Suzuki Swift se krag lê in eenvoud

swift,suzuki,suzuki swift,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Charlen Raymond

Dit mag dalk vir sommige ʼn skok wees, maar groot en duur is nie altyd die antwoord nie. En die Suzuki Swift kom bewys dit net so.

Wag nou eers alvorens ek oor die kole getrek word, want daar is kere dat mens net eers vir ʼn tydjie moet agteroor sit en oor jou lot besin. Veral wanneer dit by nuwe karre kom.

Ons kan so weggevoer word deur die drome om die beste in die lewe te wil bekom, dat jy half vergeet dat daar ʼn realiteit is wat gelewe moet word. Daarmee sê ek nie om op te hou droom nie, maar as jou realiteit ʼn wesenlike ding in jou lewe is wat jou nie toelaat om baie te droom nie, dan moet daar na ander, eenvoudiger, opsies gekyk word.

Kom ons neem die Suzuki Swift as ʼn voorbeeld. Hierdie rooie. Dis ʼn klein stadskar, kos (ver) onder R200 000, het die basiese funksies wat jy van ʼn motortjie in hierdie klas verwag, en dit neem jou van punt A tot B. Baie basies en baie eenvoudig, maar geensins ʼn klap in die gesig.

Pas die sak

Die nuwe Swift was nou onlangs in Suid-Afrika geloods en vervang dit die uitgaande model. Daar is nie baie aan die lyf verander om die bekendheid weg te neem nie en lyk dit eerder, van buite af, of die plooie uitgestryk is. Voor én agter is baie van die herkende elemente gehou, soos byvoorbeeld die ronde gesig en die groot kopligte, en die kortaf kattebak agter.

Alhoewel dit dadelik treffend as die nuwe Swift is, was Suzuki SA dit eens dat die prys sonder twyfel kompeterend en aggressief moet wees. Dis ʼn moeilike taak om te doen, maar tog is die nuwe Swift vanaf R159 900 beskikbaar – R175 900 vir hierdie 1.2 GL. Dit mag dalk soos ʼn grap klink, maar vir die prys is daar nie veel fout met die rooi vlammetjie nie. Kopers word gekonfronteer met ʼn eenvoudige dog treffende binneruim, beheerknoppe wat logies uiteengesit is, sitplekke wat ordentlike gemak bied, en genoeg ruimte om asem te kan haal.

Lees: Met wye draaie en passe terug huis toe

Ondanks die feit dat dit ʼn klein motor is, het Suzuki nie juis geskroom om die produk so bes moontlik toe te rus nie. En dis hier waar mens Suzuki ʼn pluimpie moet gee. Al sy motors bied besondere waarde vir geld en die handelsmerk word uitgeken as een wat dopgehou moet word. Ja, hulle is klein in vergelyking met manne soos Ford, Toyota en Volkswagen, maar ondanks die goedkoper prys het waarde vir geld nie agterweë gebly nie.

En die Swift getuig daarvan.

swift,suzuki,suzuki swift,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Suzuki SA

Lig, ligter, ligste

Die Suzuki Swift is maar ʼn ligte karretjie en weeg dit ʼn skamele 875kg. Dis bitter lig, wat help dat die 1.2-liter enjin nie so hard hoef te werk nie. Die enjin wat sonder enige turbo-aanjaging oor die weg moet kom lewer 61kW en 113Nm. Om die beste uit dit te kry moet mens maar die lepel trap, maar in die stad kom die kar baie lekker tot sy reg. Dis ʼn gemaklike rit en die vyf-spoed handratkas skakel met gemak oor van ratte. Die koppelaar verg nie veel insette nie en is die trap van die linkerbeen glad nie oordadig nie.

Die ligte bak en ywerige enjin help dat mens baie maklik tussen punte kan beweeg, plus die goeie stuur-aksie maak dat mens nie enige probleme het om draaie baas te raak nie. Selfs daai 15-duim wiele klou vir ʼn vale om nie die kar se vlaggie te laat sak nie.

Slotsom

Mens kan soms baie vinnig vergeet dat daar ʼn lewe onder die R200k-kerf is en vasgevang raak in die gejaag na die beste. Daar is niks fout om daardie tipe rygoed te ry nie, maar dis maklik om te vergeet dat daar ook goeie opsies op die mark is; teen ʼn fraksie van die prys.

Die Suzuki Swift is een van daardie motors wat jou laat besef dat goeie waarde vir geld nie noodwendig méér as R200 000 hoef te kos nie. Dat mens sommer hier vlak kan kyk vir iets wat jou begroting pas én jou nie sal laat spyt voel oor die keuses wat jy in die lewe maak nie.

swift,suzuki,suzuki swift,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Charlen Raymond