Tog deur die Klein Karoo: Kango Grotte

Congo,congo caves,kongo grotte,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Charlen Raymond

Augustus bly maar vir my ʼn mooi maand. Nie oor wat nie, maar omdat dit die maand is dat ek my verjaarsdag vier. Elke jaar. Klokslag. Soos wanneer die kerk se klok om 10h00 op ʼn Sondagoggend lui. Maar hierdie verjaarsdag is ʼn spesiale een, want ek is mos nou amptelik op die rak. Een jaar oor op die kalender. Dertig is hier en ek is reg vir hom.

So hoe nou gemaak om die dirty thirties tegemoet te kom? Hoe kan mens die nuwe fase, die nuwe dekade, van jou lewe groet en sê “kom na pappa toe”. Maklik! Jy laai die nodige in ʼn voertuig wat vir die langpad bedoel is en jy draai dié se neus in die rigting waarin jy wil gly. Maar die vraag is, watter voertuig kies jy? Ongelukkig vir my het ek gesien hoe die opsies voor my oë verdwyn. Ek moes beide die Range Rover Velar en Mercedes-Benz X-Class gehad het, maar tegniese probleme op die Velar en ʼn ‘iets’ by die X-Class het dit nie laat gebeur nie. Dit nadat die rygoed al drie maande voor die tyd vasgemaak is… En toe, as alternatief, moes ek die nuwe Toyota Hilux Dakar kry, maar etlike dae voor ek dit in ontvangs neem word die agterlig beskadig.

En daar staan ek toe, sonder ordentlike wiele wat die 1 500km road trip maklik kan kaf draf. Tog is daar ʼn opsie: die Renault Kwid Climber. Sonder om te twyfel stem ek in en die volgende dag is die blou Kwid op my voorstoep. Naweek breek aan, ons laai die kar met dit wat ons nodig het en gou-gou val ons in die pad. N1 my nou! By Paarl is ek deur die tolhekke sonder om te betaal (sommige media karre kom mos met e-tags) en is ons al aan deur Worcester, Robertson en daai plekke, tot in Oudtshoorn.

renault Kwid climber,renault,renault kwid,kwid climber,manskap
Foto: Charlen Raymond

Kango Grotte toe!

Ons oornag in ʼn klein B&B met ʼn uitkyk oor ʼn kanaaltjie wat onder die huis verby loop. Dis stil hier. Agter en voor ons is die dorp lewendig, maar dis asof waar ons is weggesteek is van die res van die plek. Dis stil en mens kan selfs onder op die grasperk na die voëls en otters kyk wat tussen die riete baljaar. Dis letterlik ʼn stukkie hemel op aarde, en dit sommer so in die dorp. Na ontbyt is ons in die Kwid, maak weer die tenk vol, en skiet die 30km uit die dorp uit tot by die Kango Grotte. Dis ʼn mooi stukkie pad. Droog, maar mooi. Oral waar jy kyk is privaat reservate, restaurante, plase… die dorp en sy omliggende areas is alles op die toeris gemik en dit maak dat ʼn naweek amper nie genoeg is om alles te sien en ervaar nie.

By die Grotte gekom kry ons ons kaartjies en wag ons vir ons toer om te begin. Die rotsformasies strek voor jou uit, die uitsigte vanaf die balkonne laat jou in ʼn dwaal. Daar is oral mense; mense wat ook wag om hul toere te begin. Dis ʼn mooi gesig hierdie en jy is half te bang om ʼn foto te neem. Nie omdat jy nie wil of nie kan nie, maar omdat die foto’s net nie die plek tot sy reg sal laat kom nie. Dalk as jy Warren Wilson is sal jou foto’s kan werk.

Om 12h30 begin ons toer. Rustig en stadig stap ons die donker gat in. Die humiditeit klap jou in die gesig en jy kan sommer ruik dat hier al baie mense was vandag. Soos ons kleintyd gesê het: die plek pong van die mense. Ons trap teen die trappe af, en beweeg deur ʼn paar groot “sale” waar die gids ons meer inlig oor die geskiedenis van die grotte en hoe dit oor die jare gevorm en omskep was. Dan kom die aankondiging dat ons nou by die moeilike gedeeltes is. Dat mense wat nie van knap spasies hou nie net daar moet bly en wag terwyl die res van die groep deur die gate kruip. Right, laat ons dan kruip!

Voel-voel begin ek te klim, maar die kortbroekie wat ek aan het sit so vrek ongemaklik tussen my bene dat ek nie my knieë hoog genoeg kan lig om myself op te kan stoot nie. Uiteindelik deur, toe raak die uitdaging om my 92kg nie-só-breed lyf deur die slootjies te kry. Dis ʼn geskuur, ʼn gehyg na asem, ʼn sagte dog kragtige vloekwoord om jou dwaasheid te vervloek, en strek na hulp na die uitgestrekte hand wat jou broer jou bied. Dis donders warm daar binne in die grot en die sweet tap my af soos ʼn vark in die somer. Alles is warm, alles is vol sweet. My bors brand en op ʼn stadium het dit letterlik gevoel of ek vandag my Heiland gaan ontmoet. Die Here hoor my, daai Kango grot het my by die dood laat omdraai.

Het ek pret gehad? Yip. En sal ek weer gaan? Sonder twyfel, ja! Maar dan moet ek eers seker maak dat ek ʼn paar sentimeters om die heupe verloor!

A post shared by @manskapsa on