Rentmeesters kan F1 uitslag beslis

f1,formula 1,formule 1,lewis hamilton,sebastian vettel,kimi raikkonen,ferrari,mercedes,manskap,suid-afrika
Foto: Verskaf

Sebastian Vettel het die afgelope naweek met die louere weggestap toe hy die Britse grand prix gewen het. Vettel, wat tweede agter Lewis Hamilton begin het, het sy Ferrari blitsig verby die Mercedes man gekry en die ren van daar beheer. Hamilton het na ʼn swak begin vinnig posisies verloor en was binne sekondes agter Vettel en sy Mercedes spanmaat, Valtteri Bottas. Maar toe word die ren op sy kop gedraai nadat Ferrari renjaer, Kimi Raikkonen, in Hamilton vasgery het.

Raikkonen het ʼn straf van 10 sekondes opgedoen wat hy gedurende sy eerste besoek aan die kuipe uitgedien het, terwyl Hamilton tot in die laaste plek teruggesak het. Aan die einde van die 52 rondtes was dit Vettel wat bo uitgekom het, met Hamilton en Raikkonen onderskeidelik tweede en derde. Die wedywering om vanjaar se kampioenskap is nou vierkantig tussen Vettel en Hamilton, maar die algehele uitslag kan dalk bo in ʼn kamertjie beslis word…

Konsekwentheid ontbreek

Elke ren op die Formule 1 kalender het sy eie rentmeesters (race stewards) wat na insidente kyk en ondersoek, en dan op ʼn aksie of straf besluit wat op die bestuurder(s) wat dit veroorsaak het toegepas moet word. Klink nie na ʼn té moeilike werk nie, maar wat as die persone wat daardie besluite maak nie konsekwent is nie?

Drie renne terug, in Frankryk om die Paul Ricard baan, het Vettel in Bottas vasgery toe die groep karre teen 300km/h in die eerste draai injaag. Vettel se remme het gesluit en was hy net ʼn passasier toe sy motor reguit in Bottas sʼn vasry. Hierdie Sondag, om die Silverstone baan om die derde draai van die ren, is Raikkonen in Hamilton in. Óók nadat sy remme gesluit het. In albei gevalle was die fout by die Ferrari jaers, maar dis die straf wat uitgedeel was wat die fronse navore bring. Vettel het ʼn vyf sekonde straf gekry, maar Raikkonen 10 sekondes. Hmm, verskillende strawwe vir verskillende jaers?

LEES: Lewis Hamilton behoort hom te skaam!

Ongeag of Raikkonen sy ren sonder enige skade kon hervat, hoekom is sy straf swaarder as Vettel sʼn? Het Vettel vyf sekondes gekry omdat beide hy én Bottas tot die laaste plekke teruggesak het en hy nie ʼn voordeel uit die insident getrek het nie? Het Raikkonen 10 sekondes gekry omdat Hamilton tot in die laaste plek teruggesak het en hy nie? Daar is veronderstel om een stel reëls te wees wat juis sulke onduidelikhede moet opklaar, maar daar word vir die rentmeesters ruimte gelaat om ook hul eie diskresie te gebruik om ʼn insident op te los. En as Raikkonen daardie straf gekry het omdat Hamilton, ʼn Brit, nie ‘n sesde agtereenvolgende wen voor sy tuisskare gaan kry nie, dan is daar iewers ʼn gróót fout.

Maak nie saak vir watter span jy jaag nie, alle jaers word aan hierdie tipe insidente blootgestel, maar jou profiel en die span vir wie jy ru moet nie ʼn invloed op die rentmeesters se besluit hê nie. Daar moet een stel reëls wees wat vir almal geld. Of jy nou om die kampioenskap veg of nie.

Hamilton boos

Na afloop van die ren het Hamilton omtrent ʼn mondvol te sê gehad en Ferrari daarvan beskuldig dat hulle vuil speel, met verwysing na die twee bogenoemde insidente. Nou, Hamilton was nog altyd ʼn bietjie van ʼn suurknol wanneer dinge nie volgens plan verloop nie en toe hy die Britse ren in die laaste plek hervat was hy vol klagtes dat daar fout met sy motor is. Tog het hy die ren in die tweede plek te voltooi.

Ons weet almal dat Hamilton goed is, maar om jou speelgoed uit die kot te gooi elke keer wanneer iemand op jou tone trap dui op onvolwassenheid. En hy wat Hamilton is sal moet regkom, anders blameer hy weer sy kar ás Vettel hierdie jaar moet wen. Óf dalk kom die rentmeesters (weer) tot sy redding.