Indiese stadskar moet die ekonomie tem

mmanskap,mahindra,kuv100,kuv100 nxt,mahindra kuv100 nxt,city car,kaapstad,cape town,
Foto: Charlen Raymond

Ons het nou net weer die nuus gekry dat daar nóg ʼn verhoging by die vulstasie gaan wees en dit sal ongetwyfeld ʼn groot impak op ons beursies het. Die hemele hoor my, as dinge nie gou gaan verander nie dan trek ek land uit. Dalk Dubai. Of een van daai Oosterse lande.

Maar dalk is dit nie nodig om te trek nie, want Mahindra mag dalk ʼn oplossing het om die voortslepende probleem by die pompe aan te spreek. Dis nou wel nie ʼn produk uit die boonste rakke nie, maar dis ʼn oplossing. Die Mahidra KUV100 Nxt 1.2 D75 K6+. ʼn Moer lange naam vir ʼn kar, so van hier af praat ons nou net van die K6+. En hier’s hoekom:

Goedkoopste diesel

Mahindra het sy KUV100-reeks in 2018 hersien en toe ook sommer die naam aangepas en dit na die KUV100 Nxt herdoop. In totaal maak ses modelle die reeks uit, waarvan die model wat ons hier het, die 1.2 D75 K6+, een van twee diesel modelle is en teen R204 999 te koop is (die D75 K8 verkoop vir R219 999).

Hierdie twee modelle sit bo-aan die lys van die goedkoopste diesel voertuie in Suid-Afrika en is daar geen ander fabrikaat in hierdie geselskap nie. Ons het hard en lank gaan soek, maar daar is, onder die luikrûe, geen direkte kompetisie nie. Dit beteken dat Mahindra ʼn kraak in die mark geslaan het en dan eintlik alleen met homself sit en speel.

Die KUV100 is eintlik ʼn luikrug, ʼn hatchback, maar word ook as ʼn kruisvoertuig gesien vanweë sy hoë posisie en grondvryhoogte. Daarom dat hy tegnies in ʼn ander segment, sowel as sy eie, meeding. Maar ongeag hiervan is die KUV100 daarop uit om te wys dat jy ʼn nuwe motor teen bekostigbare pryse kan kry. Manne soos die Datsun Go en Renault Kwid stry ook teen inflasie en ʼn bukkende ekonomie, daarom dan dat hulle maandeliks goeie verkoopsyfers aanteken. En die KUV100 Nxt gesels saam.

mmanskap,mahindra,kuv100,kuv100 nxt,mahindra kuv100 nxt,city car,kaapstad,cape town,
Foto: Charlen Raymond

Vir die prys

Teen R205k het Mahindra nie geskroom om die KUV100 Nxt 1.2 D75 K6+ (bliksem, ek raak uitasem deur dit net te lees!) van ʼn goed bedeelde binneruim te voorsien nie. Die lap sitplekke is gemaklik en word met die hand verstel, maar iemand wat aan die lang kant is sal voel asof hy net ʼn bietjie té hoog sit. Elektriese vensters word vir beide voor- en agterste passasiers voorsien en spog die karretjie met ʼn mediastelsel wat Bluetooth, USB, en AUX toestelle kan speel.

Die stuurwiel laat jou darem toe om die volume te verstel of ʼn ander liedjie te kies.

Die KUV100 se middelste paneel is ietwat vreemd en is die uitleg daarvan ʼn bietjie… byderwets. Die rathefboom sit bo in die middel, die draaiknoppe vir temperatuur is ook daarop aangebring, en moet die handrem van onder daardie konsole uitgetrek nie.

Gelukkig slaan die agterste sitplekke plat en vergroot dit die laairuim van 243L na 473L.

mmanskap,mahindra,kuv100,kuv100 nxt,mahindra kuv100 nxt,city car,kaapstad,cape town,
Foto: Charlen Raymond

Die ekonomie

Mahindra verdien ʼn pluimpie, want hulle is die enigste vervaardiger wat die guts het om ʼn klein stadskar met ʼn diesel enjin te voorsien. Ja diesel motors is duur, maar hulle het dit nogtans gedoen. En die 1.2-liter drie-silinder enjin wat die K6+ dryf skop 57kW en 190Nm se wringkrag uit. Dis nie baie krag nie, maar hou in gedagte dat die wringkrag teen 1750rpm beskikbaar is en dat die motortjie net 1235kg weeg.

Daar is so ʼn lekker skop wanneer jy jou voet neersit en kan jy voel hoe die kar vir 120km/h mik. Daar is ook twee ritmodusse om vanuit te kies – Power en Eco – en is dit my aanbeveling om nie van Eco gebruik te maak nie. Al is hy amper so lig soos ʼn veer, die K6+ beweeg nie in daardie modus nie. Jy sit jou voet neer en daar gebeur absoluut niks. Power is die enigste opsie wat jy moet oorweeg om deur die vyf-spoed handratkas te draf.

Mahindra sê dat die gemiddelde verbruik 4.3 L/100km is en dat jy, teoreties, 814km op sy 35L tenk kan behaal. Nou ek weet nie hoeveel waarheid daarin steek nie, want op 400km moes ek die tenk weer volmaak. Dit wil dus sê dat my verbruik, oor sewe dae, op bykans 12 L/100km te staan gekom het. Nou, hoe op dees aarde kry ʼn mens dit reg? Dis wat ek in ʼn petrol-gedrewe Mercedes-AMG C43 doen!

Dit was vir my een van die skokkendste dinge omtrent die kar. Alles kon gaan, maar ʼn klein stadskar wat so baie diesel verbruik… aikôna!

Slotsom

Mahindra het nie dieselfde reputasie in Suid-Afrika as wat sommige van sy Oosterse vriende het nie, maar die vervaardiger het die laaste paar jaar groot treë gegee om sy motors beter te maak. Daarmee kan niemand stry nie. Daar is nog dinge wat pla, maar dis goed wat oorgesien kan word. Vervaardigers kan nie almal dieselfde ontwerpstaal praat nie, want dink net hoe vervelig sal alles nie dan wees nie. Hoe verbeeldingloos.

Die K6+ is een van daai karre wat jou laat kennis neem. Nie omdat dit die beste is nie, maar omdat dit jou wil bewus maak dat alternatiewe soms nie ʼn slegte keuse is nie. So, vir die laaste keer, hiermee dan die voleinding van my opinie oor die Mahindra KUV100 Nxt 1.2 D75 K6+.

mmanskap,mahindra,kuv100,kuv100 nxt,mahindra kuv100 nxt,city car,kaapstad,cape town,
Foto: Charlen Raymond