Só verkoop Hilux in 2018

toyota,hilux,toyota hilux,manskap,suid-afrika,south africa,bakkie,truck
Foto: Charlen Raymond

In baie opsigte was 2018 ʼn moeilike jaar vir nuwe voertuig verkope, maar al het dit hoe gegaan was daar maar nog altyd een voertuig wat aan die voorpunt van alles gestaan het. Die Toyota Hilux.

Vir meer as 50 jaar was hierdie bakkie Suid-Afrika se gunsteling voertuig en in 2018 het dit daardie verhouding voortgesit. Met verkope wat maandeliks die 3000-merk oorskry het, het die Hilux die jaar as die land se algehele top verkopende voertuig afgesluit.

Top vier

40 018 eenhede was oor die loop van 2018 van die handgesit, wat bykans 10 000 eenhede méér as die naaste teenstander, die Ford Ranger, was. Ander aanspraakmakers vir die top posisie was die Volkswagen Polo en Polo Vivo. Hierdie vier was dan die algehele top verkopers: Hilux, Polo (30 407), Ranger (30 141), en Polo Vivo (26 703).

Wat die Hilux spesiaal maak is dat dit vir vyf dekades lank in Suid-Afrikaners se harte gekruip het. Dit het tradisie kom word dat ʼn Hilux koop, en sy seun doen dit ook, en sy seun na hom. Praat jy oor enige ander bakkie wat dalk ʼn beter proposisie is en jy kry koue kyke wat soos dolke deur jou lewe boor. Hier by ons mors jy nie met ʼn Hilux nie en jy praat nie terug wanneer dié bakkie se lof besing word nie. Dié is Hilux-land en hier kraai net een bakkie koning.

Lees: Dakar vs Athlete – Hilux loop sy rieme styf

Dit word absoluut bevestig deur die sterk verkope wat Toyota Suid-Afrika maandeliks en jaarliks aanteken. Die “swakste” maand wat die Hilux in 2018 aangeteken het, met betrekking tot verkope, was April toe 2 679 eenhede van die hand gesit was. Die sterkste maand was September, met 3 943 eenhede. Die gemiddelde Hilux-verkope oor 2018 was 3 335 eenhede elke maand.

Suksesresep

Deel van die Hilux se suksesresep is modelle soos hierdie 2.8 GD-6 Raider 4×4 dubbelkajuit (Prys: R616 600, Januarie 2019). ʼn Sterk 2.8-liter diesel enjin sit voor in die neus en dié ontwikkel ʼn stewige 130kW en 420Nm se wringkrag. Dis goeie syfers wat die bakkie sonder moeite voort stu. Krag kan tussen al vier wiele gekanaliseer word, óf slegs deur die agterwiele. So goed is die enjin dat dit gemiddeld 7.6 L/100km teug. Al raak die bakkie se gewig aan 2.1 ton, kwyt hy homself goed van sy taak op die pad én wanneer mens rowwer dinge wil aanpak; soos om heuwels en slote baas te raak.

Toyota het ook seker gemaak dat die binneruim goed uitgelê is en het dan daarom die bakkie van ʼn nuwerwetse raakskerm voorsien. Hierop kan mens al jou musiektoebehore speel. Die sitplekke op hierdie model is nou wel met lap oorgetrek, maar dit doen min om van die binneruim se algehele kwaliteit-gevoel weg te neem.

Nuwe voertuigverkope het al vroeg in 2018 opspraak gemaak; of die Hilux weer die mas sal opkom teen nuwe modelle soos die Polo en Polo Vivo, aldan nie. Alhoewel die twee Volkswagens (baie) goedkoper is, kon hulle niks doen om verkope by die Hilux af te rokkel nie. Die Hilux het die reputasie én betroubaarheid om vir die afgelope vyf dekades die septer in die Suid-Afrikaanse motormark te swaai. Daarom, dan, dat die Hilux 2018 se onoorwonne kampioen is.

toyota,hilux,toyota hilux,manskap,suid-afrika,south africa,bakkie,truck
Foto: Charlen Raymond