Terug op die plaas, terug by die huis

manskap,plaas,suid-afrika,piketberg,mark
Foto: Charlen Raymond

Die plaas is in my bloed. Ons familie het nou wel nie ʼn plaas nie, maar die veld, die natuur, die ooptes; dit alles roep na my. Hier in die stad is daar nie juis veel van ʼn gevoel van “plaas” nie. In die voorstad waar ek woon is daar heelwat plase in die omtes, maar dit word al meer deur die uitbreiding van betonwoud oorskadu. Die groter plase wat nog staande bly is net wynlandgoede en hier en daar is ʼn kleinhoewe wat  kop uitsteek. Maar plaas… ha ah, los maar. Nie hier nie, ou maat.

In ons huishouding lees ons gereeld tydskrifte en een daarvan is Platteland. ʼn Tydskrif wat hom daartoe toe spits om die geheime van die platteland na vore te bring. Om aan die lig te bring dit wat op die platteland gebeur. En so blaai ons dan ook deur die nuutste uitgawe van hierdie tydskrif en hier naby die einde sien ons iets. ʼn Mark. ʼn Plaasmark. In Piketberg. Skaars 90 minute se ry teen die N7 op uit Kaapstad uit. Dis mos net hier anderkant!

Elke laaste Saterdag van die maand kom die locals op iemand se plaas bymekaar en verkoop hulle dan nou ditjies en datjies. So wat doen mens? Jy skoffel soontoe en gaan kyk of hulle tuisgebakte brood verkoop!

manskap,plaas,suid-afrika,piketberg,mark
Foto: Charlen Raymond

Wolk kombers

Die mark is net oop tussen 09h00 en 12h00, en as jy laat is is die kanse goed dat jy dit sal verbeur. Skaars het die horlosie 08h00 geslaan en ons val in die pad. Dis nog koud buite – die winter het mos nog nie gebreek nie – en die baadjies is top bo toegemaak. Daar was selfs iewers ʼn kombers ook in die kar… Dis nog stil daai tyd van die oggend en ons probeer ons weg uit Kuilsrivier vind, maar hier in die stad is mos altyd een of ander pret-draf ding wat aan die gang is. Vanmôre weer! Dis net drawwers en mense met blou ligte op hul karre. Hier sal ons ander koers moet kies.

Gou skiet ons Brackenfell toe en klim daar op die N1, waarna die Klipheuwel pad (R304, rigting Malmesbury) ons roep. Die mis lê vlak oor die plase langs die pad en die ryp en dou kan jy sommer sien kleef nog so aan die gras. Die koeie is al op al vier pote en herkou gister middag se gras. Net kakebene wat beweeg en warm asem wat voor hul gevrete verdamp. Deur Malmesbury op die N7, nog net 60km en ons is in Piketberg.

Die opgewondenheid in die kar is aansteeklik en ons almal wil net sien wat die mark te bied het. In Piketberg gekom skiet ons gou deur die besige hoofstraat (die plek krioel op ʼn Saterdag!!), en dan op die R66 tot ons die Versfeldpas/Piket-Bo-Berg bordjie sien. Hier draai jy af en volg dan die “Farmers Market” bordjie tot jy by jou bestemming kom. Mens ry letterlik teen ʼn berg op om by die mark te kom, maar gelukkig is die hele pad geteer. Soos jy ry en jy loer teen die kante af, sien jy die hele wye Wes-Kaap onder jou. Die wolke wat stadig oor die vallei sweef en ʼn tafeldoek-effek oor Piketberg vorm. Hoe hoër jy gaan hoe mooier word dit, en aan die anderkant van die berg is dit nét so asemrowend.

manskap,plaas,suid-afrika,piketberg,mark
Foto: Charlen Raymond

Aah, my broodjie

Daar sit die mark. Klein en intiem, amper weggesteek agter die bome. Die kort grondpadjie kan ʼn lae kar skraap, maar dit sal nie enige skade berokken nie. Moet net nie met jou sportskar kom nie. Dit sal dom wees.

Dis lewendig hier en die musikante vermaak diegene wat hulself daar bevind. Dis ʼn gelag en gegroet en ʼn “welkom hier by ons!” Hier het jy iets van alles. ʼn Paar ooms en tannies stoom snoek en braai roosterbroodjies. Ander brou koffie sodat jy jou dag op die regte manier kan begin. Een omie bou handgemaakte speelgoed vir kinders en net so oorkant hom is die mense wat na ek-soek-ʼn-huis honde omsien. En dan, natuurlik, is daar die fyn goed in die lewe vir mense wat van sulke goed hou.

Ek is hier vir een rede: die kos. Met my koffie in die hand beweeg ek tussen die stalletjies, maar wat kan ek kry? ʼn Potjie konfyt? Nee dankie, ek wil nie teen vanaand ʼn diabeet wees nie. Wat van die vis? Uhm, dit hou jy vir ʼn regte braai. Aah, daar sien ek dit: kerrie.

“Is julle kerrie spicy?” vra ek die vroutjie agter die tafel. Glad nie, sê sy en druk ʼn lepel vol van die kos in my mond. Heerlik, en ek bestel sommer net daar vir my ʼn skepsel. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek kerriekos vir ontbyt gehad het, maar dis net omdat daar nie iemand was wat bacon en eiers verkoop het nie. Ek loop verder deur en kry ʼn tuisgebakte volgraanbrood, en by ʼn vroutjie van Kraaifontein koop ek ʼn potjie vye konfyt. Ja, die smouse ry letterlik uit die Kaap uit om hul goedjies hier te verkoop.

Iewers gedurende die oggend het ek tuisgemaakte pynappel bier ook gedrink, maar die smaak gaan my nie aan nie. Tog staan die mense tou vir ʼn glas of ses. En ek? Ek is gelukkig en het gekry waarna ek gesoek het: ʼn tuisgebakte brood vir môre oggend se brêkfis voor kerk.

Plus, ek was plaas toe.

A post shared by @manskapsa on