Toe maak daai F-Pace vhôp- vhôp- vhôp!

jaguar f-pace
Foto: Jaguar SA / MotorPress

Mens sal dit nie sommer glo wanneer jy dit hoor nie, maar Jaguar se F-Pace is ‘n belaglike kwaai wa! Veral die 3.0-liter superaangejaagde V6. Maar wag, voor ek die pêrre voor die wa span, laat ons eers die F-Pace van nader leer ken.

‘n Paar jaar terug het Jaguar die wêreld laat regop sit met die bekendmaking dat hulle ‘n SUV gaan bou. En was dit nie ‘n verrassing nie, want hoe kan Jaguar, ‘n vervaardiger wat bekend is vir luukse gesinskarre en die über gewilde F-Type (meer oor hierdie kar in ‘n latere uitgawe), dan nou ‘n SUV wil bou?!

Mooi en relevant

Tog, vir Jag, móés hulle dit doen. Nie net om ‘n ekstra geldjie te maak nie, maar sodat hulle relevant en aan die voorpunt van ontwikkeling en verandering kon bly. Dis dan hoe F-Pace ontstaan het. Genugtig, is dit nie mooi nie!

Die model wat ons hier het is die kragtigste en vinnigste F-Pace wat mens in Suid-Afrika kan koop. Die enjin skop 280kW en 450Nm uit en kan hierdie wa die buurt op hol jaag! Nie net omdat dit mooi en groot en ‘butch’ is nie, maar omdat die lawaai wat dit maak so verslawend is. Innemend. Dit klink so na laat-ek-weer-hoor.

Wanneer mens die verstellings in Dynamic mode sit en die ratte self verander, is dit letterlik ‘n geklap en
gekletter soos die enjin in die rooi toer. Dit is ‘n simfonie van klanke wat vhôp-vhôp-vhôp en dan jou nek knak wanneer die volgende rat gehaak word. Die nadeel van al hierdie gespeel is natuurlik dat petrolverbruik negatief beïnvloed word, maar dit doen nie veel om die glimlag van jou gesig te vee nie. Jaguar voer aan dat hierdie wa van 0-100km/h sal spring in omtrent 5.5 sekondes. Soos dit ‘n kat betaam.

Sweef oor die pad

Nog iets wat help met die F-Pace se padgedrag is die onderstel. Nes ander premium vervaardigers spog Jag met ‘n onderstel wat homself aanpas soos die padoppervlaktes verander. Dit help dan dat die F-Pace op enige gegewe oomblik die beste moontlike rit bied. Die onderstel meet en reguleer die pad met elke sekonde wat verbygaan en die motor pas homself daartoe aan.

Dis mos hoe die lang pad soos suiker opgeëet word. En dan natuurlik is daar ook die agt-spoed outomatiese ratkas wat soos Big Ben in London elke keer op tyd is met sy oorskakelings.

‘n Sterk enjin en lekker rit is nie die enigste goeie punte van hierdie F-Pace nie. Binne is daar oorgenoeg ruimte vir vyf volwassenes en hul bagasie. Leer is oral te sien en te voel en die materiale en panele is lekker stewig aanmekaar gesit. Mens voel sommer dat jy in gehalte sit. Buiten spoed- en klimaatbeheer wat mens nou al te wagte op kan wees, spog die F-Pace met heelwat ander speelgoed om enige trippie lekker en gemaklik te maak.

Speelgoed soos stembeheer om sekere funksies te aktiveer en te gebruik is standaard, en drie kragskokke. Ander truuks wat mens opsioneel moet aanskaf sluit in verhitters vir beide die voorste en agterste sitplekke, sitplekgeheue vir die voorste sitplekke, kantspieëls wat vanself toevou, en “head up display” wat spoedinligting op die voorruit vertoon.

Groot sukses

Die suksesstorie wat Jaguar Suid-Afrika sedert middel 2016 geproe het, toe die F-Pace in ons land bekend gestel is, is een wat Hollywood se bestes seker nie sal kan oorvertel nie. Die F-Pace het van meet af die bes-verkopende Jaguar geword en dit is elke maand onder die top vyf luukse SUVs wat die meeste eienaars vind.

Dit sê baie van hoe goed die voertuig is en ook watter tipe aftrek dit onder kopers geniet. En hierdie F-Pace met sy superaangejaagde V6 enjin is die perfekte hoogtepunt in ‘n model reeks wat die hele Suid-Afrika se koppe laat draai. Veral as daai uitlaatpype begin kletter!