Rateltaai Jimny is terug!

suzuki,suzuki jimny,jimny,nuwe model,off-road,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Suzuki SA / MotorPress

Suzuki het sy nuwe-generasie Jimny in Suid-Afrika losgelaat en lyk dit of hierdie wa omtrent die tonge gaan laat klap.

Alhoewel die SUV nog nie amptelik geloods is nie, was dit tydens die 2018 South African Festival of Motoring op Kyalami, Johannesburg aan die publiek gewys. Mens kan dadelik sien dat dit die nuwe Jimny is, maar daar is sommer heelwat om dit te laat uitstaan.

Die koelrond hoofligte en oranje aanwysers herinner aan die heel eerste Jimny – die LJ10 – terwyl die reghoekige voorruit en sierrooster ere aan die SJ-reeks betoon. Alom die Jimny se lyf is daar kentekens wat presies wys wat hierdie wa se doel is.

suzuki,suzuki jimny,jimny,nuwe model,off-road,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Suzuki SA / MotorPress

Bietjie tegnies

Die vorige generasie Jimny was sedert 1998 op die internasionale mark en het dit telkens gewys dat dinamiet sonder twyfel in klein pakkies kom. Die nuwe model neem dit nou ʼn stap verder, en aldus Suzuki is die nuwe leerraam onderstel 1.5 keer méér rigied as die oue s’n. Plus die grondvryhoogte is met 20mm tot 210mm verhoog.

Die asafstand bly onveranderd op 2 250mm, maar die nuwe Jimny is 45mm wyer as die uitgaande model. Danksy nuwe buffers is die algehele lengte met 50mm verkort.

ʼn Nuwe 1.5-liter enjin vervang die ou 1.3-liter en het kragvlakke van 75kW en 130Nm. Dit is ook 14% suiniger wanneer dit by petrolverbruik kom, sê Suzuki. Die enjin word aan of ʼn vyf-spoed handratkas of ʼn vier-spoed outomatiese ratkas gekoppel. Al die modelle is met 4×4-dryf toegerus en kan die bestuurder via ʼn tweede ratkierie tussen die verstellings kies.

Ander nuutjies wat tot die pakket gevoeg word sluit in Hill Hold Function en Hill Descent Control. Hierdie tegnologieë sal nie net in die stad help nie, maar beslis ook wanneer eienaars hul bande wil gaan vuilmaak. Saam met die bogenoemde twee funksies is daar ook (afhangend van die model) ʼn leer bedekte stuurwiel, kontrole op die stuurwiel, elektriese vensters, 15-duim wiele, LED dagry-ligte, en sleutellose toegang.

Pryse

Die pryse vir die nuwe Jimny is nog nie bevestig nie, maar beraamde indikasies lyk as volg:

  • Suzuki Jimny 1.5 4×4 GA Handrat: R265 000 (beraam)
  • Suzuki Jimny 1.5 4×4 GLX Handrat: R300 000 (beraam)
  • Suzuki Jimny 1.5 4×4 GLX Outomaties: R320 000 (beraam)

Die nuwe model sal amptelik vanaf 1 November 2018 in Suid-Afrika beskikbaar wees.

suzuki,suzuki jimny,jimny,nuwe model,off-road,suid-afrika,south africa,manskap
Foto: Suzuki SA / MotorPress