dun en is die kar bitter onvas wanneer die kleinste windjie waai. Die bak is ook nie baie swaar nie, so sit dit saam met die dun wiele en mens kan verstaan hoekom die kar so oor die pad sweef. Dit sou glad nie sleg gewees het as Renault dalk hierdie Climber met groter bande toegerus het nie. Nie net sou dit help dat die kar beter vertoon nie, maar dit sal ook bydra tot beter padgedrag.

Slotsom

Die Renault Kwid Climber is nie ʼn slegte opsie om bo-aan die Kwid-reeks te sit nie. Dit lyk lekker jonk, bied die nodige multi-media funskies, het voorste elektriese vensters, kragstuur, lugversorging, én satelliet navigasie. Dit alles vir ʼn motor onder R150 000! Dis ʼn groot pluimpie in Renault se sak, maar mens kan nie help om “wat sou?” te wonder nie.

Wat sou die Kwid wees as die enjin meer verfynd was? Wat sou die Kwid wees as groter bande tot die pakket gevoeg word sodat ritgehalte net kon verbeter? Wat sou die Kwid wees as algehele afwerking net ʼn kleine bietjie meer aandag geniet het?

Dis te verstane dat die Climber, nes die res van die reeks, die begroting moet klop, maar hoekom is dit steeds net ʼn doodgewone Kwid wat ʼn draai by die juwelier gaan maak het?

renault kwid,renault,kwid,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Charlen Raymond