Renault stof Duster af

Manskap,renault,duster,renault duster,south africa,suid-afrika
Foto: Renault SA

Ons Suid-Afrikaners is darem maar lief vir ʼn SUV en een van ons gunstelinge is die Renault Duster. Of dit nou die 4×4 is (wat onlangs geloods was) of die 4×2 wat ons hier het, dit is ʼn voertuig wat ongetwyfeld aan baie vereistes voldoen.

Die eerste generasie Duster was nie noodwendig goed bedeeld wat bougehalte betref nie, maar dit was ʼn bekostigbare, geen-fietersjasie SUV wat jy nie bang was om die grondpad mee aan te vat nie. Die opknapping op daardie model het nie veel veranderinge aangebring nie en was dit meer ʼn regtrek van ʼn plooi hier en daar.

Maar hierdie model word as die amptelike tweede-generasie Duster gesien en het Renault ongetwyfeld die motor regdeur die bank verbeter. Niks was onaangeraak nie en is die pakket nou net soveel beter. Oor ʼn periode van ʼn week het ons 3010km in die Duster 1.5 diesel 4×2 afgelê en was die Duster so nommerpas soos plaasbrood en moerkoffie.

Manskap,renault,duster,renault duster,south africa,suid-afrika
Foto: Renault SA

Weer vars

Wanneer dit by nuwe modelle kom is een van die eerste goed wat vervaardigers aanspreek die motor se ontwerp. En dis dan ook die geval by die Duster. Op die oog af lyk die SUV maar soos die vorige model, met min of geen veranderinge, maar as jy fyner kyk sal jy gou die verskille agterkom.

Een van die grootste veranderinge is ʼn nuwe ontwerp vir die ligte. Beide die voor en agterstes is nuut en verleen dit aan die SUV ʼn lekker vars voorkom. Die agterste ligte heet nou ʼn kruisie in die ontwerp en die voorstes het dagry-LED eenhede. Die buffers, voor én agter, is ook reggetrek om net die voertuig vir die volgende siklus vars te hou.

Veranderinge is ook aan die binnekant aangebring en voel die panele baie beter en stewiger aanmekaar gesit. Die instrumentepaneel voor die bestuurder gee steeds alle relevante informasie rakende jou trip deur en Renault se maklik-om-te-gebruik multimedia stelsel met satelliet navigasie word ook aangebring. Die sitplekke in hierdie toetsmodel is met leer oorgetrek, maar dis een van die minste opsionele ekstras op die SUV wat teen R10 000 beskikbaar is.

Manskap,renault,duster,renault duster,south africa,suid-afrika
Foto: Renault SA

Goeie verbruik

Die turbo-aangejaagde 1.5-liter diesel enjin, wat ook in ander Mercedes-Benz en Nissan produkte gebruik word, skop 80kW en 250Nm se wringkrag uit; met die laasgenoemde wat al teen 1750rpm beskikbaar is. Dit beteken dat jy feitlik in enige rat genoegsame krag sal hê om vorentoe te skiet.

Die 0-100km/h lopie neem nou wel 12 sekondes (top spoed van 169km/h), maar dit pla jou nie want dis nie hoekom jy dit gekoop het nie. ʼn Gladde ses-spoed outomatiese ratkas stuur krag na die voorwiele.

Glo dit of nie, maar aan die einde van 3010km was die Duster 4×2 se gemiddelde verbruik ʼn skamele 5.8 L/100km, wat 862km op ʼn vol tenk diesel beteken (die brandstoftenk is 50L groot). Maar al is die Duster wat, sy enjin is ʼn juweel en is dit ongetwyfeld die SUV se sterkste punt.

Manskap,renault,duster,renault duster,south africa,suid-afrika
Foto: Renault SA

Wie ek is

Renault weet dat kopers na die Duster draai omdat dit ʼn geen-fieterjasie SUV is. Mens koop dit omdat jy ʼn aktiewe leefstyl ly en nie sleg wil voel om jou Duster op grondpaaie te neem nie. Dis een van daai voertuie wat presies weet wie en wat hy in die mark is en daarom dan nie nog veel gepla is met skoonheidskompetisies nie.

In die periode van ʼn week was die Duster aan paaie blootgestel wat beide teer en grond insluit. Uit die Kaap tot in Wupperthal doer diep in die Sederberge, Weskus toe en verder op en af… die Duster het nooit moeg geword óf jou as bestuurder moeg laat voel nie. Veral op die bergpaaie, waar dongas en sinkplate die norm is, het die Duster die omgewing en sy uitdagings goed trotseer. En daardie 210mm van grondvryhoogte het baie handig te pas gekom.

Manskap,renault,duster,renault duster,south africa,suid-afrika
Foto: Renault SA

Slotsom

Die Renault Duster is sekerlik een van die lekkerste voertuie op die mark. Ja, ons weet dat ʼn Renault jou nie baie goeie herverkoopwaarde bied nie en dat van hul produkte maar die oë laat rek wanneer dit by kwaliteit kom, maar die Duster is wat hy is.

Dit moet sekerlik een van die beste leefstylvoertuie in ons mark wees wat jou letterlik na enige plek kan neem. Moet net nie met die 4×2 gaan 4×4 nie, daarvoor sal jy die 4×4 model moet kry. Tog kan jy gemaklik met jou gesin/vriende gaan vakansie hou en hoef julle nie té veel oor brandstofverbruik te stres nie.

Die Renault Duster was sedert sy bekendstelling in 2013 ʼn sukses vir Renault in Suid-Afrika en is daar geen rede hoekom die nuwe reeks, gelei deur hierdie 1.5 diesel Prestige, nie daardie sukses sal voortsit nie.

Prys: R340 900