Só wen Hamilton sy 5 titels

hamilton,lewis hamilton,abu dhabi,formula 1,champion,championship,five time champion,season finale,manskap,f1
Foto: Verskaf

Of jy nou van hom hou of nie, mens kan nie teen Lewis Hamilton se briljantheid stry nie. ʼn Besonderse talent met bykans geen gelyke.

Toe Hamilton sy Formule 1 debuut in 2007 gemaak het, het die meeste aanhangers van die sport reeds van die “seun” geweet wat net die vorige jaar die GP2 veld (die motorsport kode net onder F1) in sy maai gejaag het op pad na die kampioenskap. Almal het geweet van die 10 jarige wat jare gelede vir Ron Dennis, die toe spanbaas van McLaren-Mercedes, gesê het dat “eendag gaan ek vir jou jaag”.

Parmantig? Dalk. Maar daai stelling het waar kom word toe hy in 2007 langs Fernando Alonso staan as McLaren-Mercedes se tweede jaer. In sy eerste nege renne daardie jaar het hy op die podium verskyn en ook in die proses twee seges syne gemaak! Hy sou in 2007 ʼn verdere twee renne wen om die kampioenskap in die tweede plek klaar te maak, net agter Ferrari se Kimi Raikkonen en voor Alonso. Hamilton en Alonso het daardie jaar albei 109 punte teenoor Raikkonen se 110 aangeteken.

In 2008 het Hamilton die McLaren-Mercedes span sy tweede huis gemaak, Alonso is terug Renault toe, en die groentjie is reg om sy eerste kampioenskap te wen.

2008 – Eerste Kampioenskap

Dit was ʼn wipplank seisoen vir Hamilton; vasgevang in ʼn hewige stryd om die titel wat tot op die laaste draai van die laaste rondte van die laaste ren van die seisoen aangehou het. Daardie jaar hte Hamilton vier renne gewen, insluitend sy tuisren in Brittanje, maar dit was twee minder as wat Ferrari se Felipe Massa kon vermag. Brasilië was dan ook Massa se tuisren en het hy die seisoen met ʼn sege op eie bodem afgesluit, maar die ren was van die begin af op sy kop gekeer toe die reën skielik neergesak het.

Spanne en jaers het bont gestaan vir die beste strategie, besoeke aan die kuipe was konstant uitgevoer, en dit het baie jaers in posisies gelaat wat mens hulle nie in sou verwag nie. Insluitend Hamilton, wat ʼn vyfde plek nodig gehad het om die titel syne te maak. Toe die geruite vlag oor die ren en die seisoen sak, was dit Massa wat eerste oor die wenstreep suiker. ʼn Gejuig het oor die stadion toegesak omdat die plaaslike held uiteindelik die F1 kampioenskap gewen het! Die eerste Brasiliaan om dit te na die groot Ayrton Senna.

Maar toe kom tuimel die hele huis van kaarte ineen vir die Massa familie, Ferrari, en die hele Brazil soos Hamilton Toyota se Timo Glock vir die vyfde posisie verby steek. Massa was kampioen vir 30 sekondes en ten minste het hy geweet hoe dit voel om een te wees, maar Hamilton het die titel huis teo gebring.

Hamilton 98 punte, Massa 97.

2014 – Tweede Kampioenskap

Dit sal ʼn veredere ses seisoene neem (insluitend 2014) voor Hamilton wéér ʼn titel sou wen; die langste periode tussen kampioenskappe in F1 geskiedenis.

Hamilton was van dag een af getrou aan McLaren, maar in 2012 kondig die Brit aan dat hy hom in 2013 by die Mercedes fabriekspan sal aansluit. Dit het almal geskok, want Hamilton het altyd gesê dat hy by McLaren sal bly omdat dit sy span is en hy getrou is aan hulle. Maar na jare waarin die span nie kompeterend was nie en die motor se onvermoë om weer die kampioenskap te wen (net ʼn sege hier en daar), was dit tyd vir verandering. Mercedes het vir Hamilton gesê dat hy nie die kampioenskap in 2013 sal wen, maar wel in 2014. Wanneer die nuwe hibriede era sal begin. Dit was ʼn voorspelling wat waar kom word het.

Lees: Hamilton geoormerk vir 5de titel

Daardie jaar het Hamilton sonder rus na die titel toe gehardloop en ook sommer elf seges uit die jaar se 19 renne syne gemaak. Hy het sy spanmaat, Nico Rosberg, in die grond in gery en kon Rosberg nie by Hamilton kers vashou nie. Dié twee was al van hul tienerjare af beste vriende, maar alles het uitmekaar geval toe hulle in België om die Spa-Francorchamps baan steeks geraak en in mekaar vasgery het. Alhoewel die vriendskap in sy glory was, het Hamilton steeds die kampioenskap gewen. F1 het ook daardie jaar daai belaglike dubbel punte vir die laaste ren in Abu Dhabi ingebring, maar dit was dom en het geen impak op die kampioenskap gehad nie.

Hamilton 384 punte, Rosberg 317. (In 2010 het die punte stelsel verander en sal die wenner voortaan 25 punte vir die wen ontvang en nie 10 nie.)

2015 – Derde Kampioenskap

Rosberg sou steeds Hamilton se grootste teenstander wees, maar Hamilton het teen hierdie tyd goed my die Mercedes span ingeskakel en het weereens die span om hom laat trek – nes met Alonso in 2007. Die titel sou amper natuurlik na hom toe kom en het hy geen ongedwonge foute begaan nie. Daardie jaar wen Hamilton tien van die 19 renne, met Rosberg en Sebastian Vettel (wat Red Bull Racing vir Ferrari verruil het) wat elkeen, onderskeidelik, ses en drie renne elk wen.

Dit was ʼn seisoen bekend vir Hamilton se briljantheid om die baan, maar ook Vettel se skuif na Ferrari in ʼn poging om die glorie dae wat mede-Duitser, Michael Schumacher, en Ferrari in die vroeë 2000’s geniet het, te laat herleef.

Hamilton sou die jaar op 381 punte afsluit teenoor Rosberg se 322, maar met die baie belangrike derde titel agter sy naam. Dit sit ook vir Hamilton in ʼn gelese groep name wat die titel drie keer kon wen: Jack Brabham, Jackie Stewart, Niki Lauda, Nelson Piquet, en Hamilton se eie held, die voorafgenoemde Senna.

2017 – Vierde Kampioenskap

In 2016 het Mercedes besluit om sy span ʼn bietjie vars te maak en was die opdrag gegee dat Hamilton en Rosberg moet spanne ruil: die manne wat aan Hamilton se kant van die motorhuis is skuif nou oor na Rosberg toe, en andersom. Dit was ʼn groot skuif, want Rosberg het toe die kampioenskap gewen en ook toe sommer aan die einde van daai jaar sy uittrede uit die sport aangekondig.

Maar Hamilton het gebly en met die aanvangs van die nuwe seisoen word Valtteri Bottas van Williams, sy nuwe spanmaat. Bottas het drie renne in sy eerste seisoen by Mercedes gewen, maar Hamilton het nogsteeds die vloer met hom gevee met nege wenne wat sy kant toe kom. En wat almal voor gehoop het het uiteindelik waar geword; dat Ferrari en Vettel hul gat in rat sal kry om die magtige kombinasie van Hamilton en Mercedes die stryd aan te sê. Maar die uitdaging was steeds net ʼn bietjie buite bereik. Vettel sou wel vyf renne wen, insluitend drie uit die eerste ses renne, maar dit was asof Hamilton en Mercedes net beter raak soos die seisoen vorder.

Frustrasie het by die Europese ren in Azerbaijan oorgeloop toe Vettel, duidelik in die vinniger renmotor, Hamilton se aksies agter die veiligheidsmotor verkeerd gelees en aangeneem het dat die Mercedes man hom brake test (wanneer ʼn jaer versnel en dan net skielik stop). Vettel was só boos dat hy teen die kant van Hamilton se motor vasgery het. Alhoewel Vettel gestraf was, het baie gemeen dat Vettel óf uit die ren gediskwalifiseer moes word óf uit die kampioenskap geskors moet word.

Vettel se seisoen het net agteruit gegaan terwyl Hamilton sy vierde titel sou inpalm.

Hamilton 363 punte, Vettel 317.

2018 – Vyfde Kampioenskap

Die 2018 seisoen het die afgelope naweek in Dubai tot ʼn einde gekom, maar Hamilton het reeds drie weke terug die kampioenskap in Meksiko beklink. Wéér was dit Vettel wat Hamilton om die stryd sou aansê, maar ongedwonge foute agter die stuur het gemaak dat hy moes toekyk hoe Hamilton na sy vyfde titel toe draf. Vettel het duidelik die vinniger kar gehad hierdie seisoen en was die Ferrari byna buite bereik, maar Hamilton het dit laat lyk asof die gaping in verrigting tussen Ferrari en sy span nie eens bestaan nie.

Regdeur die jaar het hierdie manne gewoeker om te sien wie slegs die tweede jaer in die sport (naas Juan Manuel Fangio, as jy Schumacher op sewe titels uitlaat) se geskiedenis sal word om vyf kampioenskappe agter hul naam te skryf. Dit was ʼn moeilike seisoen vir beide jaers, maar soos die druk begin ophoop het was dit Hamilton was dit beter hanteer het. Was dit Hamilton wat koelkop gebly het toe dinge die swaarste gegaan het. Vettel, in die vinniger kar, het iewers op ʼn kol begin glo dat alles verkeerd toe dit nie so was nie. Dit het dan veroorsaak dat hy foute maak en het dit hom op die einde duur te staan gekom.

Ons moet maar volgende jaar sien of Hamilton ook hierdie Ferrari kameel se rug gebreek het.

Hamilton 408 punte, Vettel 320. O, ja! Hamilton se 408 punte… dis die meeste punte wat enige jaer nóg in ʼn enkele seisoen kon aanteken!