Totsiens, ou Grote

nissan,patrol,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury,power,v8,engine
Foto: Nissan SA

Die Nissan Patrol is letterlik die laaste van uitgaande generasie en sy teenwoordigheid sal gemis word wanneer – en as – dit finaal moet verdwyn.

Hulle maak net nie meer musiek soos in die verlede nie. Ons het die Beetles gehad, vir Elvis Presley, Queen, Michael Jackson, Biggy Smalls, Tupac… Kunstenaars wat emosie ontlok het en ʼn gevoel van samehorigheid met hul musiek ontlok het. Hierdie genoemde kunstenaars is net ʼn paar uit ʼn lang lys van name van mense wat musiek gemaak het wat tot jou siel spreek.

Deesdae word ons gekonfronteer (Here help ons) met kunstenaars wat sing oor hoe hulle iemand sal skiet wat net na hul horlosies kyk, of hoe hulle kêrel na kêrel sal hê net om iets te kry om oor te sing, of hoe hul privaatdele die beste is en almal vir ʼn rytjie moet kom. Die punt is, ons is nou al so ver verwyderd van musiek wat ʼn boodskap oordra dat ons nou al tevrede is met drie minute van “Scoopity poop”.

Dis dieselfde in die motorwêreld. Ons word gekonfronteer met voertuie wat hulle sê enigiets en alles kan doen, maar die utivoering daarvan is nie juis baie goed nie. Daar is bitter goeie voertuie daar buite, maar baie van die opsies so tegnies en polities korrek dat ons amper vergeet het dat dit okay is om ʼn tree terug te staan. Dat dit okay is… om na ou musiek te luister.

nissan,patrol,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury,power,v8,engine
Foto: Nissan SA

Alles is groot

In ʼn daad wat ietwat teen die grein gaan van wat die moderne samelewing vereis, het Nissan ʼn sprong in geloof geneem en sy nuwe Patrol na ons mark gebring. My genade, die grootte van hierdie tweeverdieping bus sal jou asem wegslaan. Alles omtrent dit is groot. Die 18-duim wiele, die dak, die grondvryhoogte, die vensters, die binneruim; alles is in oormaat. Aan die voorpunt kyk die chroom sierrooster jou reguit in die gesig en die hoofligte maak dit moeilik om enigiets anders raak te sien. Die hoë dak met sy ingeboude sondak strek vir bykans die hele lengte van die dak en agter gee die vyfde deur toegang tot die laairuim. Dis ʼn okkasie om om die Patrol te stap en jy sal seker padkos vir die toer wil inpak, maar dis die moeite werd.

Hulle maak net nie meer voertuie soos hierdie nie. Hulle waag nie meer nie en sal eerder inval met wat die tendense vereis. Veral daardie tendense waar alles kleiner moet wees.

Binne word die grootheid voortgesit en die aantal ruimte is die eerste ding wat mens optel. Waar jy ookal kyk word jy met spasie omring. Dis ʼn tipe throwback na hoe dinge was vóór ons die klein dingetjies in die lewe as normaal kom aanvaar het. Voor ons okay was met afskaling. Die sitplekke is massief, so ook die sentrale konsole van waar mens die temperatuur en musiek kan beheer. Beenruimte is volop en kopruimte ook. Die binneruim voel nie afgeskeep nie en Nissan het seker gemaak dat dit so bes moontlik toegerus is.

nissan,patrol,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury,power,v8,engine
Foto: Nissan SA

Maklike rit

Een van die nuwe Patrol se grootste besprekingspunte is sy enjin. Teen 5.6-liter is dit nogal ʼn grote, en die feit dat dit ʼn V8 enjin is beteken dat daar heelwat krag onder die enjinkap is. Maar miskien die grootste skok omtrent dit is dat daar nie enige turbo’s aan dit gekoppel is nie. Tipies van hoe dit in die ou dae gedoen was. Net jou regtervoet en lug wat die voertuig vorentoe stuur. Gelukkig vir die Patrol ontwikkel sy enjin ʼn stywe 298kW en 560Nm se wringkrag. Dis ʼn helse klomp krag, maar ʼn moet.

Die Patrol weeg ʼn monumentale 2.7 ton en die enjin moet kragtig wees om op die versneller se insae te reageer. Reg genoeg, ʼn turbo sou verseker dat die enjin amper dadelik reageer wanneer jy die versneller in die mat begrawe – ʼn punt waar die Patrol se teenstanders hom een voor is. Die sewe-spoed outomatiese ratkas reageer op dit wat die enjin doen, so daar is nie juis baie vinnige oorskakelinge nie. Om self van ratte te verwissel is ook ʼn bietjie van ʼn taak, maar die ratkas is nie te sleg wanneer dit vanself van ratte verwissel nie.

Die Nissan Patrol se onderstel is nog daardie ou skool leerraam argitektuur, wat dit bietjie van ʼn agterstand teen sy, kom ons sê, Duitse teenstanders gee. Die Patrol se onderstel is geskik vir ʼn bakkie, maar die voordeel is dat dit beter in 4×4 ekskursies is. Ja, die ritgehalte is sag en wanneer jy op die remme klim duik die neus ʼn bietjie vorentoe, maar dis om die harde suspensie wat met hierdie tipe onderstel gepaardgaan teen te werk. Stuurgevoel is ook aan die ligte kant en rol die lyf nogal baie, maar wanneer die voertuig sy ritme gevind het is daar nie iets om oor te kla nie. Klankdemping is goed en is daar net die gesing van die enjin wanneer jy voort suiker.

Nissan moes iewers iets van die suspensie prysgee sonder om van formidabele 4×4 vermoëns ontslae te raak – dit moet darem die grondvryhoogte 272mm akkommodeer. Die sagte suspensie sal seker nie in almal se smaak wees nie, maar dit werk in die Patrol.

nissan,patrol,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury,power,v8,engine
Foto: Nissan SA

Tegnologie en geriewe

Teen R1.4-miljoen bied die Patrol ʼn stewige pakket as standaard en sal mens diep moet grawe om dieselfde toerusting op Duitse teenstanders te kry; wat die prys opstoot. Die voorste sitplekke het beide verhitters én verkoelers, en skerms word in die voorste kopstutte geïnkorporeer vir agterste insittendes se kykgenot. Daar is ook vir hierdie passasiers, tussen die voorste sitplekke, kontrole vir USB- en temperatuurbeheer. Baanverwisseling gonsers, blindekol waarskuwing, en aanpasbare spoedbeheer vorm deel van die pakket.

ʼn Kleur raakskerm sit bo-aan die middelkonsole van waar mens jou multimedia kan beheer, sowel as satellietnavigasie. Sleutellose toegang en –aanskakel is ook daar, maar die Patrol moet doen sonder stop/ry tegnologoe én ʼn Eco ritmodus. Die vyfde deur kan elektronies beheer word.

Die Patrol verloor ʼn bietjie grond teen sy méér moderner teenstanders in die sin dat daar nie ʼn beheerknop is om deur die funksies te blaai nie. Instede daarvan is daar ʼn magdom knoppies oral oor versprei en kan dit bietjie oortollig wees om jou oë van die pad af te haal en jou gekose funksie te vind. Dis ʼn geval van een knoppie een funksie, so in terme van verbruikersvriendelikheid kan die Nissan Patrol met ʼn eenvoudiger uitleg doen.

Slotsom

Die Nissan Patrol, lyk dit, is soos ʼn vis uit die water in vandag se wêreld. Dit staan uit soos ʼn seer toon en sy enjin voldoen nie aan dit wat die moderne wêreld vereis nie. Baie soos die musikante van ʼn paar dekades terug wanneer hul musiek vandag gespeel word. Hul musiek word net deur ʼn geselekteerde gehoor geluister, maar ʼn gehoor wat nog die positiewe boodskap van musiek waardeer. Die Patrol speel nie die moderne speletjie baie goed nie, maar dit gee nie voor om iets te wees wat dit nie is nie.

Vandag se kunstenaars kom en gaan. Sommige bly vir ʼn tydjie langer, terwyl ander eenvoudig net one-hit wonders is. Maar die kunstenaars wat deur die jare gekom het, wie dit reggekry het dat hul musiek onverpoos oor die luidsprekers blêr… dis hulle wat dit in die bedryf kom maak het. Hul bydrae sal vir altyd onthou word. En hierdie Nissan Patrol met sy ou DNA? Wel, maak nie saak hoe graag ‘vereistes’ hierdie tipe voertuie met hul groot enjins en eenvoudig, dog effektiewe, binneruime wil begrawe nie, hulle sal altyd daar wees. Of dit nou as fisiese voertuie is of as ʼn gedagte na die goeie ou dae, voertuie soos die Patrol se lof sal altyd besing word.

nissan,patrol,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury,power,v8,engine
Foto: Nissan SA