Triton hou sy lyf atleet

triton,mitsubishi,triton athlete,athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck,japan
Foto: Charlen Raymond

Wayde van Niekerk kan gaan slaap, want die Mitsubishi Triton is die eintlike atleet wat almal moet dophou.

Sedert die nuwe Mitsubishi Triton in Januarie 2017 kom land het, kon die bakkie net nooit enige noemenswaardige impak op ons bakkie-mark maak nie. En dis glad nie omdat die Triton sleg is nie, want die hemele hoor dis in ʼn paar opsigte beter as die markleiers. Die Toyota Hilux en Ford Ranger mag nou wel elke maand met die louere wegstap wanneer dit by verkope kom, maar as ons moet praat oor rygenot en gemak agter die stuur dan is die Triton hulle ʼn hele paar stappe voor.

Ongeag die feit dat verkope maar tralala is, het Mitsubishi Suid-Afrika besluit om tóg ʼn spesiale model plaaslik bekend te stel en heet die model die Athlete. Gedek in treffende kleure en ʼn baie opvallende ontwerp poog die Triton Athlete dan om verlore grond op te maak.

Swart & oranje

Die treffendste van die Triton Athlete se pakket is daardie Gun Metal grys waarmee die bak ingekleur is. Dit werk goed met die pikswart 17-duim wiele met hul aggressiewe uitkyk oor die lewe. Verder is daar die oranje en swart plakkers wat alom die bakkie se lyf strek. Agter is die bakkie nie veel anders as die res van die reeks nie, maar daar is ʼn ‘Athlete’ plakker en die algehele siening is meer sportief.

Wat wel lekker opval is die plastiek roll bar instede van ʼn yster een. Dit lyk sportief, vloei mooi saam met die bakkie se ontwerp, en maak dat die bakkie goed uitstaan in ʼn see van soortgelyke visse.

Aan die binnekant is die binneruim in swart beklee, maar daar is oranje stiksels vir daai ekstra sportiewe houding. Die sitplekke is in swart leer getooi, maar die middel stroke is in oranje uitgedos. Agter die stuurwiel is lekker groot spane waarmee mens ratte kan verwissel, maar dis ongelukkig aan die stuurkolom vas en draai nie saam met die stuurwiel nie.

triton,mitsubishi,triton athlete,athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck,japan
Foto: Charlen Raymond

ʼn Klad of twee

Die Triton Athlete se binneruim is baie goed uitgelê en is alles lekker binne bereik, maar daar is ʼn paar goed wat opgeval het. Alhoewel die bakkie lekker hoog en groot is, is die ruimte vir insittendes ietwat aan die spaarsamige kant. Wanneer ʼn bestuurder, wat langer as 1.85m is, die sitplek in sy ideale posisie het, is beenruimte vir die passasier direk agter bietjie knap.

Dan is daar die mediastelsel wat, as ons nou regtig eerlik moet wees, spoedig moontlik vervang moet word. Dit doen wel sy werk en kan mens jou foon via Bluetooth konnekteer (slegs wanneer die bakkie stilstaan), maar die uitleg en verbruikersvriendelikheid steek af met dit wat die kompetisie bied. Die vensters word elektronies op en af gerol en word die kantspieëls ook so beheer.

Buite kom die laaibak, met sy lekker diep met dravermoë van 1 030L, standaard met een van daardie hidroliese bedekkings; wat beslis help dat geen stof of ongewenste elemente kan inkom nie.

triton,mitsubishi,triton athlete,athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck,japan
Foto: Charlen Raymond

Wat ʼn rit!

Mitsubishi het besluit om sy beproefde 2.4-liter diesel enjin net so oor te dra en in die Triton Athlete in te span. Kragvlakke is onveranderd op 133kW en 430Nm – dieselfde in die res van die reeks. Alhoewel die Athlete die atleet in die groep is, was die 0-100km/h net nooit beproef nie. Nie omdat daar nie tyd was nie, maar kom nou… Is dit werklik nodig om Mitsubishi se 11.8sek te beproef? En dit op ʼn bakkie? Nog minder was dit nodig om die toetsbaan op te soek om die 177km/h top spoed te jaag.

Want kom nou, hoekom wil jy atleties wees in ʼn bakkie wees, al is dit ʼn atletiese bakkie.

Maar die Triton Athlete spog met iets baie beters. Die rit op hierdie bakkie is baie sagter as enige van die Hilux of Ranger en voel dit nie of mens ʼn bakkie ry nie. Sommige sal nie hiermee saam stem nie en sal eerder die bakkie-gevoel bo gemak verkies, maar gegewe dat bakkies deesdae vir leefstyl doeleindes aangeskaf word, doen die Triton ʼn baie goeie job in daardie aspek. En dis veral passasiers op die agterste sitplek wat dit sal geniet, want weg is daardie gestamp en geskud wat ander bakkies mee sukkel. Die Triton Athlete is met dieselfde tipe suspensie toegerus wat mens op die Hilux en Ranger sal kry, maar minus daardie harde ritgehalte.

En dan natuurlik is daar ook Mitsubishi se Super Select II 4×4 stelsel wat aan ʼn vyf-spoed outomatiese ratkas gekoppel is.

triton,mitsubishi,triton athlete,athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck,japan
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Die Mitsubishi Triton staar ʼn groot berg in die gesig hier in Suid-Afrika. Nie net moet dit teen die Hilux en Ranger diens doen nie, maar dit moet ook ʼn trotse nasie van sy vermoëns oortuig. Hier het jy ʼn bakkie wat vir al die regte redes goed is, maar die konnetasie wat aan iets anders as ʼn Toyota, Ford, of Mercedes-Benz gemaak word kan iemand soos Mitsubishi net nie oorkom nie.

En daarin lê hul knak, want maak wat hulle wil, dis ʼn geveg wat nie oornag gewen sal word nie. Mens eet die olifant stukkie vir stukkie, maar Mitsubishi sal drasties en vinnig iets van stapel moet stuur om daardie verlore grond terug te wen. En dié atleet is die een om die span te lei.

triton,mitsubishi,triton athlete,athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck,japan
Foto: Charlen Raymond