Schumacher se seun ry Ferrari F1 kar

Manskap,f1,formula 1,formule 1,schumacher,mick,mick schumacher,michael schumacher,ferrari,alfa romeo
Foto: Verskaf

Michael Schumacher – Formule 1 se mees suksesvolste jaer – se seun, Mick, gaan volgende week agter die stuur van Ferrari se 2019 motor inskuif. Dié skok aankondiging kom etlike dae na Alfa Romeo, Ferrari se ‘B span’, aangekondig het dat die 20-jarige Duitser hul motor onder hande sal neem na afloop van hierdie naweek se Bahrainse GP.

Twee amptelike toetsdae, wat op die 2de en 3de April sal plaasvind, is afgestaan vir spanne om verdere ontwikkelinge aan hul motors te bring. Baie spanne, soos Ferrari, sal dan ook van die geleentheid gebruik maak om jong talent die kans te gee om te wys wat in hulle steek.

Mick neem vanjaar aan Formule 2 deel, die reeks net onder F1, en sal op die eerste dag van toetse die Ferrari bestuur en die volgende dag agter die stuur van die Alfa Romeo inskuif.

Groot skoene

Mick se pa het sewe titels gedurende sy tyd in F1 gewen, waarvan vyf (2000 – 04) daarvan agter die stuur van ʼn Ferrari was. In sy loopbaan het Schumacher 91 renne gewen en het 68 van die renne wat hy aan deelgeneem het van voor begin.

Schumacher Jnr. weet dat hy konstant met sy pa vergelyk gaan word en het al telkemale tekenne gegee dat hy die druk en verwagtinge verwag het. Hy sê: “Dit was nog nooit vir my ʼn probleem om met my pa gevergelyk te word nie. Inteendeel, dis ʼn eer om teen die beste jaer in F1 se geskiedenis gemeet te word. Ek moet net leer en verbeter.”

Oor die toets wat op hom wag sê Mick: “Ek skuif doelbewus alle gedagtes aan die toets opsy, want ek sien ook uit om aan my eerste F2 ren deel te neem en sal baie graag 100% op die naweek wil fokus.”

Die F2 seisoen skop ook hierdie naweek in Bahrain af.