V6 X-Class: Merc se premium bakkie

Mercedes-Benz,X-Class,X-Klas,mercedes,bakkie,truck,manskap
Foto: Charlen Raymond

Vroeër in 2018 het Mercedes-Benz sy nuwe X-Class in Suid-Afrika bekend kom stel. Hier het jy ʼn bakkie wat nie net iets nuut in die mark is nie, maar ook – wat Merc noem – die eerste premium bakkie is. En dit wil gedoen wees, want bakkies is mos maar rof en taai. Gemaak vir daardie ongenaakte bedrywighede wat enjin en onderstel tot die uiterstes beproef.

Maar die X-Class doen dit anders.

Ja dis ʼn bakkie, maar die doel daarvan is anders as dié wat die Toyota Hilux en Ford Ranger aan blootgestel word. Hier speel Mercedes-Benz ʼn speletjie waar leefstyl en gemak voorkeur geniet. Die model wat vroeër vanjaar hier losgelaat was deel vele aspekte met die Nissan Navara, maar die nuwe model het ietwat meer Duitse invloed as sy kleiner stalmaat.

Enjin en padgedrag

Die kleiner model in die reeks word met ʼn 2.3-liter diesel enjin wat aan óf
ʼn ses-spoed handratkas óf ʼn sewe-spoed ratkas gekoppel is wat uit Nissan se geledere kom. Die probleem was dit die bakkie net nooit daardie hekkie kon oorbrug dat dit nie ʼn ‘vollende’ Merc is nie, want die konnotasie dat dit 
ʼn fêncy Nissan is het baie sterk navore gekom. Dis iets wat Mercedes-Benz met die nuwe V6 model moes aanspreek en het daarom besluit om hul eie enjin, ratkas en dryfas in die nuwe bakkie te sit.

Die turboaangejaagde 3.0-liter diesel enjin skop ʼn stewige 190kW en 550Nm se wringkrag uit en jaag die bakkie van 0-100km/h in 7.9 sekondes. Nie dat dit enigsins van belang is nie, maar vir iets so groot soos die X-Class wil dit gedoen wees. En, seg Merc, kan die bakkie ʼn topspoed van 205km/h bereik.

Dis warm syfers, maar as jy ligvoet ry sal jy darem ʼn gemiddelde verbruik van 9.0 L/100km op die ritrekenaar kan aanteken.

Lees: Nuwe X-Klas maak sy buiging

Die X-Class weeg ʼn hele 2 249kg, wat glad nie lig is nie. Om dit teen te werk het Mercedes-Benz die stuurgevoel lekker lig gemaak sodat mens dit maklik en gemaklik kan draai. Die probleem hiermee is dat stuurgevoel raak nie gewigtiger soos mens spoed optel nie en is daar baie speling wanneer jy aan die stuurwiel draai. Bakrol is ook duidelik voelbaar.

Tog wanneer mens die versneller in die vloer begrawe, skiet die bakkie lekker vorentoe. Daar is ʼn bykans geen twyfel in die enjin se reaksies nie en is dit lekker om só vinnig jou gekose spoed te bereik. Die sewe-spoed outomatiese ratkas, ook ʼn Merc produk, skakel glad oor en is daar selfs spane agter die stuurwiel waarmee mens ratte kan verwissel.

Die X-Class is ook met Mercedes-Benz se eie 4×4 stelsel toegerus, wat ook die Dynamic ritmodus insluit. Dynamic laat toe dat mens tussen verskeie dryfstelsel verstellings kan kies om ‘n gekose verrigting uit die V6 X-Class te kry. Daaronder is Sport en Off-Road wat presies doen wat hul name sê, maar Off-Road laat toe dat mens die bakkie met meer gemak oor rowwe terrein kan stuur. In samewerking met die 4×4 stelsel doen Off-road sy ding om oor bykans alles te klim en klouter. Die grondvryhoogte is ʼn goeie 222mm.

Mercedes-Benz,X-Class,X-Klas,mercedes,bakkie,truck,manskap
Foto: Charlen Raymond

Verbeterde binneruim?

Een van die X-Class se grootste kwelpunte was sy so-so binneruim wat nie juis aan verwagtinge voldoen het nie, maar die nuwe X350 d spreek dit ongelukkig nie aan nie. Die materiale wat ingespan is steeds nie op Mercedes-Benz standaard nie, alhoewel mens die Mercedesrigheid kan uitken danksy die ontwerpstaal. Bo-op die middelkonsole is ʼn kleurskerm wat alle informasie weergee en kan mens opdragte op dié skerm via die stuurwiel of die raakblad tussen die voorste sitplekke beheer.

Daar is ook steeds geen koppiehouers tussen die sitplekke nie, slegs in die deure. Dit werk vir wanneer jy ‘n bottel water of koeldrank het wat mens sommer so aan die nek kan uitpluk, maar dit sukkel bietjie wanneer jy warm moet uitlig. (Maak maar gereed om frustreerd te raak.) Die panele voor die voorste passasier lyk na ruimte en spasie wat vermors is en kon Merc mos darem ʼn plan gemaak het om ‘n tweede bêrekassie daar te installeer.

Voor die ratkiere is die beheerknoppe vir die temperatuur en die 4×4 stelsel, maar die plasing daarvan kon ʼn bietjie hoër wees vir gemakliker gebruik. Wanneer die bakkie aan’t beweeg is en die ratkiere is in D (Drive), dan is dit maklik om die knoppies te druk en te draai, maar afgesien daarvan laat die uitleg van die voorste paneel maar veel te wense oor.

Mercedes-Benz,X-Class,X-Klas,mercedes,bakkie,truck,manskap
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Baie mense is van mening dat Mercedes-Benz nooit ʼn bakkie moes bou nie. Dalk is hulle reg, maar ʼn premium vervaardiger soos Merc het nie nodig om vir enigiets terug te staan nie. Ja, ʼn bakkie is bietjie uit hul diepte uit en is daar heelwat werk om te doen vir alvorens hulle werklik as ʼn premium alternatief gesien kan word, maar hulle is op die regte spoor.

Beskikbaar in Progressive en Power afwerkingsvlakke, is die X-Class X350 d 4MATIC nie ʼn slegte keuse in ons mark nie. Daar sal natuurlik met groot gefrons na die bakkie en sy eienaars gekyk word, maar afgesien van die feit dat dit ʼn Mercedes bakkie is is daar niks om die bakkie af te skiet nie. Dit is duurder as ander bakkies in ons mark (traan my oë dan nou…), maar Mercedes-Benz wil die premium game speel en die X-Class X350d 4MATIC is die eerste groot hou wat hy slaan.

Pryse:

Mercedes-Benz X-Class X350d 4Matic Progressive – R914 711
Mercedes-Benz X-Class X350d 4Matic Power – R983 711

Pryse sluit in ʼn ses-jaar/100 000km onderhoudsplan in

Mercedes-Benz,X-Class,X-Klas,mercedes,bakkie,truck,manskap
Foto: Charlen Raymond