Suzuki slaan uitklophou met nuwe Jimny

manskap,suzuki,jeep,wrangler,jimny,jeep wrangler,suzuki jimny,south africa,suid-afrika,cape town,kaapstad,4x4,off-road
Foto: Warren Wilson

In November 2018 het Suzuki Suid-Afrika sy heel nuwe Jimny na Suid-Afrika gebring; twintig jaar sedert die laaste model bekendgestel was. So mens kan jou net in dink hoe groot die hype rondom die nuwe model was. Om die waarheid te sê, Suid-Afrika se motorjoernaliste was almal opgewonde vir die Jimny se aankoms en kon ons nie wag om te sien presies hoe hierdie nuwe model die mas opkom nie.

En waar die Jimny die mas moet opkom is by veldry vermoëns; dis waar dit die meeste gebruik gaan word. Om te sien presies hoe goed die Jimny in 4×4 dinge is het ons dit teen ʼn teenstander uit die 4×4 kant van die mark gesit: ʼn Jeep Wrangler CRD Unlimited. Alhoewel die Jimny nie die grootste enjin of die beste veldry bande het nie, moes dit net doen wat die Jeep doen sonder om iewers vas te val. Die Jimny se pakket is blêddie goed aanmekaar gesit en kan mens nie anders as om van die klein SUV te hou nie, maar is ek-hou-van-jou genoeg in hierdie ernstige geselskap?

manskap,suzuki,jeep,wrangler,jimny,jeep wrangler,suzuki jimny,south africa,suid-afrika,cape town,kaapstad,4x4,off-road
Foto: Warren Wilson

Lei my, o grote

Die Wrangler is sonder twyfel een van die wêreld se beste 4x4s. Sy vermoëns wanneer dit by veldry kom is bykans sonder gelyke en kan dit enige taak, maak nie saak hoe gewaagd, maklik kaf draf. Dit is dan net gepas dat ons dit nader trek om teen die Jimny diens te doen.

Dié Jeep word deur ʼn 2.8-liter diesel enjin gedryf wat 147kW en 460Nm se wringkrag ontwikkel. Danksy turboaanjaging, is daardie wringkrag al teen ʼn lae 1600rpm beskikbaar. Kielie die versneller en die SUV hop vorentoe. Die vyf-spoed handratkas is ʼn bietjie oudedoos, maar mens kom dit skaars agter wanneer jy doer ver in die bos is. Maar hierdie is nie jou gewone Jeep Wrangler nie, nee. Hierdie een het ʼn hoër grondvryhoogte as die standaard model se 241mm, dit het (baie!) groter wiele, en ʼn suspensie wat presies vir hierdie tipe uitdagings ontwikkel is. En, natuurlik, is daar die lemmetjie groen verf en in-jou-gesig ontwerp wat jou konfronteer. Hierdie Jeep is nie deel van die media vloot nie, maar word deur Jeep Suid-Afrika vir 4×4 kursusse gebruik.

Lees: Suzuki Jimny 2018 se grootste verrassing

Die Jimny, aan die anderkant, word deur ʼn baie kleiner nie-turbo enjin aangevuur. Die 1.5-liter petrol enjin se kragvlakke van 75kW en 130Nm lyk belaglik teen die Jeep se kragsyfers en kom die 210mm grondvryhoogte ook maar as vlak voor. En die vier-spoed outomatiese ratkas is ook nie iets om oor huis toe te skryf nie.

Maar voordat julle my kruisig vir hierdie ongoddelike toets tussen dié twee voertuie, laat ons net duidelik wees oor die feit dat ons wéét dat hierdie twee SUVs nie in direkte kompetisie is nie. Sien, Suzuki het die mantra om die Jimny se nek gehang dat dit ʼn giant killer/slayer is. Ek sien dit eerder as ʼn Dawid in ʼn see van Goliatte, omdat dit moet doen wat groter en duurder 4x4s ook kan doen; teen ʼn fraksie van die prys. Dis nie ʼn maklike taak nie, maar oor die laaste 40 jaar het die Jimny kom bewys dat dit vir niks terug staan nie.

Oor en verby

Om die Jimny se vermoëns tot die uiterstes te beproef, het ons na Jeep se 4×4 baan net buite Kaapstad gegaan. Eers het die Wrangler die baan trotseer en het dit alles na kinderspeletjies laat lyk. Die manier hoe dit opdraandes aanvat, hoe die suspensie ditself met elke hindernis aanpas, en die gemak waarmee die enjin voort stu was opvallend. Dit het gelyk asof enigiets wat mens die Wrangler se kant toe gooi, gou-gou mee afgereken sal word.

Die Jimny was volgende aan die beurt en het die hele baan vir homself gehad. ʼn Gevoel dat mens wil sien hoe hierdie SUV slaag kom feitlik dadelik navore; net omdat die Jimny ʼn onderskatte voertuig tussen ernstige 4x4s is. Dis jou underdog tipe situasie. Aan die begin van die roete was daar nie baie om die Jimny van stryk af te bring nie en het dit vorentoe gegaan teen ʼn gesonde pas. Die baan het uitgelig hoe klein en beheerbaar die voertuig se draaisirkel is en hoe gemaklik dit was om oor en deur die baan te vleg. Skuinstes het die Jimny ook maklik oorkom en ʼn paar dongas was nie eens ʼn probleem nie.

By die laaste hindernis het dit gelyk asof die Jimny dit nie sou maak nie, maar toe die enjin eers sy sweet spot slaan kon mens genoeg momentum bymekaar skraap om oor die gaterige heuwel te seil. Asof dit ʼn rustige stap in die park is.

Slotsom

2018 het heelwat nuwe voertuie opgelwer, maar die Jimny staan beslis uit as een van die jaar se sterre. ʼn Eerlike produk wat nie voorgee om te wees wat dit nie is nie en presies doen waarvoor dit gebou was om te doen. Dis ʼn voertuig wat baie se aandag getrek het en daar is absoluut geen voornemens om daai aandag prys te gee nie.

Teen een van die 4×4 segment se leiers het die Jimny kom wys dat dit ʼn formidable aanspraakmaker is. Dalk nie in terme van krag of die tipe elektroniese toebehore wat dit tot sy beskikking het nie, maar as ʼn veldryer. Dit sal enige plek ry, alles aanpak, en jou goedkeuring met sy groothartigheid wen.

Prys: Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip Auto – R319 900

manskap,suzuki,jeep,wrangler,jimny,jeep wrangler,suzuki jimny,south africa,suid-afrika,cape town,kaapstad,4x4,off-road
Foto: Warren Wilson