Video: Raikkonen ‘probeer nie’ eens nie

Manskap,f1,formula 1,kimi raikkonen,motor sport,sport,spain,barcelona,
Foto: Verskaf

Die derde dag van voor-seisoense toetse vir die 2019 Formule 1 seisoen het gister tot ʼn einde gekom en was dit Kimi Raikkonen wat vir die grootste verrassing gesorg het.

Raikkonen ry vanjaar vir Alfa Romeo nadat hy deur Charles Leclerc by Ferrari vervang is. Maar die skuif na Ferrari se B-span toe het glad nie die Finse jaer van stryk gebring nie en was hy die eerste jaer in 2019 wat ʼn rondte van die Circuit de Barcelona-Catalunya in onder 1min18s kon voltooi. Sy tyd van 1min17.762 was vir die grootste deel van die dag die vinnigste, maar was later die dag deur Daniil Kvyat van Toro Rosso Honda met 0.058s verbeter.

Hoekom almal eerder oor Alfa Romeo as Toro Rosso se tyd praat, is omdat die span nog laas jaar as Sauber bekend gestaan het en nie ʼn té groot impak op die veld gemaak het nie. Vir 2019 het Ferrari dit basies oorgeneem en trek die span nou voordeel uit Ferrari se kennis en insae oor F1 in die moderne era. Daarom, dan, dat Raikkonen die tyd kon opstel wat hy aangeteken het.

Lees: Raikkonen en Leclerc… eintlik nogal poëties

Oor sy tyd het Raikkonen gesê: “Ons het nie enige kwalifisering tipe rondtes gedoen nie, ons het net die verskillende bande getoets. Maar ek dink dat die kar goed gebalanseer is en dat dit goeie greep het. Sodra ons begin druk sal ons sien waar ons staan.

“Ons druk nie te veel nie, ons probeer net goed. Maar ja, dit was pret.”