Suzuki Jimny 2018 se grootste verrassing

Jimny,suzuki jimny,suzuki,manskap,franschhoek,cape town,suid-afrika,south africa,cape town
Foto: Warren Wilson

Gedurende 2018 het daar heelwat nuwe rygoed aan eie bodem geland. Sommer aan die begin van die jaar was die nuwe Honda Civic Type R en Mercedes-Benz S-Class/Maybach geloods, en daarna het alles net spoed opgetel. Jy dink dit kan nie nog beter gaan nie, maar dan doen dit. En dit was lekker om te sien hoe ver tegnologie gevorder het en hoe dit in motors pos vat.

Maar ook aan die onderpunt van die spektrum was gewoel en was daar ʼn spul motors bekendgestel wat die begroting moet klop. Manne sooos Honda wat hul nuwe Amaze geloods het, en dan ook Suzuki wat sélf ʼn besige jaar gehad het. Dié Japanese fabrikaat het sy nuwe Swift en sy sedan weergawe, die Dzire, geloods. Maar seker die grootste van die Suzuki-lot was die vierde-generasie Jimny. (Ironies dat ons die woord ‘grootste’ gebruik, want die Jimny is alles behalwe groot.)

En gegewe wat die SUV alles voor staan en moet doen is dit dalk die Dawid in ʼn see van Goliatte…

Hou vas, Jimny!

Sedert die Jimny in 1970 hier gekom het was dit ʼn sukses vir Suzuki, want hier het jy ʼn SUV wat klein is en oor alles en nog wat kan klouter. Klein wiele, ʼn ligte bak, kompakte afmetings was alles wat die Jimny daai tyd ʼn hit gemaak het. Die resep was so suksesvol dat Suzuki amper half te bang was om ʼn nuwe model uit te bring, want elke huidige generasie was bekwaam en goed genoeg.

So versigtig was Suzuki dat elke generasie Jimny langer op die mark was die vorige. Die eerste generasie was vir elf jaar te koop, die tweede vir 17 jaar, en die derde vir twintig. Twintig! Dis donders lank en in daai tyd sal baie vervaardigers sommer drie generasies van ʼn motor die mark instuur. Maar vanaf 1998 tot 2018 was die derde generasie Jimny ʼn staatmaker vir Suzuki. Mense wou hom hê, avonturiers wil niks anders oorweeg nie, en mense wat opsoek was na ʼn lekker vinnige wegbreek in iets wat die elemente kon weerstaan het hier kom soek.

Suzuki wou nie bes gee nie en het die Jimny vir so lank as moontlik op die mark gehou, maar eindelik besluit om die suksesvolle derde-generasie te vervang. Wie weet, dalk besluit Suzuki om hierdie ene vir ʼn korter periode op die mark te hou. Of as hulle nou regtig snaaks wil wees, vir langer as 20 jaar. Die ding is, die Jimny is so eenvoudig in sy bestaan dat dit nie eintlik nodig is om dit inderhaas te vervang nie. Daar is nie onnodige tegnologieë nie en die sisteme wat die vier-wiel stelsel dryf is eenvoudig. Duidelik ʼn wen vir Suzuki, of hoe?

Jimny,suzuki jimny,suzuki,manskap,franschhoek,cape town,suid-afrika,south africa,cape town
Foto: Warren Wilson

Klim en klouter

Daar is baie SUVs op die mark wat behoorlike 4×4 werk kan doen en elke SUV is goed in eie reg, maar waar die Jimny hulle troef is met die prys. Want teen R319 900 kry jy ʼn formidabele 4×4 wat enige wa die stryd aan kan sê.

Die 1.5 GLX wat ons hier het is met ʼn vier-spoed outomatiese ratkas toegerus wat die krag vanaf die enjin na die wiele kanaliseer. So gepraat van die enjin, dis ʼn normaal-geaspireerde 1.5-liter petrol enjin wat 75kW en 130Nm ontwikkel. Ek weet, ek weet… dis nie baie krag nie so die Jimny sukkel seker wanneer daar in die bos gery word. Uhm, ek wens ek kon daarteen stry maar ek hou nie van jok nie. Die Jimny se versneller moet wel getrap word sodat daai min wringkrag kan inskop, maar die enjin kon net sowel deur Willing & Able gebou gewees het; dit wíl werk. Raas of te not, die Jimny stel nie ʼn taak uit nie.

Lees: Rateltaai Jimny is terug!

Daarby is Suzuki se AllGrip 4×4 stelsel wat eenvoudig, dog treffend, werk. Sit die ratkas in neutraal en klik die tweede hefboom na óf 4×4 High óf 4×4 Low – laasgenoemde aktiveer die ewenaarslot. Nou sien die Jimny kans vir enigiets wat mens sy kant toe gooi. Heuwels en dongas, die Jimny sien kans vir alles en daai 15-duim wiele klouter. Danksy ʼn grondvryhoogte van 210mm (20mm méér as die vorige generasie), ʼn lae gewig van 1 110kg, en ʼn lekker knap lyf is dit maklik om oor bulte te seil; sonder om te worry dat die maag gaan skuur of vas sit.

ʼn Vyf-spoed outomatiese ratkas sou definitef op die oop pad met petrolverbruik help, maar die enjin en ratkas se toepassing in die Jimny werk in die geheel goed saam.

Jimny,suzuki jimny,suzuki,manskap,franschhoek,cape town,suid-afrika,south africa,cape town
Foto: Warren Wilson

Ruimte, vra jy?

Dis seker maar nou iets wat ʼn mens mee verlief moet neem wanneer jy die Jimny oorweeg, want spasie is nie dié SUV se sterkste punt nie. Met ʼn lengte van bietjie oor die 3.6m en ʼn hoogte van 1.67m, is die Jimny ʼn klein wa. Daarom die twee deure (drie as jy die agterdeur insluit) en mens wat gebukkend op die agterste bank moet kom. Gelukkig kan mens die agterste sitplekke afslaan en/of uithaal, wat die laairuim vergroot. Maar dan, die Jimny was nooit veronderstel om groot te wees nie, so mens kan nie die SUV op iets kritiseer wat dit nie moes wees nie.

Die Suzuki Jimny is gemaak vir daai vinnige besluit om weg te gaan vir die dag of naweek, net jy en nog iemand. Dis gemaak om te verken, in pret te hê, en om glimlagte te jaag. Daar is ʼn volwasse speelsheid omtrent die Jimny en dit maak dit maklik om van dit te hou.

Dis een van die min voertuie wat laas jaar geloods was wat nie voorgee om iets te wees wat dit nie is nie. Suzuki het nog altyd eerlike voertuie gebou en die Jimny sit daardie hand-op-die-Bybel tradisie voort.

Nuwe Suzuki Jimny in 30sek

As enigiemand nog nie weet waartoe die nuwe Suzuki SA Jimny instaat is nie, hopelik sal hierdie kort video jou iets kan sê.#ManskapSA #SuzukiSA #Jimny #SuzukiJimny

Posted by Manskap on Saturday, 1 December 2018