Raikkonen en Leclerc… eintlik nogal poëties

f1,kimi raikkonen,charles leclerc,ferrari,kimi,raikkonen,manskap,ferrari
Foto: Verskaf

Ferrari het uiteindelik ʼn aankondiging oor sy jaers vir 2019 gemaak en dat die jong Charles Leclerc by die span gaan aansluit. Maar waar laat dit die span se laaste kampioen en huidige jaer, Kimi Raikkonen? Raikkonen is in die laaste paar maande van sy 2018 kontrak by Ferrari en gaan vir die volgende twee seisoene by die Alfa Romeo Sauber span aansluit – in ʼn skuif waar hy basies sitplekke met Leclerc ruil. Sauber, soos die span alom bekend is, is die span waar Raikkonen sy Formule 1 loopbaan in 2001 begin het en blyk dit dat hy sy loopbaan daar gaan afsluit.

In 2018 is Ferrari in sy sterkste posisie van die laaste dekade en is die span in ʼn hewige geveg met Mercedes-AMG gewikkel om as algehele wenners uit die F1 stryd te treë. Maar dis Raikkonen se spanmaat, Sebastian Vettel, wat die hele Ferrari span om hom gebou het en dit laat Raikkonen as die ou wat tweede viool teenoor Vettel speel. Altyd. Renstrategieë word só opgestel dat Vettel voorkeur geniet en as Raikkonen voor sy spanmaat is, gebeur iets dat die twee posisies verander.

Vettel is die man op wie Ferrari sy hoop geplaas het om weer kampioenskappe te wen, maar Raikkonen is op die agtergrond en kon net nooit enige impak op die kampioenskap maak nie. Al is hy ʼn gunsteling in F1, was dit tyd vir Ferrari om hom te vervang. En Leclerc was in die binnebaan.

ʼn Kampioen

Elf jaar gelede het Raikkonen – in 2007; die eerste jaar van sy eerste skof by Ferrari – sy eerste én enigste kampioenskap gewen. Dit was dan ook die laaste keer dat ʼn Ferrari jaer die titel kon wen. Voor Raikkonen was dit Michael Schumacher wat, saam met Ferrrari, die sport tussen 2000 en 2004 gedomineer en vyf kampioenskappe op ʼn streep gewen het om sy totale telling op sewe te staan te bring. Toe Schumacher aan die einde van 2006 uittree, na twee mislukte pogings om die titel voor Fernando Alonso (toe ʼn Renault jaer) weg te raap, was dit Raikkonen wat sy sitplek gekry het.

Raikkonen, wat daardie tyd sterk seisoene by McLaren geniet het, het die Ferrari oorpak aangetrek en die beste van Alonso en toe-groentjie Lewis Hamilton – albei McLaren-Mercedes jaers gekry. Daardie jaar het hy die kampioenskap met ʼn enkele punt oor sy teenstanders gewen en die tekens was daar dat daar nog titels op pad is. Ongelukkig het Raikkonen se vorm geval en gevolglik ook Ferrari se belangstelling in hom.

Teen die einde van 2009 was Raikkonen deur die einste Alonso vervang en het die ‘Ysman’ besluit om belangstellings buite F1 na te jaag. In 2012 keer hy terug en jaag vir Lotus-Renault, en in 2014 is hy terug by Ferrari. Aan die einde van 2014 verruil sy spanmaat, Felipe Massa, die span vir Williams en kom Vettel van Red Bull Racing af oor om Raikkonen se spanmaat te wees.

ʼn Sterk jaer

Dit was in 2001 toe ʼn baie jong Raikkonen sy debuut by die Australiëse GP in ʼn Sauber gemaak het. Daardie jaar het hy die hele F1 wêreld laat regop sit en aan die einde van die seisoen bekom McLaren-Mercedes sy dienste. Dit was, en is steeds, hoogs ongehoord dat ʼn groentjie, na sy eerste F1 seisoen, na ʼn kampioen-span skuif, maar dis wat Raikkonen in 2001 gedoen het. Hy was as Mika Hakkinen se opvolger gesien en die man wat Schumacher se dominasie moet stopsit.

Raikkonen het die taak gehad om kampioenskappe terug te bring na McLaren-Mercedes toe en Hakkinen se suksesse van 1998 en 1999 te herhaal. Hy het nét 2002 geneem om sy voete in die span te vind en die volgende jaar druk hy Schumacher vir die titel. Dit was ʼn intense stryd en Raikkonen het bitter naby gekom om die oorhand oor die legendariese jaer te kry, maar swak betroubaarheid op sy kar het gemaak dat die span met niks uit die stryd tree. In 2005 wéér, teen Alonso, het Raikkonen soos ʼn besetene baklei om die grote te wen, maar weereens het swak betroubaarheid navore gekom.

Daar was niks fout met Raikkonen se spoed nie en sy rou talent was baie keer té veel vir die res van die veld. Maar hy het indrukke gemaak en die werk gedoen gekry – al is daar nie titels om vir sy harde werk oor daardie paar jaar te wys nie.

Die Sauber effek

Dit het een seisoen in 2001 met Sauber geneem vir die F1 wêreld om van Raikkonen te weet en 17 jaar later herhaal die geskiedenis homself. Nuweling Leclerc ry vanjaar vir Sauber en het reeds almal laat regop sit met die spoed wat hy het. Tydens kwalifisering het hy dit op telke male tot in die laaste rondte van die sessie gemaak met ʼn kar wat, as ons nou eerlik moet wees, ver van sy potensiaal is. Hy teken gereeld punte aan en het hy die ‘okay’ gekry om volgende jaar die rooi oorpak aan te trek. Klink dit bekend?

In 2001 het Raikkonen die hele F1 aan sy voete gehad en was dit net nodig vir een van die groter spanne om sy dienste te bekom. Ferrari, bekend daarvoor dat hulle nie jonger jaers té vinnig tot die span bevorder nie, het vir Raikkonen met die jong sensasie vervang in ʼn skuif wat teen hul beginsels gaan. Leclerc kom uit Ferrari geledere en is deel van die Ferrari Academy, so ʼn toekoms by die Ferrari F1 span was waarskynlik op die horison. Maar nou doen hy dit na slegs een seisoen in die sport. Raikkonen wat opsy skuif vir Leclerc is ʼn tipe oorgee-van-die-fakkel oomblik. Hy skuif opsy vir ʼn jaer amper die helfte van sy ouderdom wie óók in sy eerste jaar beïndruk het.

Raikkonen en Leclerc ruil sitplekke en beweeg Raikkonen terug na die span waar hy sy eerste indrukke op die sport kom maak het. Beide hy én Leclerc het hul loopbane by ʼn Sauber span begin wat onderpresteer en in ʼn kar wat nie naastenby ʼn indruk op die res van die veld maak nie.

Bitter-soet, maar Raikkonen se sirkel het volgeloop.